Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Musiek
Vlak 3: KFO maak ander planne
Die Kaapstadse Filharmoniese Orkes repeteer in die Kaapstadse stadsaal. Kyk hoe ver terug sit die hout- en koperblasers. Foto: KFO

Kaapstad-opera en die Kaapstadse Filharmoniese Orkes (KFO) kon net die eerste uitvoering van Bizet se Les pêcheurs de perles (Die pêrelvissers) aanbied voordat die koronavirus verlede week weer sy wurggreep op teaterproduksies verstewig het.

Die volgende twee uitvoerings van die opera in die Kunstekaap is uitgestel, asook die duetgala wat op 26 Junie met ’n hele rits bekende sangers sou plaasvind.

Vlak 3-inperkings weens die derde vlaag van Covid-19 het ook die KFO se beplanning in die wiele gery.

’n Beperkte getal gehoorlede sou op 30 Junie toegelaat word om na Francois du Toit se uitvoering van Brahms se Klavierconcerto nr. 1 te luister, asook na Simfonie nr. 4 van Beethoven.

Die groot orkes wat nodig is vir die Beethoven- en die Brahms-werk is reeds meer as die 50 mense wat die jongste Covid-19-reëls toelaat, dus moes die konsert inderhaas vervang word.

Dirigent Bernhard Gueller het op Dvorak se Tsjeggiese Suite in D-majeur, op. 39 en Beethoven se Simfonie nr. 1 in C-majeur, op. 21 besluit, wat op 30 Junie sonder ’n gehoor opgeneem word en van 8 tot 12 Julie aanlyn beskikbaar sal wees.

Anmari van der Westhuizen, tjellis van Bloemfontein en lid van die Odeion-strykkwartet, voer ’n Haydn-concerto saam met die Kaapstadse Filharmoniese Orkes uit. Stewige Perspex-panele skei die dirigent, Bernhard Gueller, van die orkes. Foto: KFO

Gueller sê hy het die Dvorak-suite gekies omdat dit die eerste keer sal wees dat die KFO dit speel, terwyl hy agting het vir die Beethoven-simfonie omdat dit met sy debuut in 1800 ’n nuwe musiekera ingelui het.

Opnames

Sylvia Gueller, bemarkingstrateeg van die KFO, sê jy sal dink ’n klank- en visuele opname van ’n konsert is ’n eenvoudige taak wat jy vinnig afhandel en op ’n stromingsplatform laai waarna duisende kaartjies wêreldwyd verkoop word.

“Hoegenaamd nie,” sê sy.

Die handhawing van sosiale afstand het talle gevolge vir die orkes.

“Musici kan nie meer langs mekaar sit en dieselfde bladmusiek gebruik nie. Perspex-kabinette is gemaak om veral die blasers van hul medespelers af te sonder. Ook die dirigent het ’n eie skerm gekry, wat hom beskerm, maar ongelukkig die klank versteur. Dit bons terug van die kabinette en demp die klank,” verduidelik Gueller.

“Daarby sit die blasers so ver terug dat hulle die note ’n raps vroeër moet speel om die dirigent saam met die res van die orkes se klank te bereik.

“In party lokale sit die agterste spelers so ver dat die dirigent ’n mikrofoon moet gebruik wanneer hy tydens repetisies met hulle moet praat.”

Die koste daaraan verbonde om ’n konsert te verfilm is enorm en word nie naastenby deur kaartjieverkope vir die stroming gedek nie.

Gueller sê ’n borg het aangebied om een opname te finansier, waaroor hulle verheug is, “maar talle opnames gaan nog gemaak word voordat die konsertlewe na normaal terugkeer en daarvoor is ook finansiering nodig”.

Orkesopnames word verder dikwels deur die beperking op getalle gepootjie. As net 100 mense in ’n lokaal toegelaat word, is net sowat 20 kaartjies vir gehoorlede oor nadat die getal musici en opnamespan se lede bereken is.

Daarby is die orkes verplig om ’n mediese en veiligheidspersoon vir repetisies te huur, wat die koste ver bo die inkomste opjaag.

Ondanks die struikelblokke en talle onverwagte kansellasies wat nuwe strategieë genoodsaak het, het die KFO sedert verlede jaar ’n lang lys van aanlyn konserte beskikbaar gestel.

Verskeie jeugkonserte is uitgesaai: die jaarlikse gemeenskapsgala, ’n YouTube-video waarin orkesinstrumente bekend gestel word en gratis aan skole verskaf is, deelname aan twee feeste, kamerkonserte, operas en ’n Cinemagic-opname.

Dit is benewens die kubersimfonieë (Cyber Symphonies), waarvan twee in Desember, vier in Maart en drie in Mei uitgesaai is met vier wat vir stroming in Julie gereed is.

Konserte vir Augustus en November is reeds in die beplanningstadium, asook ’n dirigentekompetisie en ’n komponiskompetisie later vanjaar.

Dit alles word deur skenkings en borgskappe van die Kaapstad-metro, die Rupert-musiekstigting en talle onbaatsugtige bydraes moontlik gemaak.

Kommentaar

Gueller sê “die KFO is die leier in kuberkonserte in Suid-Afrika met ’n toename in volgelinge as bonus, wat blyk uit kommentaar wat ontvang word”.

“Het julle ons staande applous in Australië gehoor?” en “Ek het in die Schubert gehuil” uit Kanada, is van die terugvoering wat al ontvang is.

’n Getroue Kaapse konsertganger sê hoewel sy nie kan wag om weer ’n KFO-uitvoering regstreeks in ’n teater te hoor nie, erken sy dat aanlyn konserte voordelig is wanneer jy dit tussen werk- en gesinsverpligtinge moet inpas.

‘Winter Cyber Symphony’-seisoen

8 tot 12 JulieDvorak – Tsjeggiese Suite in D-majeur, op. 39

Beethoven – Simfonie nr. 1 in C-majeur, op. 21

Dirigent: Bernhard Gueller

15 tot 19 Julie

Haydn – Tjelloconcerto in C-majeur

Beethoven – Simfonie nr. 3 in E-mol-majeur (Eroica)

Solis: Anmari van der Westhuizen

Dirigent: Bernhard Gueller

22 tot 26 Julie

Brahms – Simfonie nr. 3 in F-majeur, op. 90

Tsjaikofski – Klavierconcerto nr. 1 in B-mol majeur, op. 23

Solis: Luis Magalhães

Dirigent: Jeremy Silver

29 Julie tot 3 Augustus

Beethoven – Klavierconcerto nr. 3 in C-mineur, op. 37

Mozart – Simfonie nr. 40 in G-mineur, K550

Solis: Megan-Geoffrey Prins

Dirigent: Bernhard Gueller

Meer oor:  Musiek  |  Kfo  |  Covid-19
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.