Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Musiek
Van Heyn gee vertoning ‘wat aan jou hart sal ruk’

Lofliedere word gesing oor die jong Suid-Afrikaanse sangeres Emma van Heyn, die kunstenaar in Die Boer by die Huis se volgende aanlyn aanbieding.

Emma van Heyn Foto: Nina Smit

Van Heyn word in die buiteland en op tuisbodem geprys – soos in die tydskrif Stagebiz, wat haar ná ’n optrede in New York aan Norah Jones, Tori Amos en Billie Eilish gelyk gestel het. Op vanjaar se Woordfees het ’n resensent geskryf: “Sy is verfrissend en ongewoon gesofistikeerd in ’n see van middelmatigheid. ’n Skaars ervaring van talent, skeppingsvernuf en geslypte werkdissipline wat ’n mens in jou spore stuit.”

Dit is waarom Margit Meyer-Rödenbeck besluit het om Van Heyn se vertoning op te neem . . . omdat “sy ’n klein juweel is, nog jonk en sy het nog nie ’n groot aanhang nie, maar sy het daardie X-faktor. Ons sien dit as ’n belegging in die toekoms. En buitendien was daar vanjaar nog nie juis kabarette aanlyn te sien nie. Die inkleding van die produksie, Met slenterslag na Sjanghai, is ook besonders,” beloof Meyer-Rödenbeck.

Dié produksie wat oor Van Heyn se jaar lange ervaring in China handel, is dieselfde wat Woordfees-besoekers gaande gehad het.

Die 25-jarige Van Heyn sê ná haar dramastudies aan die Universiteit Stellenbosch het sy ’n geleentheid gekry om in ’n hotel in Sjanghai musiek te maak. Dit was ’n ervaring wat nie eens sy verwag het nie. 315 aande het sy vasgevang gesit voor ’n vleuelklavier, geen vakansie, geen afdae. Maar sy werk hard om haar baas, ene mnr. Lueng, tevrede te stel, want sy is sommer vroeg al gemaan: “You must never show weakness to boss!

Daar is egter ’n rede waarom slenterslag deel van die titel is. Buiten dat sy nie een dag afgehad het nie, het die hotelbaas nie gehou by die aanvanklike ooreenkoms dat sy net met haar musiek gaste sou vermaak nie. “Ek moes later basies ’n onwettige subkontrak teken om ’n soort hostess te wees. Ek moes met topsakemanne in die Hyatt Hotel meng en geselsies aanknoop sodat hulle langer sou bly en meer kos en drank sou bestel.”

Sy vertel van insidente waar mans nie die grense gerespekteer het nie. Sommige is maller as ander, soos Crazy Boy, ’n welbekende bekruiper wat haar agtervolg en gedreig het.

“Ek het nie eintlik ’n ‘stem’ gehad nie, want geen van die personeel het my verstaan nie. Ek kon ook nie uit my kontrak kom sonder om ’n enorme boete te betaal nie, so ek was in hierdie hotel vasgevang. Dit het soms gevoel of ek mal gaan word.”

Van Heyn het uitgebrand en sielkundig afgetakel na Suid-Afrika teruggekeer, en juis daarom wou sy haar wedervaringe deel.

Met slenterslag na Sjanghai is my manier om sin te maak van alles. Dis vir my belangrik om die volle spektrum van ’n ervaring uit te stal – die goed en die sleg, die hartseer en die ironie. Mense huil en lag in my shows. Daardie jaar was ’n keerpunt in my lewe. Maar my ervaring het my sterker vir hierdie mededingende bedryf gemaak.”

Meyer-Rödenbeck sê “dit is nie net ’n musiek-show nie, dit is ’n progressiewe storievertelling wat aan jou hart sal ruk”.

Van Heyn begelei haarself op klavier, sintetiseerders en ander elektroniese elemente wat sy self skep. Die program bevat ’n goeie balans van treffers (oud en nuut), asook haar oorspronklike musiek waarop sy haar eie unieke stempel afdruk.

Van Heyn se pa is die impresario Charl van Heyningen en tans ook aanbieder van Dis Opera op RSG. Haar oupa was die bekende Francois van Heyningen, radiopersoonlikheid, sanger en akteur.

Met slenterslag na Sjanghai: 20 tot 25 Augustus om 19:00. Bespreek by Webtickets.

Meer oor:  Musiek  |  Margit Meyer-Rödenbeck
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.