Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Musiek
Tien stel hoë eise aan musici
Arjan Tien

Die wêreld en beroepsomgewing rondom dirigente is vir buitestaanders ’n mitiese een. Dit is telkens opnuut nodig om dié feit rugbaar te maak. Ons kan ook die woordspel verder voer: ’n Dirigent is die enigste verhoogpersoonlikheid binne die uitvoerende kunste wat deurlopend sy/haar rug na die gehoor gekeer hou.

Ons kan nouliks sien, laat staan volg, op watter manier die dirigent met sy orkes, soliste, sangers of koor kommunikeer – behalwe as kameras agter die orkes sou opgestel word om die aksie te verfilm.

Tien staan daarvoor bekend dat hy as dirigent veeleisend is. Ons beste orkeste in Durban, Kaapstad en Johannesburg kan daarvan getuig. Vir jare daarvoor het hy as altviolis in die Radio Filharmoniese Orkes in Nederland dirigente sien kom en gaan. Ook veral intens van hulle geleer.

“Daar is van hulle wat al gou sê hoe fantasties die orkes speel en hulle ná repetisies vroeg huistoe stuur. Maar sulke ervarings het ek eintlik selde of nooit met Suid-Afrikaanse orkeste gehad. Om op enige wyse ooit amateur­agtig te wees, kom nie ter sprake nie,” meen Tien.

Hoewel Suid-Afrikaanse gehore hom nie as ’n dirigent van opera ken nie – behalwe een in Durban ’n tyd gelede, asook vir die opwindende en meevoerende La traviata in ’n konsertweergawe vir Gauteng Opera verlede jaar – is hy by verskeie Nederlandse operageselskappe en een in Swede betrokke met wyd uiteenlopende opera­opvoerings.

So byvoorbeeld dirigeer hy Mozart se Le nozze di Figaro einde volgende maand by Opera Zuid, terwyl hy by die Nederlandse Reisopera betrokke was, plus die baie progressiewe en oorspronklike Opera Sparma waar hy al met nuut gekomponeerde operas gedebuteer het.

Arjan Tien dirigeer volgende week in die Joburg Theatre Donizetti se L’elisir d’amore vir die eerste keer. Wat hom in dié komiese opera opval, is hoe sterk Rossini se invloed op Donizetti was.

“Vir die afgelope twee weke het ek met die Gauteng Operakoor kon werk om hulle vertroud te maak met korrekte stilistiese vereistes op die gebied van diksie, projeksie, ritmiese artikulasie en frasering. Opvallend by die koorgedeeltes is die groot hoeveelheid teks wat gewoonlik teen ’n hoë tempo gesing moet word. En dít moet alles hoorbaar en verstaanbaar wees te midde van ’n dikkerige orkestrasie,” verduidelik Tien.

Sy benadering tot die spesiaal gekontrakteerde orkes is eenvoudig: “Ons is hier om musiek te maak en dít op die hoogs moontlike vlak.” Tien werk met ’n ysterhand: intens en vinnig. Dit geniet skaars die voorkeur van plaaslike orkesmusici, maar ná die eerste paar repetisies het die meeste van die orkeslede gesê dat dié werksmetode van dryfkrag en energie vir hulle baie cool is.

  • “Een stukkie orkes-sielkunde wat ek ter harte neem, is dat alle orkeslede dit haat dat repetisies deurgaans onderbreek word. Vereis jy van hulle groter dissipline en oplettendheid sodat dit nie hóéf te gebeur nie, besef hulle al gou dat hul spelpeil aan’t verbeter is”.L’elisir d’amore is op 2, 4, 6 en 7 Augustus in die Joburg Theatre op die planke.

Meer oor:  Musiek
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.