Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Musiek
Van Coke vier mylpaal

Sy nuwe kortspeler (EP) Francois en vriende is by Red Bull Studios in die Kaap opgeneem deur Fred den Hartog en Dane Taylor, en het sommer uit die wegspringblokke direk na nommer een geskiet op die iTunes-speellyste.

Die vier baie wakker snitte op dié produksie is almal samewerkings met onder andere Die Heuwels Fantasties (“Ek lewe, ek belowe”), die rapper Early B, Laudo Liebenberg en dan sou geen album uit Bellville se wêreld volledig wees sonder die minlike Jack Parow (“Moenie bang wees nie”) se bydrae nie. Die musiekvideo vir “Ek lewe, ek belowe” is ’n maand terug uitgereik, en doen baie goed.

Francois van Coke spog deesdae met die titel “pa” en het ook pas ’n splinternuwe EP bekendgestel. Foto: Andre Badenhorst

Die Francois van Coke en vriende-EP het ’n swaarder, gedrewe klank – is dit ’n aanduiding van wat om op jou volgende solo-album in 2019 te verwag?

Ja, ek dink so. My eerste klomp solo-treffers is almal ballades, maar daar is steeds harder gedrewe tunes op die eerste twee albums. Maar ek moet die groot liedjies almal live speel, so met die EP het ek gedink ek wil ’n paar harder nommers maak wat live sal pomp. Ek is nog nie 100% seker wat ek gaan doen vir die derde album nie, maar dit gaan definitief bietjie meer rock ’n roll-gedrewe wees as die bietjie rustiger, Hierdie is die lewe.

Jy en Jedd Kossew stap al ’n lang paadjie en hy begelei jou met akoestiese vertonings ook – vind jy ooit dat die musikante saam met wie jy werk jou skryfstyl beïnvloed?

Jedd beïnvloed wat ek doen baie! Hy is net so veel deel van die skryfproses as ek. Ons skryf al saam van 2010 af en het al aan vier albums geskryf. Ek het aan die einde van die dag die laaste sê, maar hy het ’n groter sê as enigiemand anders.

In jou ope brief aan jou jonger self vertel jy dat jy meer selfverseker raak oor jou skryftalent soos wat jy ouer raak; jy skryf egter vanaf dag een lirieke wat propvol emosie is. Voel jy soms te ontbloot deur jou lirieke, of is dit bevrydend?

Ek hou baie van persoonlike eerlike lirieke, dit is waarby ek aanklank vind en seker hoekom ek so skryf. My lirieke is vir my ook ’n uitlaatklep en ’n plek waar ek kan ontlaai. Ek was baie meer onseker in my jonger jare, want ek het nie so baie soos nou geskryf nie. Dit raak beter hoe meer jy dit doen.

Het die treffer “Toe vind ek jou” ’n stewige grondslag vir jou solo-loopbaan gelê?

Karen Zoid het dit eintlik afgeskop – sy is ’n groot aanhanger van die Van Coke Kartel-liedjie “Tot die son uitkom”, en sy het my aangemoedig om meer sulke weerlose musiek te skryf. Ons ken mekaar al vir jare, maar was nooit eintlik vriende nie, tot sy natuurlik die liedjie eers in ’n teatervertoning en toe op haar televisieprogram Zoid-Afrika gedoen het nie. Karen het my laat verwoord wat ek dalk nooit andersins sou kon sê nie, en natuurlik het haar stem soveel lyf aan die liedjie gegee, maar dit is my storie – die liedjie gaan oor my verhouding met my vrou, Lauren. Dit het dinge vir my verander en Karen het my gehelp om nog meer van ’n mark te ontsluit.

Jy en Lauren het ’n pragtige kleuter – hoe verander pa-wees ’n rocker se lewe?

Ek dink dit het my lewe drasties verander. Alex kom eerste in alles en voor haar het ek en Lauren en ons planne eerste gekom. Dit is goed om iemand anders eerste te stel en sy dra ongelooflik baie by tot ons lewens. My prioriteite het definitief verander vandat ek ’n gesin het, musiek het altyd eerste gekom, nou kom my gesin eerste.

Jou pa is ’n predikant, jy ’n rocker . . . Kan jy verskille of parallelle in jul benadering tot ouerskap sien?

My pa is op die preekstoel en ek staan op die verhoog. Ek dink die grootste parallel is dat ons lief is vir ons kinders! Uiteraard het ons altwee ’n boodskap om te bring, maar daar is natuurlik baie verskille.

Watter klank is jy die gemaklikste mee – die meer akoestiese, liriek-gedrewe liedjies soos “Toe vind ek jou” of die swaarder elektriese kitare en polsende riffs soos op “Ek lewe, ek belowe”?

Ek hou van albei. Ek is net so ’n groot fan van Bob Dylan of The Beatles as van Foo Fighters en Queens of the Stone Age. So, ek het baie invloede aan albei kante van die spektrum. Ek wil graag albei soorte liedjies skryf, opneem en uitvoer.

  • Francois van Coke en vriende by die Sun Arena in Menlyn: op 15 September pak Francois die grootste konsert van sy 15-jaar-loopbaan aan wanneer hy by die Sun Arena in Menlyn, Pretoria die Francois van Coke en vriende-konsert aanbied met gaskunstenaars soos Karen Zoid, Jack Parow, Majozi, Fokofpolisiekar, Die Heuwels Fantasties, Early B, Arno Carstens, Laudo Liebenberg (aKing), Coenie de Villiers en Van Coke Kartel. Kaartjies is beskikbaar by Computicket en kos van R225 tot R275.
Meer oor:  Francois Van Coke  |  Sanger  |  Musiek
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.