Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Musiek
TTA wiks die waks uit jou ore
Joshua Eustis

Telefon Tel Aviv (TTA) se eerste nuwe album in ’n dekade is uitgereik. Kobus Burger meen mens kan maar jou ore spits.

Sowat ’n dekade gelede was Telefon Tel Aviv ’n opwindende Amerikaanse duo wat neffens post-rock-musikante soos Frankryk se M83 en Brittanje se Four Tet kon boer.

Sowat ’n dekade gelede in die week wat hul derde album, Immolate Yourself, uitgereik is, het die een lid, Charles Cooper, spoorloos verdwyn. Hy is later dood aangetref weens ’n kombinasie van drank en slaappille.

Joshua Eustis, die oorblywende lid, het darem nie die skok met stilswye begroet nie. Al het Telefon Tel Aviv as musiekprojek stof vergaar, het Eustis aanhou musiek maak as lid van Nine Inch Nails se toerorkes en as ’n lid van die Tool-hoofsanger, Maynard James Keenan, se groep Puscifer.

Sy onderbewussyn het egter bly prut en hy het “helder drome” asook slaapverlamming beleef. Die verlies van sy musiekmakker het hom ook in voeling gebring met sy eie sterflikheid en ’n herinnering van ’n skrikwekkende ervaring in die see toe hy as jong seun gaan swem het.

Dreams Are Not Enough spoel anderkant dromerige ambient en kan waarskynlik as elegiese elektronika geliasseer word. Stel jou voor Brian Eno het nie vir lughawens nie, maar begrafnisondernemers begin komponeer. Eustis duik diep deur die klanke en mompelende lirieke (dikwels onhoorbaar) asof hy die vlies tussen lewe en dood probeer breek. Die frustrasie eggo in herhaling en soms energieke, vet ritmes wat koggel en tart.

Dit is hierdie temas wat hy verken op Dreams Are Not Enough – die eerste nuwe album deur Telefon Tel Aviv (TTA) in ’n dekade. As soloprojek is hierdie TTA-uitreiking ’n radikale wegbreek van Immolate Yourself se monotone mineur-aanslag.

Dreams Are Not Enough spoel anderkant dromerige ambient en kan waarskynlik as elegiese elektronika geliasseer word. Stel jou voor Brian Eno het nie vir lughawens nie, maar begrafnisondernemers begin komponeer.

Eustis duik diep deur die klanke en mompelende lirieke (dikwels onhoorbaar) asof hy die vlies tussen lewe en dood probeer breek. Die frustrasie eggo in herhaling en soms energieke, vet ritmes wat koggel en tart.

Die distorsie word dan weer afgewissel met swewende sang wat aan ’n kamerkoor herinner. Eustis self beskryf dit as die “rapture of despair”.

Dit is uitdagende musiek wat die luisteraar tegelykertyd gaan uitdaag, vervreem, onthuts en dan weer meesleur. ’n Donker kolk wat jou intrek.

Gestel die Britse elektronikagroep FSOL (Future Sound of London) van Dead Cities-faam het besluit om die komponis Arvo Pärt se Spiegel Im Spiegel vir ’n millenniërgehoor te herskep.

Die borrelende kreatiwiteit en vernuwing word verder gevoer deur die titels van die “liedjies” wat saamgevoeg ’n gedig vorm:

I dream of it often:

a younger version of myself,

standing at the bottom of the ocean;

arms aloft,

mouth agape,

eyes glaring,

not seeing,

not breathing,

still as stone as a watery fane.

Nog voordat die eerste klanke die oortromme getref het, roer Eustis al die luisteraar.

Musikaal is Dreams Are Not Enough uiteraard vreemd en selfs onverteerbaar. Dit veeg resepmatigheid met ’n stotterende trommasjien van die tafel. Presies wat ’n mens van ’n musikale pionier verwag.

As jy stroperige hysbakmusiek of iets opbeurends verwag, hou liefs ver verby. Dit sal dalk nie die album-van-die-jaar-lysies haal nie, maar beslis die waks uit jou ore wiks.

Meer oor:  Musiek
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.