Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Musiek
TwoPianists vier 20 jaar met gratis aanlyn konsert

Die internasionaal befaamde klavierduo TwoPianists bied tot 25 Oktober ’n gratis aanlyn konsert aan om hul 20ste bestaansjaar te vier.

Nina Schumann en Luis Magalhaes. Foto: ninaandluis.com

Die Suid-Afrikaanse pianis Nina Schumann en die Portugese pianis Luis Magalhaes se konsert vorm deel van die Endler-konsertreeks, wat sedert Augustus elke twee weke ’n nuwe gratis aanlyn konsert uitreik.

Schumann en Magalhaes begin hul konsert met die Fransman Camille Saint-Saëns se tweeklavier-verwerking van die Hongaar Franz Liszt se Sonate in b mineur – ’n verwerking wat Liszt self wou behartig, maar wat hy nie voor sy dood kon doen nie. Saint-Saëns, ’n goeie vriend van hom, het dit toe ter nagedagtenis aan hom voltooi.

Die Suid-Afrikaanse komponis Alexander Johnson se Jazz Impromptu No. 1, wat in 1994 die voorgeskrewe werk op die 7de Internasionale Unisa-Transnet-klavierkompetisie was, is ook op TwoPianists se program. Johnson het die werk self in 2013 vir twee klaviere verwerk en dit aan Schumann opgedra, waarvan sy onlangs eers bewus geword het.

“Dit was ’n verrassing vir my,” sê Schumann. “Ek het seker al so vyf werke wat vir my geskryf is, en dit is altyd ’n groot eer. Ek het groot respek vir komponiste.”

Schumann en Magalhaes het mekaar in die laat 1990’s ontmoet toe hulle albei studente van Vladimir Viardo aan die Universiteit van Noord-Texas was. Hulle het benewens TwoPianists ook die platemaatskappy TwoPianists Records, die Stellenbosch Internasionale Kamermusiekfees, en die Stellenbosch Internasionale Klaviersimposium gestig. Hulle het as ’n klavierduo ook reeds vier albums op hul kerfstok.

Die konsert waarmee hulle hul 20ste bestaansjaar vier, kan tot 25 Oktober om 23:30 op https://vimeo.com/455771040/2bf0dee420 gekyk word.

Dié konsert word met die volgende konserte in die Endler-konsertreeks opgevolg:

  • Reflections and Illuminations met Minette du Toit-Pearce (mezzosopraan), Phillipus Hugo (klavier) en Sunday Kelechi (tjello) van 1 tot 8 November;
  • Resilient Womxn: Young Rising Star met Lynn Rudolph (altviool) en José Dias (klavier) van 15 tot 22 November; en
  • Marcussen Organ Celebrates 40 Years met Mario Nell (orrel) en Lauren Dasappa (sopraan) van 29 November tot 6 Desember.

Besoek endler.sun.ac.za vir meer inligting.

Meer oor:  Musiek  |  Us  |  Klassieke Musiek  |  Universiteit Stellenbosch  |  Luis Magalhaes
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.