Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Musiek
Thomas Rajna (92) ‘het menswees baasgeraak’

Die Hongaars-Suid-Afrikaanse pianis-komponis dr. Thomas Rajna (92) is Vrydag in Kaapstad dood. Familie, vriende en van sy oudstudente vertel aan Christiaan Boonzaier hul geliefde “Tommy” laat ’n reuse-leemte.

In 1988, in ’n episode van die destydse SAUK-kunsprogram Collage, het dr. Thomas Rajna ’n profiel van sy lewe en werk as volg afgesluit:

“Ek is diep daarvan oortuig dat dít wat ons doen en dít wat ons is, inmekaar verweef is; daarom werk ’n mens nie aan jou karakter nie. Jy werk aan ’n vaardigheid, ’n roeping, en, die belangrikste, jou persoonlikheid, deur dinge te dóén.

“My persoonlike credo is dié van selfvervulling. Dit klink miskien selfsugtig, maar ons het almal potensiaal en so min van ons kry die geleentheid om dit te ontgin. Ek is seker dat as jy die potensiaal in jou innerlike realiseer, jy ’n meer dienlike lid van die samelewing en ’n meer geïntegreerde persoon word, iemand met wie dit makliker is om mee saam te leef, iemand wat menswees baasraak.”

Dít is g’n leë woorde nie – hy hét menswees baasgeraak. Só sê familie, vriende en oudstudente van hul geliefde “Tommy”, wat Vrydagoggend in die diepnag in die Vincent Pallotti-hospitaal in Kaapstad dood is.

Luidens ’n familieverklaring het die 92-jarige ’n dag tevore by sy huis gestruikel en sy heup gebreek. Hy is in die hospitaal opgeneem, maar is ’n paar uur later oorlede.

“Baie dankie aan almal vir jul hartlikheid en simpatie. Dit maak saak,” lui die verklaring wat deur drie van sy vier kinders – Daniel, Jessica en Trilby – uitgereik is. Sy oudste seun, David, is in 1996 dood.

“Hy het geruime tyd al fisiek gely en dit het vir hom al hoe moeiliker geword om by sy klavier te kom.

“Hy het egter – so skerpsinnig soos altyd – daarop aangedring om verlede Sondag (11 Julie) vir my die laaste beweging van Schumann se Fantasie te speel en opgewonde te verduidelik hoe dapper en seldsaam dit vir ’n komponis is om met ’n stadige beweging te eindig.”

Rajna het luidens die verklaring toe ook ’n “impromptu-les” oor Chopin se Étude no. 3 aangebied.

“Ek het probeer om hom voor die klavier uit te kry omdat hy uitasem was, maar hy het net vir my beduie om te gaan en ek is daar weg met grepe van Chopin wat nog in die tuin en in die omgewing opgeklink het.”

Sy seun Daniel, wat veral plaaslike dansliefhebbers as ’n kranige balletdanser ken, het aan Netwerk24 gesê sy pa was beslis ’n “legende”.

Hy het gesê dat Rajna benewens sy drie kinders deur sy tweede vrou, Ann, en twee kleinkinders, Finn en Felix, oorleef word.

“Ons is tans besig om ’n gedenkdiens te reël.”

‘Hy’t geweet hoe om te leef’

Rajna is op 21 Desember 1928 in Boedapest, Hongarye, gebore. Sy dokter-pa was ’n groot musiekliefhebber en het die jong Rajna gereeld na die opera vergesel en later ook aangespoor om met klavierlesse te begin.

In ’n gesprek met Gottfried Maas vir Die Burger het Rajna vertel dat hy op 14 al sy eerste komposisie geskryf het. Twee jaar later, in 1944, terwyl hy en sy gesin weens die oorlog in ’n kelder geskuil het, het hy sy hand aan die skryf van ’n klavierkonsert gewaag, aldus ’n onderhoud met hom op die musiekwebwerf ClassicSA.

