Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Musiek
Violis (16) het nie groot musiekpryse verwag

Die tienerviolis Jordan Brooks glimlag die afgelope paar dae van oor tot oor nadat hy Saterdag in Kaapstad as die wenner van die 35ste Nasionale Jeugmusiekkompetisie aangewys is.

Die 16-jarige Kapenaar, ’n gr. 10-leerling van die Westerford High School in Nuweland, het die goue medalje en ’n kontantprys van R30 000 voor 17 van die land se beste musici tussen 14 en 19 jaar oud weggeraap.

Hy het ook die strykkategorie en nog twee pryse – R4 000 vir die beste uitvoering van ’n concerto in die eindronde en R2 500 vir die beste uitvoering van ’n Suid-Afrikaanse komposisie – gewen.

“Ek het dit werklik nie verwag om te wen nie,” sê Jordan. “Ek het aan die kompetisie deelgeneem om meer ondervinding op te doen; dit was ook ’n wonderlike geleentheid om ongelooflike werke uit te voer.”

Komposisies deur Beethoven, Veracini, Stephenson, Ysaÿe, Kroll, Saint-Saëns, Sinding, De Sarasate en ’n gedeelte van Sibelius se uitdagende vioolkonsert in d mineur op. 47 was deel van Jordan se kompetisieprogram.

“Ek was werklik verras en oorbluf toe hulle my as die wenner aankondig.”

Jordan Brooks met die medaljes wat hy in die 35ste Nasionale Jeugmusiekkompetisie gewen het.

Hoewel dit die jongeling se eerste deelname aan die kompetisie is, is dit nie die eerste keer dat hy heel bo op die podium staan nie. In 2015 was hy die wenner van die Samro Hubert van der Spuy Nasionale Musiekkompetisie vir musici onder 14 jaar oud, en net ’n jaar later het hy dit opgevolg met die eerste plek in ’n musiekkompetisie wat die Hugo Lambrechts-musieksentrum in Parow, Kaapstad, van stapel gestuur het om hul 30ste bestaansjaar te vier.

Dié louere kom egter nie maklik nie, sê hy. Sedert hy nege jaar gelede met viool begin het, oefen hy soveel hy kan om sy onderwyseres, Anne-Marié Swanepoel, by die Beau Soleil-musieksentrum te beïndruk. Die viool het hom aanvanklik gekies, sê hy.

“Toe ek die viool vir die eerste keer sien en hoor, het ek dadelik geweet ek wil dit speel. Niemand het my gedwing om viool te speel nie – dit was my eie keuse.”

Jordan sê hy kom uit ’n musikale familie.

“Almal aan my ma se kant van die familie maak musiek! My ma en tannie is sangers, my een oom is ’n pianis en die ander een speel tromme. My oupa het ook baie instrumente bespeel.”

Vir eers fokus die jong virtuoos op die viool. Tussendeur sy skoolwerk ruim hy wel tyd in om die konsertmeester van die Kaapstadse Filharmoniese Jeugorkes te wees – ’n rol wat hy die afgelope drie jaar vervul. Tyd vir enige ander buitemuurse aktiwiteite is daar nie regtig nie.

“Wanneer ek wel die tyd kry, hou ek daarvan om te gaan draf,” sê hy.

Hy sê hy oefen pal so hard sodat hy net soos die violiste Janine Jansen, Vilde Frang, Maksim Vengerof en sy vioolonderwyseres ’n lewe uit musiek kan maak.

“Ek gaan aanhou met musiek wanneer ek met skool klaarmaak.”

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.