Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Musiek
‘Vergete’ James Phillips-album van 1980’s heruitgereik

The Otherwhite Album, ’n album van die sanger James Phillips, wat “soort van verdwyn het”, word in Oktober op viniel heruitgereik.

Dit het aanvanklik in die 1980’s die lig gesien, maar sonder veel seremonie, sê Bill Botes, bestuurder by Shifty Records.

James Phillips

Die album is uitgereik toe Phillips, wat ook as Bernoldus Niemand musiek gemaak het, hoofsanger van die drietal-band The Cherry Faced Lurchers was.

“Dit was die tweede en laaste album wat hulle uitgereik het. Die eerste een, Live at Jamesons, wat oor twee aande regstreeks opgeneem is, was nogal upbeat. James was bewus van die politieke probleme in Suid-Afrika, maar hy het ook met sy eie probleme geworstel. Hy het gedrink. Hy het ’n uitval met baie mense gehad en uiteindelik het die album nie die aandag verdien wat dit moes nie. ’n Kasset hiervan is in die 1990’s uitgereik, maar ek wonder of daar vandag ooit 100 daarvan bestaan.”

Botes glo die liedjies is so goed dat dit weer die lig behoort te sien.

Die album gaan ook as CD en op digitale platforms uitgereik word.

Die CD bevat ook twee liedjies wat nie destyds die album gehaal het nie. Dit sal ook op die digitale platforms wees.

“James het empatie met die swart man se rol in Suid-Afrika gehad. Ek dink hy het terselfdertyd met ’n wit skuldgevoel geworstel. In daardie tyd is die Britse satiriese liedjie ‘I’ve Never Met a Nice South African’ uitgereik. Dit was basies ’n anti-Suid-Afrika-liedjie. James het toe die liedjie ‘Pommy Bastards’ geskryf. Dit takel daardie liedjie en die veroordeling van ons as wit Suid-Afrikaners destyds.”

Phillips se konserte was dikwels polities van aard, en so ook die gehore.

‘The Otherwhite Album’ is in die 1990’s as kasset uitgereik.

Hy het aanvanklik die band Corporal Punishment begin.

Die karakter Bernoldus Niemand het hy geskep omstreeks die tyd wat hy in die weermag en op universiteit was.

“Hy het dit as ’n grap begin, maar dit kry toe kultusstatus,” sê Botes.

“Maar hy wou ernstig opgeneem word met die ander musiek wat hy geskep het. En hy was ’n goeie liedjieskrywer en band-leier.”

Wie is Bernoldus Niemand?, wat deur die SAUK verbied is, is in 1984 uitgereik met treffers soos “Snor City” en “Hou my vas korporaal”.

“Ons wil uiteindelik daardie album ook weer uitreik,” sê Botes.

“So ook Niemandsland van Koos Kombuis. James het al die verwerkings daarop gedoen. Ons wil regverdig wees teenoor almal wat deel van Shifty Records se etiket was.”

Phillips is in 1995 op 36-jarige ouderdom dood aan beserings wat hy in ’n motorongeluk naby Makhanda (destyds Grahamstad) in die Oos-Kaap opgedoen het.

The Otherwhite Album sal van Oktober af by shifty.co.za bestel kan word.

Meer oor:  Johannesburg  |  Musiek
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.