Dr. Thomas Rajna het tot verlede jaar nog gereeld video’s van sy klavierspel op sy eie YouTube-kanaal, trajnamusiccpt, opgelaai. Foto: YouTube

Die doodsnikke van die Tweede Wêreldoorlog sou egter sy mees tragiese wees: Sy pa, ’n Jood, is in 1945 deur Hongaarse Nazi’s vermoor; sy lyk is vermoedelik in die Donaurivier gegooi. Dít het ’n reuse-impak op Rajna se lewensuitkyk gehad – en hy sou ook later sy Tweede Klavierkonsert aan sy pa opdra.

“Ek veronderstel my ervaring en verlede het ’n groot hand in hoe ek nou na dinge kyk,” het Rajna in die Collage-profiel gesê. Dit is in 1988 rondom sy 60ste verjaardag uitgesaai.

“Ek beskou myself as ’n oorlewende – iemand wat ondanks moeilike omstandighede oorleef het, ek verwys na die omstandighede en die nasleep van die Tweede Wêreldoorlog.

“Die feit dat ek ondanks moeilike omstandighede toegelaat is om voort te bestaan, het my hele lewensuitkyk beïnvloed.”

Dit was ’n besonderse lewensuitkyk, sê Sally Smith, regisseur van die Collage-profiel.

“Ek het hom beskou as ’n dierbare mens, ’n vriend – en hy is, of moet ek sê was, een van ons voorste Suid-Afrikaanse komponiste, hy en Peter Klatzow, met wie hy baie goeie vriende was.”

Smith sê hoewel hy ’n besonderse mens, pedagoog, lektor, konsertpianis en komponis was, maak nie genoeg mense melding van hoe “geweldig, geweldig intelligent” hy was nie.

“Hy was vreeslik wyd belese. As jy toegang het tot sy Facebook en jy blaai daar terug, sal jy sien hoe geweldig baie en diepe insigte hy daar kwytgeraak het. Hy was eintlik ’n polimorf – ’n wysgeer, ’n volronde mens wat baie vrygewig met sy kennis was en altyd tyd gehad het om iets aan ’n mens te verduidelik.”

Smith sê sy dink met deernis terug aan Rajna wat ’n première van sy of Klatzow se werk bywoon, hy wat “almal daar ken en daar staan met sy wolhoedjie en glimlag”.

Sy sê sy het ná sy dood die Collage-profiel weer op Facebook geplaas sodat mense weer na hom kan luister.

“Dít is Tommy, hy het geweet hoe om te lewe.”

Van Boedapest en Londen na Kaapstad

Rajna het aan Maas vertel dat hy sy Joodsheid moes wegsteek om in 1944 ’n student aan die Franz Liszt-musiekakademie in Boedapest te word. In 1947 het hy na Londen verhuis om van sy geboortestad se “bose herinneringe” te ontsnap. Hy sou eers in 1989 ná die val van die Ystergordyn na Boedapest terugkeer. Dit was ’n “ongemaklike, verontrustende gevoel”, het hy gesê.

Hy het sy studies aan die Royal College of Music voortgesit en daar sy voete as konsertpianis én komponis gevind. Benewens opnames van al Igor Stravinsky en Enrique Granados se werk vir soloklavier, het hy veral bekend geword vir sy uitvoerings van werke deur Rachmaninoff, Messiaen, asook sy landgenote Franz Liszt en Béla Bartók. In 1951 het hy die eerste uitvoering van Bartók se Derde Klavierkonsert in Londen gelewer.

Hy het hom ook as pedagoog gevestig en naas betrekkings by die Universiteit van Surrey en die Guildhall-musiek-en-dramaskool, ’n pos as klavierdosent aan die Universiteit van Kaapstad (UK) se Suid-Afrikaanse Musiekkollege in 1970 aanvaar. Die Amerikaanse pianis en pedagoog Lamar Crowson het hom daarheen gelok. Rajna sou ook later hier sy doktorsgraad verwerf.

Dr. Sjoerd Alkema, pianis en eienaar van die musiekonderneming Allmusic, was in 1971 in sy eerste jaar ’n student van Neil Solomon. Alkema is in sy tweede jaar deur Rajna geslyp nadat Solomon met sabbatsverlof gegaan het.

“Wat vir my uitstaan, is al die nuwe repertorium waaraan hy my blootgestel het, veral Bartók en Prokofieff,” sê Alkema.

