Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Musiek
Theuns Jordaan dagvaar wéér vir Coleske Artists

Die sanger Theuns Jordaan en Coleske Artists kruis weer swaarde, dié keer oor geld wat Jordaan beweer die platemaatskappy hom skuld.

Hy dagvaar Coleske Artists vir miljoene vir onder meer hanteringsfooie wat hy, luidens hofstukke, meen hom toekom en die maatskappy vir hom “weggesteek” het.

Kobus van Niekerk, Coleske Artists se prokureur, sê hulle sal die eis teenstaan.

Theuns Jordaan tydens sy vorige hofsaak teen Coleske ArtistsFoto: Deaan Vivier

Brendon Hargroves, die maatskappy se finansiële direkteur, sê in ’n verklaring van Coleske Artists hulle het reeds “aan Theuns probeer verduidelik dat hy die kat aan die stert beet het”.

Luidens Jordaan se hofstukke, wat by die hooggeregshof in Pretoria ingedien is, het hy kopiereg op vier albums wat tussen 2007 en 2013 uitgereik is.

In 2007 het hy en die verweerder, verteenwoordig deur Arnold Coleske as hoof van Coleske Artists, ’n mondelinge ooreenkoms aangegaan.

Hiervolgens, voer Jordaan aan, sou hy musiekopnames maak wat verkoop sal word, terwyl Coleske Artists kopieë hiervan sou maak en dit verkoop.

“Die eiser (Jordaan) sou die verweerder vergoed vir koste aangegaan met die vervaardiging van kopieë van die opnames.

“Die verweerder sou die opnames verkoop en aflewer aan klante,” lui die hofstukke.

Coleske Artists sou ook die verkoopsprys bepaal en dan tantième vir kopiereg aan Jordaan betaal.

Jordaan sou op sy beurt die verspreidingskoste dra.

“In die tydperk van 2007 tot September 2016 het die verweerder ’n verspreidingsfooi, bereken teen 27,5% plaas van 15%, afgetrek van bedrae verskuldig aan die eiser,” lui die hofstukke.

Jordaan gee toe dat hy nie in daardie stadium beswaar daarteen gemaak het nie.

Volgens hom het Coleske Artists egter in daardie tyd sowat R22 miljoen gemaak uit die verkope en aflewering van kopieë van Jordaan se opnames, maar hul state het aangedui dat hulle net sowat R20 miljoen verdien het.

Jordaan meen dat hy dus, in ag genome die verspreidingsfooi wat hy sou moes betaal, met sowat R1,4 miljoen in gedoen is.

Alternatiewelik, voer die hofstukke aan, was daar ’n vertrouensverhouding tussen hom en Coleske Artists, wat verbreek is toe hulle, sonder Jordaan se medewete albums verkoop het en ’n 10%-hanteringsfooi daarop gehef het.

Dié bedrag, wat die sanger ’n “geheime wins” noem, beloop meer as R2 miljoen.

Jordaan beweer ook hy was onbewus daarvan dat Coleske Artists ’n ooreenkoms met Electromode gesluit het om van sy opnames in digitale vorm op iTunes te verkoop.

Hy het glo niks van dié geld gekry nie.

Daarom eis Jordaan in die tweede deel van sy dagvaarding dat die verweerder bekend moet maak hoeveel geld van Electromode ontvang is en sy deel aan hom te betaal.

Hoewel Coleske Artists nog hul verweer moet indien, sê die maatskappy in ’n verklaring dit is jammer dat Jordaan “nou weer met ’n ongegronde eis vorendag kom, nadat hy drie jaar gelede hom onsuksesvol tot die hof gewend het oor sy uitsluiting van AIG (Afrikaans is Groot) vanweë dieselfde onderlinge geskil wat hy nou weer opper”.

Coleske het hier verwys na die 2016-hofsaak waar Jordaan ’n dringende aansoek gebring het om weer tot die AIG-konserte toegelaat te word, nadat hy ná ’n geskil uit die konsert-reeks geskuif is.

Die hof het destyds sy aansoek van die hand gewys.

Jordaan het later weer deel van die konserte geword, maar dit blyk dat dieselfde kwessies nou weer kop uitgesteek het.

In Coleske Artists se verklaring oor die nuwe dagvaarding, sê die maatskappy: “Die musiekbedryf is ’n interessante omgewing met komplekse persoonlikhede. Ons volstaan by ons beginsels om elke individu se talente te respekteer en ten alle tye die voordeel van die twyfel te gee totdat ’n hof die uiteindelike beslissing maak”.

Hul “wens” is dat Jordaan, of enigiemand wat voel hulle is te nagekom, die nodige regskanale gebruik om “vrede en berusting” te vind.

* Jordaan se prokureur en woordvoerder het nog nie kommentaar gelewer nie.

Meer oor:  Theuns Jordaan  |  Coleske Artists  |  Hanteringsfooie  |  Platemaatskappy  |  Geld  |  Skuld
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.