Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Musiek
Tycho steek grense oor met nuwe album
Die omslag van Tycho se album Weather.

Dit klink kompleet of Tycho se musiek vir die silwerdoek en oop landskappe gekomponeer is. Kobus Burger het na sy jongste album, Weather, geluister.

Fliekmakers beskik oor die gawe om musiek via beelde ’n heel ander konnotasie te gee. Quentin Tarantino het eens gesê hy wonder hoe Gerry Rafferty van Stealers Wheel hul liedjie “Stuck in the Middle with You” beleef nadat hy dit in die rolprent Reservoir Dogs ingespan het!

Die Amerikaanse Grammy-benoemde musiekmaker Tycho (Scott Hansen) is nou wel nie ’n rolprentmaker nie, maar sy atmosferiese musiek klink asof dit vir die silwerdoek gekomponeer is.

Dié Kaliforniër is eintlik ’n grafiese ontwerper en kunstenaar bekend as ISO50 en is deur 90’s-musikante soos Roni Size, Boards of Canada en LTJ Bukem geïnspireer om met klank te begin “skilder”. Hy reken hy wil ’n brug bou tussen gevoelens en ruimtes, soos ’n woud of oop veld.

Op die koop toe is sy albums soos Dive, Epoch en Awake postrock-musiek wat die grense tussen ambient en die shoegazing-liedjies van groepe soos Mercury Rev oorsteek.

Dat kwaai kitare die pas aangee op soveel van sy deuntjies spruit seker uit sy liefde (tot en met sy 13de jaar) vir groepe soos Led Zeppelin, Megadeth, Cream en Beastie Boys. Moet dus nie verwag dat sy musiek jou soos Brian Eno se ambient-uitreikings aan die slaap gaan sus nie.

Sedert 2010 bestaan Tycho – naas Hansen – uit die kitaarspeler Zac Brown, die tromspeler Rory O’Connor asook die baskitaar- en klawerbordspeler Joe Davancens. Geensins ’n produksieleier wat sy musiek op sintetiseerders en ’n rekenaar skep nie.

Op sy jongste, Weather, het Tycho besluit om ’n nuwe grens oor te steek. Vir die eerste keer is daar nou sang en lirieke by die majestueuse landskappe gevoeg.

Al het die album net agt liedjies, is dit ’n welkome vernuwing vir die Tycho-klank wat al ’n bietjie formule-agtig begin klink het.

Soos ’n ontwerperstoebroodjie het Hansen die stem van Saint Sinner op vyf snitte as vulsel gevoeg tussen drie meer instrumentale snitte in die “tradisionele” Tycho-styl.

Saint Sinner is ’n sangeres-liedjieskrywer van Texas en ook bekend as Hannah Cottrell. Hansen het byvoorbeeld die musiek van “Japan” vir haar gestuur en sy het met haar eie lirieke vorendag gekom.

Haar soet en dromerige sang is die perfekte toevoeging tot Tycho se vurige, energieke musiek wat soms baie na aan die gewilde genre van elektroniese dansmusiek (EDM) kom.

Al is Weather byna ’n mini-album, bied Saint Sinner se teenwoordigheid genoeg afwisseling om dit een van Tycho se opwindender albums te maak. Meer as agt snitte sou dit dalk weer in die dryfsand van herhaling laat vasval het.

Al is Weather byna ’n mini-album, bied Saint Sinner se teenwoordigheid genoeg afwisseling om dit een van Tycho se opwindender albums te maak. Meer as agt snitte sou dit dalk weer in die dryfsand van herhaling laat vasval het.

Musiekliefhebbers wat Tycho nog nie ontdek het nie, moet dalk eers met sy vierde album, die Grammy-benoemde Epoch, begin.

Of ’n mens daarna meer as net die suikersoet deuntjies van Weather wil hoor, sal die opvolgalbums bewys. Dalk sal meer as een gaskunstenaar, wat ’n manstem insluit, die vernuwing tot sy reg laat kom.

Weather bied die broodnodige afwisseling in Tycho se loopbaan, maar sal dalk vir sommige popliefhebbers net té lig in die broek wees. Luister en oordeel self.

Meer oor:  Musiek
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.