Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Musiek
Tiener van Paarl wen Pieter Kooij-kompetisie

Mike Wang, ’n 13-jarige pianis van die Paarl, is aangewys as die algehele wenner van die 12de Pieter Kooij-musiekkompetisie.

Wang, ’n leerling in gr. 8 aan Paarl Boys High, het R6 000 in sy sak gesteek nadat hy die uitdagende laaste beweging van Chopin se Klaviersonate no. 3 en die “Russian Dance” uit Stravinsky se Three Movements from Petrushka kafgedraf het.

Hy het ook as beste pianis uit die stryd getree en daarvoor ’n kategorieprys van R750 losgeslaan.

Hy sê aan Netwerk24 hy was “baie bly” toe hy as die wenner aangekondig is.

“Ek was oor die algemeen gelukkig met my spel, maar ek beskou die wen van pryse as ’n bonus, so ja, dit was ’n baie gelukkige oomblik vir my.

“Die feit dat ek ’n kans gehad het om my stukke vir ’n gehoor te speel, was klaar ’n ‘eerste prys’ vir my. Die geleentheid om op te tree het my beslis aangespoor om meer te oefen – ook meer konstruktief te oefen.”

Wang vertel hy speel al agt jaar klavier en is die afgelope vyf jaar ’n leerling van dr. Mario Nell.

Hy probeer om drie uur per dag voor die klavier deur te bring.

“Dit hang maar af van my akademiese en skool-aktiwiteite, maar ek probeer om elke dag te oefen – sowat drie uur per dag.”

Hy het gebloos toe hy gevra is wat hy in sy vrye tyd doen wanneer hy nie musiek maak nie.

“Ek moet erken – en ek bloos – dat ek baie tyd op WhatsApp met my vriende bestee, veral nou in die staat van inperking. Ek hou ook baie daarvan om video’s op YouTube te kyk. Nog ’n aktiwiteit wat baie tyd in beslag neem, is skaak.”

En dit is g’n verrassing wat hy eendag met sy musiek wil bereik nie.

“Ek is lief vir die klavier en sal graag ’n loopbaan as pianis wil najaag. My ander groot belangstelling is wiskunde.”

Die 12de Pieter Kooij-musiekkompetisie, waarin hoërskoolleerlinge mekaar die stryd aansê, is vanjaar weens die pandemie vir die eerste keer aanlyn gehou. Dit is oudergewoonte weer deur die Hoërskool Jan van Riebeeck in Kaapstad aangebied en die geleentheid is genoem na Pieter Kooij, oud-onderwyser aan dié skool én musiekresensent, wat in 2018 dood is.

Vanjaar se uitvoerings is in die Welgemeend-landgoed se konsertsaal opgeneem, voordat dit deur die pianis Nina Schumann, die musikoloog en eksaminator Hubert van der Spuy en die komponis Hendrik Hofmeyr beoordeel is. Die wenners is telefonies en via e-pos ingelig.

Viviana Pearson (klavier) is as die naaswenner aangewys en het R4 000 gewen, terwyl Keon Muller (saxofoon) as die beste hout- en/of koperblaser R750 ryker is. Mia Barashenkov is as die beste strykinstrumentalis aangewys en het ook R750 ontvang.

Pearson het ook R750 en die prys vir beste Romantiese werk vir haar voordrag van Brahms se Rapsodie in G mineur, op. 79 no. 2 gewen, terwyl die pianis Mikhaila Porter met Bach se Prelude en Fuga in D mineur, boek 2 R750 vir die beste Barokwerk gewen het.

Meer oor:  Musiek  |  Klassieke Musiek  |  Nina Schumann
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.