Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Musiek
Universiteitskore ding mee op kykNet
Die Stellenbosch Universiteitskoor gaan in Julie aan die nuwe program Varsity Sing op kykNet deelneem. Foto: Argief

Universiteitskore sê mekaar vir die eerste keer die stryd aan in die nuwe TV-program Varsity Sing, wat in Julie op kykNET begin.

Renette Bouwer, die Universiteit van Johannesburg (UJ) se koordirigent, sê dis nie tradisie vir Suid-Afrikaanse universiteitskore om teen mekaar op nasionale vlak mee te ding nie.

“Ons het dit altyd verhoed ter wille van ons goeie verhoudings. kykNet maak dit moontlik om nou op ’n opwindende en interaktiewe wyse teen mekaar mee te ding,” sê Bouwer.

Varsity Sports en kykNET snoer kragte saam om dié nuwe koorkompetisie te hou.

kykNET saai Varsity Sing vir die eerste keer op 14 Julie uit met 12 universiteitskore wat vir 13 weke lank teen mekaar gaan meeding om as Suid-Afrika se beste

koor gekroon te word.

Varsity Sing gaan Donderdagaande vanaf Julie vanjaar uitgesaai word en ’n nuwe lewe gee,” sê Francois Pienaar, uitvoerende hoof van die media-agentskap ASEM, in ’n verklaring.

“TV-gehore gaan deur die beste kore in die land geïnspireer en vermaak word. Verwag ’n kombinasie van tradisionele, kontemporêre en oorspronklike koormusiek tydens ’n indrukwekkende vertoning,” sê Pienaar.

Die eerste vier rondes van Varsity Sing, insluitend die semifinaal, sal regstreeks voor ’n gehoor opgeneem word en van Julie tot September op kykNET uitgesaai word.

Renette Bouwer, die Universiteit van Johannesburg se koordirigent, sê die nuwe program Varsity Sing op kykNet is ’n interaktiewe manier om koorsang in Suid-Afrika te bevorder. Foto: Facebook

Die kompetisie se eindronde sal gedurende ’n regstreekse musiek-ekstravaganza plaasvind waartydens die Varsity Sing-kampioene bekend gemaak sal word.

Die eerste rondes het reeds in Mei plaasgevind.

“Koorsang is een van die gewildste kunsvorms ter wêreld wat uitgevoer word en in Suid-Afrika het ons uitstekende universiteitskore. Om hulle te kry om op nasionale TV op te tree en mee te ding, sal koorsang na ’n volgende vlak van gewildheid neem,” sê Karen Meiring.

Volgens Bouwer is dit ’n baie interaktiewe manier om koorsang in Suid-Afrika te bevorder.

“Dit gaan nie noodwendig oor die kompetisie nie. Dit gaan koorsang onder Suid-Afrikaners koester en studentesangers blootstelling gee,” sê Bouwer.

Foster Lubbe, voorsitter van die Stellenbosch Universiteitskoor, sê dit gaan ’n voorreg wees om die ander universiteitskore te hoor en saam musiek te deel.

“Daar is universiteitskore waarvan ons nog nie gehoor het nie en ons sien baie uit om saam koormusiek in Suid-Afrika te laat voorrang geniet,” sê Lubbe.

Christo Burger, die bekende koordirigent en -beoordelaar, gaan deurgaans die hoofbeoordelaar wees saam met twee glanspersoonlikhede wat elke week iemand anders gaan wees.

Die 12 deelnemende kore:

* Universiteit van die Wes-Kaap;

* Universiteit van Kaapstad;

* Universiteit Stellenbosch;

* Nelson Mandela Metropolitaanse Universiteit;

* Rhodes-Universiteit;

* Tshwane-Universiteit van Tegnologie;

* Universiteit van Johannesburg;

* Universiteit van Pretoria;

* Universiteit van Limpopo;

* Universiteit van die Vrystaat;

* Sentraal-Universiteit van Tegnologie; en

* Vaal-Universiteit van Tegnologie.



Meer oor:  Universiteit Van Johannesburg  |  Kyknet  |  Musiek  |  Vermaak
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.