Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Musiek
Toekoms van Bloem-orkes in gedrang

Die Bloemfonteinse Filharmoniese Orkes (BFO) se konsertjaar het op ’n droewige noot geëindig toe die orkesbestuur genoop is om hul fondsinsamelingskonsert weens onvoldoende belangstelling te kanselleer.

Paul Loeb van Zuilenburg Foto: Argief

Paul Loeb van Zuilenburg, die BFO se dirigent en artistieke direkteur, het die aankondiging oor die konsert, A Tribute to André Rieu, op sy Facebook-blad gemaak. Kaartjies vir die konsert, wat op 19 Oktober in die NG kerk Universitas in Bloemfontein sou plaasvind, het van R75 tot R125 gekos.

“Dit sou die BFO se laaste konsert van 2019 wees, maar die bestuur kon nie die voortbestaan van die orkes in gevaar stel met nog ’n uitvoering wat ’n (finansiële) verlies sou ly nie,” skryf Loeb van Zuilenburg.

“Die orkes sal weer volgende jaar bymekaarkom om oor sy opsies rondom sy langtermynlewensvatbaarheid en toekoms in die Vrystaat te herbesin.”

Loeb van Zuilenburg het die juistheid van sy Facebook-inskrywing aan Netwerk24 bevestig.

“Die orkes se toekoms is grootliks in gedrang. In Bloemfontein maak ons net heeltyd ’n verlies,” sê hy.

Die dirigent sê die orkes het reeds vroeër vanjaar tydens ’n James Bond-konsert – hul derde van vier konserte vanjaar – nie genoeg kaartjies verkoop “om die ding haalbaar te maak nie”.

“Die James Bond-konsert was eintlik die eerste keer dat ons nie al die spelers behoorlik kon betaal nie. Dit was werklik ’n verleentheid om te sê: ‘Ons het gesê jy sal dít kry, maar omdat ons net sóveel gemaak het, kan ons jou ongelukkig net dát aanbied’.”

Hoewel Loeb van Zuilenburg sê dit is ekonomies ’n moeilike tyd vir die Vrystaat én die res van die land, sê hy daar is heelwat aspekte in Bloemfontein self wat hul saak bemoeilik.

“Demografies het ’n groot gros van ons gehoor reeds die stad verlaat, sommige Kaap toe, om af te tree.

“Nog ’n uitdaging is instrumentaliste: Ons het nie Franse horingspelers in die dorp nie. Ons het nie rêrig trompette of fagotte nie. Ons het een hobospeler. Ons het nie genoeg strykers nie. Dit dwing ons om soliste in te vlieg, wat nog meer geld kos en ons uiteindelik in die hakskene byt.

“En nog ’n ding wat hier in Bloem aan die gebeur is: Gehore gee al hul geld by ’n kunstefees uit en het niks geld vir die res van die jaar oor nie.”

Ons het nie Franse horingspelers in die dorp nie. Ons het nie rêrig trompette of fagotte nie. Ons het een hobospeler. Ons het nie genoeg strykers nie. Dit dwing ons om soliste in te vlieg, wat nog meer geld kos en ons uiteindelik in die hakskene byt.
Paul Loeb van Zuilenburg, BFO-dirigent

Die orkes, wat in 2012 gestig is en uit tussen 40 en 50 lede bestaan, kry volgens Loeb van Zuilenburg ’n “klein bietjie geld” by die Vrystaat Kunstetrust, maar sê hulle kry nie elders behoorlike befondsing nie.

“Dit is eintlik nog ’n uitdaging hier in die Vrystaat: Hier is geen hoofkantore van banke of ander industrieë wat ons om borgskappe kan nader nie – hulle is almal in Johannesburg.

“Ons het juis hierdie (die gekanselleerde) konsert gereël om fondse in te samel. Die orkes sou selfs verniet speel! Maar as jy 50 kaartjies verkoop en jy kan nie eens die venue of die solis se vliegtuigkaartjie betaal nie, moet jy met moeilike vrae begin stoei – en dít in Oktober.”

Hy sê die orkesbestuur sal eers in Januarie oor die orkes se toekoms besin.

“Almal is nou te moeg en oorwerk – dis nou die verkeerde tyd om so ’n besluit te neem – maar as dit jou tyd is, is dit jou tyd.

“Vir die orkes om voort te bestaan, sal ons realisties gesproke een of ander tipe finansiële ondersteuning uit die gemeenskap moet kry. Daar sal geld moet kom. Ons kan nie meer net op kaartjieverkope alleen staatmaak nie; ons uitgawes is te groot.

“Sonder ’n behoorlike borgskap kan ons eenvoudig nie oorleef nie.”

Meer oor:  Musiek  |  Klassieke Musiek
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.