Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Musiek
Verwerking van Vivaldi, Bach op Woordfees te hoor

Herkomposisie is die wagwoord wat die Toyota US Woordfees se deure vir een van die klassiekemusiekkonserte laat oopswaai het.

Vivaldi’s Four Seasons Recomposed deur die Duits-Britse komponis Max Richter en Bach’s Brandenburg Concerto No. 3 Recomposed deur die Suid-Afrikaanse komponis Hans Roosenschoon snr. sal vir seker luisteraars se ore opnuut laat spits.

Annien Shaw

Annien Shaw, ’n violis wat deel is van die Flat Mountain-projek wat die musiek uitvoer, sê hulle fokus op “opwindende moderne en eksperimentele klassieke musiek”, wat nie noodwendig in ’n teater uitgevoer word nie. Op die Woordfees in Stellenbosch sal hulle wel in die Endlersaal optree, maar ’n vorige uitvoering was in die atrium van die Zeitz-museum. “Ons het heel onder gesit terwyl mense om hoekies en draaitjies en deur gaatjies van bo op ons afgekyk het. Dit was wonderlik.”

Terug by die hergekomponeerde werke. Richter skryf baie musiek vir rolprente, waarvan Mary Queen of Scots die bekendste is, en dit is hoe sy herkomposisie van die Vier seisoene grotendeels klink, soos ’n rolprentklankbaan. Kenners stel dit so: “Al sê Richter hy het net 25% van Vivaldi se oorspronklike materiaal gebruik, is sy postmodernistiese en minimalistiese aanslag ook hierin duidelik te hoor.

“Die werk is ’n totale herkomposisie en herinterpretasie van Vivaldi se Vier seisoene,” sê die CD-omslag.

Die violis Daniel Hope is die solis vir die opname wat in 2012 met die Berlynse Konzerthaus Kammerorchester en André de Ridder op die dirigeerpodium gemaak is.

Roosenschoon snr. se herkomposisie van Bach se bekende Brandenburgkonsert is die regte pasmaat vir die Richter-keuse. Shaw sê die eerste beweging is kenmerkend van die Suid-Afrikaanse komponis se styl. “Dit bevat ’n groot kontrabas-solo met uitdagings soos flageolette wat selfs af van die vingerbord gespeel word. Die hele laaste beweging is vir pizzicato geskryf.”

Volgens die programnotas is Richter se herkomposisie van die Vier seisoene tans gewild as klankbaan vir TV-reekse en rolprente en het die Flat Mountain-groep die regte bekom om die musiek in Suid-Afrika uit te voer.

“Die musiek aktiveer vier van die luisteraars se sintuie, naamlik gehoor, sig, reuk- en tassin. Roosenschoon se werk versterk die belangrikheid van die internasionale herkomposisie-neiging wat tans in Barokmusiek gevind word.”

Die soliste in die Vier seisoene is Shaw en Bonolo Kgaile – elkeen speel die solo’s in twee van die vier seisoene.

Shaw het ’n doktorsgraad aan die Universiteit van Kaapstad verwerf en was ’n lid van die Kaapstadse Filharmoniese Orkes, maar haar betrokkenheid by ensembles, projekte en lesgee het só oorgeneem dat sy nou vryskut.

Die orkes wat die herkomposisies uitvoer, bestaan uit 18 musici wat twee kontrabasse, ’n harp en ’n klavesimbel insluit.

*7 Maart om 20:00 in die Endler.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.