Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Musiek
Vir die wat dalk vergeet het, UB40 is gróót

UB40

Grand Arena, GrandWest-casino, Goodwood

*****

Wanneer jy ’n kitaarspeler het wat lyk soos een van daai Kubaanse outoppies wat smiddae kaalvoet en in ’n frokkie op ’n voorstoep in Havanna die snare laat tjieng-tjieng en die kitaar pluk soos ’n merrie wat ingebreek word, moet jy weet, pappa, jy is in vir vet pret.

Die twee trompetspelers in die agtergrond lyk ook sommer lus en blaas dat die honde huil terwyl die ou op die tromme die velle behoorlik looi – amper soos ’n moerige pa wat ’n ondeunde rooikopseun se gatvelle aftrek omdat hy die nuwe Fortuner teen die garagemuur gestamp het.

Klits in ’n seningrige ou met grys om die slape en wat die klawerbord slaan soos ’n kasregister op ’n besige Saterdagoggend by ’n Checkers-winkel in die noordelike voorstede van Kaapstad, dan moet jy weet, pappa, dit is Mickey Virtue van UB40.

Astro en Ali Cambell van UB40 het hul aanhangers baie gelukkig gemaak Dinsdagaand in die Grand Arena by die GrandWest-casino in Goodwood.Foto: Jaco Marais

En dan is daar Ali Campbell en Astro wat die UB-sirkel voltooi. Bietjie nou lank in die tand, maar niemand – soos in niemand – kan “Kingston Town” so sing soos dié twee nie. Dis juis op “Kingston Town” wat ek al begin het om uit my stoel in ry N26 te klim en my hande onbeskaamd in die lug gegooi het. En toe hulle die welbekende “Falling in Love” sing, was die hond los. ’n Mens wil jou nou nie op jou oudag bespotlik maak nie, maar as my wederhelf my nie so effens aan my hemp gepluk het nie, het ek waarskynlik net daar begin te blues met die korpulente vrou in die sitplek neffens my.

UB40 is die onbetwiste konings van reggae-musiek. Dié eens werklose groep van Birmingham se “Many Rivers to Cross” en “Cherry oh Baby” het die siele in die Grand Arena van die GrandWest-casino so geroer en laat beweeg dat dit kompleet gelyk het jy was by een of ander Angus Buchan-saamtrek. Dit was on-ge-looflik!

Selfs toe UB40 ná ’n uur se reggae besluit het om van die verhoog te stap, het mense nog in hul stoele gesit en hulle hees geskree en gevra vir nog.

Niemand het beweeg nie, want wat is ’n UB40-vertoning sonder “Red, Red
Wine?” En toe, met hul “wederkoms” op die verhoog, tokkel hulle “Red, Red Wine” dat jou voete jeuk. Mens het hierdie liedjie al so baie gehoor, maar dit bly waarskynlik die kroonjuweel van UB40.

UB40 is groot. Hoe groot? Ampers los ek ’n vloekwoord!

  • UB40 tree op 17 Mei in die internasionale konferensiesentrum in Durban en op 19 Mei in die Sun Arena, Time Square, Pretoria, op. Bespreek by Computicket.
Meer oor:  Ub40
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.