Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Musiek
Uitvoering van videospeletjie-musiek verskuif grense
Die Amerikaanse tjellis Caleb Vaughn-Jones.

Die simfoniese musiek van bekende videospeletjies, vandeesweek uitgevoer deur die Vrystaatse Simfonieorkes (FSSO), is so grensverskuiwend dat die Amerikaanse solis in die konsert wens hy was ’n Vrystater.

Caleb Vaughn-Jones, ’n voorste tjellis wat ’n ruk in Suid-Afrika gewoon het, sê hy het nog nooit mense beny wat in die Vrystaat woon nie, maar hierdie keer is hy regtig jaloers.

Die rede waarom hy so voel, is dat orkesuitvoerings van videospeletjiemusiek selfs in die toonaangewende Amerika seldsaam is en waarskynlik nog nooit in Suid-Afrika lewend gehoor is nie. Dit is dus ’n yslike geleentheid vir Bloemfontein.

Vaughn-Jones is ’n klassieke tjellis wat aan die geprese Peabody-instituut in Baltimore, VSA, studeer het, maar sê vandat hy by “gaming music” betrokke geraak het, kan hy nie ophou luister na dié musiek nie.

“Dit bied ’n wye spektrum van emosies, stemmings en klanke, van die rustige melodieë in Shadow of the Colossus tot die bruisende golwe in Fallout 3”.

’n Bonus in die FSSO-konsert is ’n video-opname van Kovsie-ligaspelers wat saam met een van die werke vertoon sal word en wat dus nóg groter opwinding waarborg.

’n Koor saamgestel uit sangstudente van die Odeion Skool vir Musiek (OSM) sal bydra tot die klankomvang.

Vaughn-Jones, wat optree in die klankbaan van Civilization V en VI en talle ander speletjies, sê hy was onlangs bevoorreg om na ’n konsert deur die Final Fantasy XIV Orchestra in die Dolby-teater in Los Angeles te luister. “Selfs sonder ’n verwysingsraamwerk vir die musiek het dit my omgeboul. Daar is niks wat kom by die klank van ’n groot orkes nie; ek sal so ’n uitvoering vir enigeen aanbeveel.”

Speletjiekenners sal weet wat om te verwag van die musiek wat uit onder meer The Legend of Zelda, Fallout, Civilization, Super Mario Brothers en Game of Thrones gespeel gaan word, terwyl “aanhangers van tradisionele simfoniekonserte verras sal word deur dié hoogs luisterbare melodieuse werke waarin daar nie ’n teken van kontemporêre atonale klanke te bespeur is nie,” sê die dirigent Alexander Fokkens.

Hy moedig ouers aan om hul kinders te bring – “dit is die ideale medium waardeur jong mense aan orkesmusiek bekend gestel kan word”.

Hy sê die videospeletjie-genre is nog in sy kinderskoene, maar die toenemende gewildheid van die speletjies sal ongetwyfeld die bewustheid van die gepaardgaande musiek verhoog.

“Dit is die simfoniese popkonserte vir toekomstige generasies en kan ’n nuwe opwelling van waardering ontlok vir die musiek met sy ryke diversiteit van klanke,” sê Fokkens.

Vaughn-Jones het ’n gevestigde internasionale loopbaan en het as solis en kamermusikus opgetree oor Noord-Amerika heen, in Asië, die Wes-Indiese Eilande en Suider-Afrika. Hy is passievol oor die bekendstelling van minder bekende orkesmusiek en het al saamgespan met akteurs in verhoogproduksies en rolprente.

Hy het ook ’n produksiemaatskappy wat klankopnames vir internasionale videospeletjie-instansies maak.
* Epical Gaming Concert: 8 September om 19:30 in die Kopanong-ouditorium (Kovsie-kerk). Kaartjies kos vanaf R80, by Computicket.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.