Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Musiek
The National weer op hul rou beste

The National

I Am Easy to Find

* * * *

Jy kan enige National-liedjie binne sekondes uitken – aan die onmiskenbare hartkloppings van Bryan Devendorf se koel, wiskundig sekure Steve Reich-geïnspireerde tromslae; aan daardie eerste kenmerkende senutrekking van ’n elektriese kortsluiting in Aaron Dessner se kitaar of aan Matt Berninger se warm bariton wat jou ore bereik soos die blik van ’n weemoedige labrador.

Maar hierdie klanke haal nie almal oor vir ekstase nie. Op ’n WhatsApp-musiekgroep waar ek gereeld entoesiasties met ’n paar ander skadelose fanatici saamstem en stry, is daar geen band wat vir meer heftig uiteenlopende reaksies sorg as The National nie – ’n verdeeldheid wat die internet onder die breër luisterpubliek weerspieël.

The National is al op ons groepie beskryf as “vegan Nick Cave”, terwyl Clive Smith reken dis fopspeenmusiek vir fopspene. Toe hy saam met my The Unhappy Hour op Bush Radio aangebied het, het hy geweier om hulle musiek te speel. Desmond Painter noem hulle “highbrow jollers” en reken Devendorf verhef perkussie tot “’n metafisiese beginsel” op hulle High Violet (2010), wat volgens hom rock se antwoord op Schubert se Wintterreise-liedersiklus is.

Die grootste polariserende faktor is waarskynlik Matt Berninger se stem en self-ironiese soms selfveragtende lirieke, wat draai om middeljarige magteloosheid, gefnuikte romantiek, middelklasverleenthede en die catch 22’s van begeerte.

Dian Wessels het al, in ’n poging om rasioneel vrede te maak in die groepie, aan die hand gedoen dat The National dalk net vir ’n sekere melancholiese persoonlikheidstipe werk – INTP (Introvert, Intuitive, Thinking, Perceiving) op die Myers-Briggs-profiel. (Hy het ’n punt. Ek is ENFP, ’n ekstroverte dissipel dus.)

Die grootste polariserende faktor is waarskynlik Berninger se stem en self-ironiese soms selfveragtende lirieke, wat draai om middeljarige magteloosheid, gefnuikte romantiek, middelklasverleenthede en die catch 22’s van begeerte. Mense erken klaarblyklik óf hul eie intiemste dilemmas daarin en vind daarmee saam ’n soort vergifnis en vertroostende begrip óf hulle ervaar dit as die geroetineerde, neulerige melancholie van ’n uiters onindrukwekkende karakter, wat alewig ’n emosionele ontkleedansie voor hulle wil doen.

As jy tot die laaste faksie behoort, sal “I Am Easy to Find” nie jou kop swaai nie. Maar vir aanhangers daag dié Amerikaanse vyfmanskap se agtste album soos ’n rooikruispakkie vol verrassings uit die troebel hemel op. Ná hul vorige een, “Sleep Well, Beast” (my album van die jaar in 2017), was die groep van plan om ’n blaaskans te geniet. Maar toe verskyn Mike Mills – die Oscar-benoemde regisseur-draaiboekskrywer van 20th Century Women – op die toneel en vra om saam met die groep te werk.

Hulle is gretig en stuur vir hom liedjies wat nog nie klaar is nie en hy vir hulle beeldmateriaal. En uit die oor-en-weer ontstaan ’n hele formidabele nuwe National-album én ’n gelyknamige 26 minuut lange kortrolprent deur Mills.’n Ander vooraanstaande National-aanhanger, Alicia Vikander (Ex Machina, The Danish Girl), vertolk die hoofrol in die rolprent van ’n vrou wie se hele lewe van die wieg tot haar sterfbed in ’n swart-en-wit dromerigheid voor die kyker afspeel.

Maar dis nie net die groep se werkswyse wat dié keer anders was nie. Hulle nuwe inspirasie het ook gelei tot 16 snitte waarin Berninger die kollig met verskillende fantastiese vrouestemme deel: Gail Ann Dorsey (gereelde baskitaarspeler en agtergrondsangeres vir David Bowie), Sharon van Etten, Lisa Hannigan, Mélissa Laveaux, Kate Stables (This Is the Kit) en verskeie ander. Ook die Brooklyn Jeugkoor dra by tot hul mees ryk georkestreerde plaat nóg. Berninger se alleenspraak vind in al die liedjies nuwe nuanses en kontrapunte in sy vroulike sangvennote. En dit is dikwels die vroustemme wat jou asem wegslaan en alles nuut kleur. Dorsey se stem stroom “You Had Your Soul with You” binne soos sonskyn ’n donker kamer en soen Berninger se angstige berou sag op die mond.

Dit is dikwels die vroustemme wat jou asem wegslaan en alles nuut kleur. Gail Ann Dorsey se stem stroom 'You Had Your Soul with You' binne soos sonskyn ’n donker kamer en soen Berninger se angstige berou sag op die mond.

Die moeiteloos sewe minuut lange “Not in Kansas” voel soos ’n epiese nuwe klein mylpaal vir die groep. Dit wieg die meelewende luisteraar tussen diep berou oor sy noodwendig verspeelde, onuitpluisbare lewe en die warm gevoel van wegdommel as kind op die agtersitplek van die motor tussen al jou nabyste mense.

Dit alles op die maat van ’n meesleurende kitaarmotief wat die liedjie soos suurdeeg en verlange deurtrek, maar elke nou en dan saam met Berninger se gedagtes onderbreek word deur ’n droewe engelkoor (Dorsey, Hannigan en Stables), wat verklaar dat dit tyd is om in iets anders as ’n mens te verander. “Her house felt big, small, scary nice,” soos Mills dit in een van die kortrolprent se onderskrifte stel.

I Am Easy to Find is The National met al hulle ou tematiese obsessies en alles wat hulle enig in hul soort maak, saam met ’n klomp nuwe, opwindende elemente. Dis rou, weerloos, beeldskoon, verbete en bitter gesofistikeerd tegelyk. ’n Grote onder een van hulle grootstes.

Top-snitte:

  • “You Had Your Soul With You”
  • “Quiet Light”
  • “Oblivions”
  • “Hairpin Turns”
  • “Not in Kansas”
  • “Rylan”
  • “Light Years”

Mike Mills se kortrolprent I Am Easy to Find is gratis op YouTube beskikbaar gestel:

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.