Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Musiek
US-koor samel geld in om wêreldkroon te verdedig

Die Stellenbosse Universiteitskoor se galakonsert het dalk teen R600 tot R1 000 per kaartjie een van die duurste prysetikette op vanjaar se Toyota US Woordfees, maar dit is darem ten bate van ’n goeie doel.

Volgens André van der Merwe, sedert 2003 die wêreldbekende koor se dirigent, is die konsert se “hoofdoel” om geld in te samel sodat die koor in Julie sy wêreldkroon op die Wêreldkoorspele in België kan verdedig.

“Ons het heelwat koorlede vir wie ’n oorsese reis finansieel onmoontlik is,” sê Van der Merwe.

“Die US-koor geniet gelukkig wonderlike ondersteuning van ons gehore – van die 550 sitplekke in die Endler (in Stellenbosch) is nog net 100 kaartjies vir die galakonsert beskikbaar.”

Die koor is onder Van der Merwe se leiding as die beste koor ter wêreld gevestig. Benewens oorwinnings op die Wêreldkoorspele in Shaoxing (China, 2010), Cincinnati (Amerika, 2012), Riga (Letland, 2014) en Sotsji (Rusland, 2016) het die koor in 2018 koning gekraai op die roemryke Internasionale Llangollen-eisteddfod in Wallis.

Dit is danksy dié prestasies dat die koor die afgelope ses jaar die boonste plek beklee op die Interkultur-wêreldranglys van die 1 000 beste kore ter wêreld.

Van der Merwe sê daar is heelwat redes hoekom dit belangrik is dat die US-koor saam met 500 ander kore aan die Wêreldkoorspele deelneem.

“Ons doen dit nie nét vir die kompetisie nie,” sê hy. “Dit gaan daaroor om jouself uit te daag en om ons kultuur met ’n internasionale gehoor te deel. Dit is ook belangrik om in kontak te bly met wat in die wêreld in jou vakgebied gebeur want dit lei tot persoonlike groei en ontwikkeling.”

André van der Merwe

Hy sê dit is ook nie ’n gegewe dat hulle weer met die topprys huis toe gaan kom nie.

“Koorlede sing gemiddeld twee jaar lank in die koor. Dit beteken dat ons elke keer met ’n splinternuwe koor deelneem en ons nie bloot kan aanvaar ons sal weer in ’n kompetisie goed vaar nie,” sê hy.

“Dit word nie makliker hoe meer jy dit doen nie. Inteendeel, die kompetisie raak elke keer groter en die standaard bly verbeter. Uiteindelik is die hoofdoel om goeie musiek te maak in fabelagtige geboue en omstandighede.”

Die koor gaan in hul galakonsert hul nuwe kompetisie-repertorium voordra, onder meer drie werke wat spesiaal vir die koor gekomponeer is. Van der Merwe sê hy is veral opgewonde oor ’n nuwe toonsetting van Salve Regina deur die Suid-Afrikaanse komponis Franco Prinsloo.

Koorliefhebbers wat die konsert gaan misloop, kan die koor steeds finansieel bystaan indien hulle daartoe in staat is.

“Ons waardeer enige bydrae en glo dat elke bietjie ’n verskil maak,” sê Van der Merwe. “Mense wat ons wil ondersteun, kan ’n e-pos aan ons koorbestuurder, Corné Kruger, rig en dit na sing@sun.ac.za stuur.”

  • Die konsert Universiteitskoor Stellenbosch: Galakonsert vind op 12 Maart om 16:00 in die kykNET Endlersaal plaas. Kaartjiepryse op Computicket wissel tussen R600 en R1 000, maar kos R1 000 by die deur. Besoek www.woordfees.co.za vir meer inligting.
  • Die koor bied op 12 en 13 Maart om 13:15 ’n etensuurkonsert in die Endler aan. Kaartjies kos R105 by Computicket en R120 by die deur.
Meer oor:  Koor  |  Musiek  |  Woordfees
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.