“Ek onthou ook sy geweldige perkussiewe aanslag op die klavier, sy geweldige helder klank, veral in moderne werke en van Suid-Amerikaanse komponiste. Ek het ’n sterk aanslag – maar hy!

“Dit het my ook verbaas hoe sy hand bo-oor die swart klawers beweeg met vingersettings wat ek net nog nooit kon naboots nie.”

Alkema onthou hy het daardie jaar ’n Rachmaninoff-prelude gespeel.

“Tommy het toe vir my gesê hy het in sy hele lewe nog nooit die op. 23- en op. 32-preludes gespeel nie.

“ ’n Maand later het hy die hele op. 23 en die hele op. 32 in twee etensuurkonserte voorgedra. Ek was stomverbaas!

“Hy’t my so bedank dat ek hom aan die preludes ‘voorgestel’ het, juis omdat hy nog nooit sy hande daaraan gewaag het nie.”

Hy sê hy sal sy tyd met die “dierbare” Rajna altyd koester.

‘Hy het direk tot die hart gespreek’

Rajna sal ook lank onthou word as een van Suid-Afrika se voorste kunsmusiek-komponiste: Talle orkeswerke, kamermusiekstukke, koorwerke, twee operas, ’n ballet en talle concerto’s – onder meer vir onderskeidelik klavier, harp, klarinet en viool – het uit sy pen gevloei.

Hy laat ’n “groot leemte in die wêreld van klassieke musiek”, sê prof. Hendrik Hofmeyr, hoof van komposisie aan die UK se musiekkollege.

“Hy was nie net een van ons begaafste komponiste en pianiste nie, maar ook ’n wonderlike, gulhartige mens met ’n onblusbare lewenskrag, en ons sal hom met ’n seer hart mis.”

Hofmeyr sê hy het Rajna leer ken toe hy self ’n student aan die musiekkollege was en hy Rajna se lesings en uitvoerings kon bywoon.

“Ons het onder meer ’n groot bewondering vir die laat werke van Gabriel Fauré gedeel, en ek onthou nou nog sy lesings – toe nog in ’n swaar Hongaarse aksent – oor dié halfvergete skatte.

“Sy magistrale opnames van onder meer monumentale werke soos Liszt se Transendentale Etudes (waarvoor hy ’n Artes-prys gewen het) en Messiaen se Vingt regards sur l’enfant-Jésus het toe reeds aan hom ’n amper mitiese status verleen onder die Kaapse studente en musiekliefhebbers, en hierdie reputasie is deur die jare met sy voortreflike optredes hier en oorsee verder uitgebou.”

Hofmeyr sê “dit is ’n jammerte” dat sy sukses as pianis en pedagoog in ’n mate sy bydrae as komponis in die aansien van die wyer publiek ietwat oorskadu het.

“Werke soos die twee klavierkonserte, die onweerstaanbare Harpkonsert, die sprankelende Divertimento Piccolo en die pragtige liedere en koorwerke verdien ’n ereplek in die klassieke kanon, en tel vir my onder die mooiste Suid-Afrikaanse kunsmusiek, gekenmerk deur melodiese en harmoniese trefkrag, verbeeldingryke instrumentasie en idiomatiese vokale gebruik.

“In ’n tyd toe dikwels steriele eksperimentering die botoon gevoer het, het hy met onverskrokke oortuiging die gesofistikeerde tonale musiek-idioom wat hy van Bartók en dié se tydgenote geërf het, verder ontgin en ontwikkel om ’n eie taal te skep wat direk tot die oor, die hart, die verstand en die gees spreek.

“Om dít te vermag, is iets wat min komponiste beskore is en maak sy musikale nalatenskap vir my van onskatbare waarde.”

  • Bykomende bronne: sacm.uct.ac.za, lib.uct.ac.za, southernsuburbstatler.co.za
Meer oor:  Tweede Wêreldoorlog  |  Nazi  |  Collage  |  Universiteit Van Kaapstad  |  Uct  |  Klassieke Musiek  |  Musiek  |  Thomas Rajna
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.