Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Musiek
Uitsoeksoliste van oral vir kamermusiekfees
Die 16de Stellenbosse Internasionale Kamermusiekfees lok weer musici van oor die wêreld heen asook talle voorste Suid-Afrikaanse kunstenaars.

Professionele musici van alle uithoeke van die wêreld, sowat 300 studente van oral in Suid-Afrika en voorste plaaslike kunstenaars gaan vir die 16de Internasionale Kamermusiekfees op Stellenbosch toesak.

Die professionele musici, plaaslik en internasionaal, gee meesterklasse en tree op in konserte, wat die groot trekpleister vir die publiek is.

Nina Schumann, die fees se artistieke direkteur, is nie net opgewonde oor die uitsoekmusici nie, maar ook oor die nuwe werke wat die Suid-Afrikaanse komponiste Antoni Schonken en Arthur Feder vir die fees gelewer het. Die opdrag was musiek wat die musikant Johnny Clegg sal vereer deur verskeie musiekgenres te vermeng.

Schumann sê “almal het ’n Juluka-herinnering” en daarom glo sy die werke sal wyd aanklank vind. Feder het aan die Universiteit Stellenbosch ’n meestersgraad in komposisie behaal waar hy tans ’n dosent is, en Schonken is ’n vryskut-komponis wat gereeld opdragte van oorsese ensembles en musici kry.

Die buitelandse musici kom van die Oekraïne, Rusland, Portugal, Duitsland, Frankryk, Nederland, Brittanje, die VSA, Kanada, Spanje, Brittanje en sluit selfs ’n altviolis van Tajikistan in.

Die violiste is Alissa Margulis, die puik Duitser wat verlede jaar in Suid-Afrika opgetree het, Marc Bouchkov en Madeline Adkins. Bouchkov het op 29 jaar reeds ’n indrukwekkende lys van optredes met voorste Europese orkeste en het onder meer in 2013 die Koningin Elisabeth-kompetisie in België gewen. Adkins is die konsertmeester van die Utah-simfonieorkes in die VSA.

Daniel Rowland, ’n gereelde deelnemer, sluit vanjaar weer by die aanbieders aan.

Die altvioliste is die Kanadees gebore Juan-Miguel Hernandez, ’n lid van die Fine Arts Quartet en ’n dosent aan die Royal College of Music in Londen; Gareth Lubbe, ’n Suid-Afrikaner met ’n konsert- en orkesloopbaan in Europa. Hy is ook ’n dosent aan die Folkwang-Universiteit in Essen, Duitsland. Tatjana Masurenko, ’n dosent aan die Mendelssohn-konservatorium in Leipzig, is oorspronklik van Tajikistan.

Die besoekende tjelliste is Alexander Buzlov, wat aan die Tsjaikofski-konservatorium studeer het en ’n gewilde solis en kamermusikus is; en David Cohen ’n bedrywige solis en dosent aan die Conservatoire Royal de Musique de Mons in België.

Uxía Martínez Botana, Spaanse kontrabasleier in die Brusselse filharmoniese orkes, word in die Amerikaanse tydskrif No Treble as een van die toptien-spelers ter wêreld gereken.

Die houtblaasmeesters is Andrew Brady (fagot) van die Atlanta Symphony Orchestra; Demarre McGill (fluit), leier in die Seattle Symphony; Ferdinand Steiner, hoofklarinetspeler in die Mozarteum-orkes in Salzburg; en Dwight Parry (hobo), leier in die Cincinnati Symphony Orchestra.

Die buitelandse koperblasers is Weston Sprott (tromboon) van die Metropolitan Opera Orchestra in New York; Marco Silva (trompet) van die Südwestdeutsche Philharmonie Konstanz; en Geoffrey Pilkington (horing) van die Washington National Opera.

Pedro Carneiro, ’n Portugese perkussiespeler, tree as solis met orkeste oor die wêreld heen op, is ’n komponis en ’n dirigent wat groot sukses met Portugal se jeugorkes behaal. Hy is ook ’n vindingryke skepper van perkussie-toebehore.

Maxim Rysanov (dirigent) het in Oekraïne grootgeword, maar woon in Brittanje van waar hy sy vryskutloopbaan bestuur, en Joost Smeets is onder meer mededirigent van die Nederlandse Simfonieorkes.

Die plaaslike aanbieders is die violiste Farida Bacharova en Suzanne Martens, Peter Martens (tjello), Xandi van Dijk (altviool), Pamela Kierman (horing) en die pianiste Nina Schumann, Luis Magalhães en Pieter Grobler, al drie van die Universiteit Stellenbosch (US).

Verbeeldingryke programme met musiek van Bach, Mendelssohn, Saint-Saëns, Tsjaikofski en vele ander is vir die aandkonserte saamgestel. Dié kamerkonserte deur die besoekende kunstenaars word van 5 tot 11 Julie om 20:00 aangebied. Van 12 tot 14 Julie vul orkesuitvoerings die gleuf.

Die fees vind in die US-konservatorium plaas en die konserte is in die Endlersaal. Kaartjies is reeds beskikbaar by Computicket. Besoek ook die webwerf www.sicmf.co.za.

Meer oor:  Kamermusiekfees  |  Stellenbosch
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.