Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Musiek
Vliegtuig ‘te klein’ vir Nataniël se nuwe kostuum
Nataniël in een van sy nuwe kostuums, wat ook deur Floris Louw ontwerp is. Hoe presies sy reuse-‘Drakensberg’-kostuum lyk, is nog ’n geheim. "Ek wys nooit wat ek op die verhoog gaan dra nie," sê hy.

Gehore wat regsit vir ’n nuwe konsertreeks deur die immergewilde Nataniël, gaan benewens blues-, jazz- en popmusiek ’n ekstragroot visuele verrassing kry: ’n reusekostuum wat maklik die breedte van ’n verhoog kan beslaan.

Die kostuum deur Floris Louw, wat al jare lank die sanger en skrywer se kostuums ontwerp, is glo te groot om in ’n vliegtuig Kaap toe gebring te word en daarom is dit in ’n vragmotor van Pretoria af vervoer.

Hoe die kostuum lyk, is nog ’n groot geheim.

“Dit is die grootste, langste en swaarste kostuum van my loopbaan,” sê Nataniël, wat vir sy kostuums op die verhoog bekend is.

“Dis nie baie extravagant nie – ek is nie Liberace nie – maar die omvang is werklik indrukwekkend.”

Hy sê hy het ’n hele tegniese span wat hom op en agter die verhoog help om in en weer uit die kostuum te kom – ook die sowat agt tot tien ander kostuums wat in sy nuwe produksie, When Giants Waltz, te sien sal wees. Al die kostuums is met materiaal uit Parys, Frankryk, gemaak.

“Daar word op en agter die verhoog harder gewerk in die donkerte as in die lig. Dis ’n sewe-sekonde-nagmerrie om net uit een kostuum in ’n ander te kom. Ons bestee omtrent ’n dag daaraan net om die kostuumverwisselings te oefen,” sê hy.

“Maar dis hoe ek daarvan hou: Ek hou van fisieke goed op die verhoog – nie projeksies en skerms en sulke twak nie. Ek is ’n Victoriaan: Alles wat voor jou gebeur, is rubber en lap en karton en Velcro.”

Dit (die kostuum) is ongeveer 9 m breed, 2 m hoog – hoër as Nataniël – en bestaan uit sowat 65 m se lap. Ek kon die kostuum nog nooit heeltemal ‘oopmaak’ nie – my ateljee is gans te klein – so ek moes dit in stukke bou.
Floris Louw, kostuumontwerper

Volgens Louw is dit die grootste kostuum wat hy in sy loopbaan ontwerp het. Hoewel hy twee en ’n half maande daaraan gewerk het, het hy nog nie die finale produk gesien nie.

“Dit is ongeveer 9 m wyd, 2 m hoog – hoër as Nataniël – en bestaan uit sowat 65 m se lap,” sê Louw.

“Ek kon die kostuum nog nooit heeltemal ‘oopmaak’ nie – my ateljee is gans te klein – so ek moes dit in stukke bou.”

Nataniël se opdrag aan hom was om “net so ’n groot ding” te maak. Dié ding het later ’n naam gekry.

“Ek het aanvanklik daarna verwys as ’n draak, toe ’n monster en toe ’n berg,” sê Louw.

“En toe word dit eindelik die Drakensberg-kostuum. Ek kan nie wag om dit op die verhoog te sien nie!”

Nataniël sê hy het die kostuum bestel om in te pas by die konsert se titel én die soeklig wat hy tydens die konsert op uiteenlopende “reuse” wil plaas.

“Die konsert kan nie gaan oor reuse en dan staan ek voor die gehoor in ’n balletrokkie nie,” sê hy.

Daar is geen vloekwoorde of naaktonele (in die konsert) nie, behalwe dat my wange nou so groot is dat dit ’n naaktoneel op sy eie is.
Nataniël

“Natuurlik gaan ek nie Shakespeare se versamelde werke opvoer nie, maar in die konsert wil ek kyk na al die reuse wat tans almal se lewe opmors: idiotiese regerings, mense wat aardverhitting ontken, maatskappye wat plastiek gebruik, kerke wat jou intimideer, banke wat vir jou sê wat jy kan en nie kan doen nie – maar daar is ook gentle en fantastiese reuse. Hulle wil ek ook in die konsert belig.”

Hy sê die konsert is nie geskik vir kinders jonger as 15 nie.

“Daar is geen vloekwoorde of naaktonele nie, behalwe dat my wange nou so groot is dat dit ’n naaktoneel op sy eie is.

“Maar die tipe stories wat ek vertel, interesseer geen kind onder 15 nie – en as hulle nie in die gehoor op hul selfone sit nie, vra hulle hul ma’s: ‘Mamma, wie is die kaalkoptannie op die verhoog?’ Nee, nee, kinders moet liefs tuisbly.”

  • When Giants Waltz is van 10 tot 14 September om 20:15 en op 15 September om 15:00 in die Kunstekaap te sien. Die kaartjies kos tussen R190 en R290 en kan by Computicket bespreek word.
  • In Oktober sal When Giants Waltz ook elke Vrydag en Saterdag om 20:00 en elke Sondag om 15:00 in Emperors Palace se Theatre of Marcellus uitgevoer word. Die kaartjies kos tussen R128 en R490 en kan by Computicket bespreek word.
Meer oor:  Musiek  |  Nataniël  |  When Giants Waltz  |  Konsert
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.