Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Musiek
Violis van VSA, VS-orkes speel Paganini
Rachel Lee Priday, die violis wat volgende week in ’n simfoniekonsert in Bloemfontein optree. Sy speel Paganini se Viool-concerto nr. 1 saam met die Vrystaatse Simfonieorkes onder leiding van Bernhard Gueller.

’n Simfoniekonsert met die aanloklike titel Paganini’s Passion is die geskenk wat musiekliefhebbers kry in die plek van die Hongaarse violis Kristóf Baráti wat nie meer volgende Donderdag saam met die pianis Bryan Wallick in die Odeion optree nie.

Baráti moes sy Suid-Afrikaanse toer weens onvoorsiene omstandighede afstel.

Die simfoniekonsert deur die Vrystaatse Simfonieorkes bring egter die Amerikaanse violis Rachel Lee Priday na Bloemfontein en as dirigent, Bernhard Gueller, bekend om sy weldeurdagte ontginning van orkeswerke.

Priday, wat onder andere by die befaamde violis Itzhak Perlman gestudeer het, sal Paganini se Viool-concerto nr. 1 in D majeur uitvoer, vandaar die titel Paganini’s Passion.

Dié komponis en violis was ’n fenomenale virtuoos en het vioolwerke geskryf wat net hy in die eerste helfte van die 19de eeu kon uitvoer.

Nou nog vereis sy komposisies buitengewone violistiese vaardighede waaraan Priday luidens resensies met gemak voldoen.

Die concerto is darem nie net ’n virtuose vertoonstuk nie, dit is ook een van Paganini se mooiste werke.

Mozart se Towerfluit-ouverture lui die konsert in en Beethoven se Simfonie nr. 2 voltooi die program.

Priday, wat op agt jaar by die legendariese Julliard-dosent Dorothy DeLay begin les neem het, het haar orkesdebuut as negejarige meisietjie op die Aspen-musiekfees in 1997 gemaak. Sy was nog in Julliard se skoolprogram toe Perlman haar leermeester was.

Ná skool het sy ’n BA-graad in Engels by Harvard verwerf en in 2011 ’n meestersgraad in musiek aan die New England-konservatorium.

Priday het as solis reeds saam met die voorste Amerikaanse orkeste opgetree en in 2006 haar debuut in Europa gemaak. Daarna het ook uitvoerings in verskeie Verre Oosterse lande gevolg.

Sy geniet dit om deel van multidissiplinêre projekte te wees en het onlangs in Matthew Aucoin se nuwe Orphic Moment saam met ’n kontratenoor opgetree. Die produksie het ’n mengsel van poësie, drama, visuele beelde en musiek behels.

Sy was ook deel van ’n week lange speelvak van ’n interdissiplinêre teaterproduksie, Tchaikovsky: None but the Lonely Heart, oor die vreemde verhouding wat die komponis met sy weldoener, Madame von Meck, gehad het.

Gueller, ’n Duitser wat in Kaapstad gevestig is en die afgelope 13 jaar die musiekdirekteur van die Symphony Nova Scotia in Halifax, Kanada, word keer op keer geloof vir die passie, vaardigheid en drama wat hy na die konsertsaal bring.

Daarby kry hy dit reg om elke werk met ’n vars aanslag te benader.

Die konsert is moontlik gemaak deur die Kunstetrust en word aangebied deur die Odeion Skool vir Musiek en die Vrystaatse Simfonieorkes.
Paganini’s Passion: 25 Julie om 19:30, Odeion-teater (Kovsiekampus). Kaartjies: R150, R90, R50 by Computicket.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.