Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Musiek
Vroue-komponis wil Weense operahuis ‘bietjie skud’
Olga Neuwirth is die eerste vrouekomponis wie se werk in 150 jaar in die Weense Staatsoperahuisopgevoer word.

’n Opera gekomponeer deur ’n vrou word vir die eerste keer in 150 jaar in die Weense Staatsoperahuis in Oostenryk opgevoer.

Olga Neuwirth het Virginia Woolf se roman oor transgender mense, Orlando, in ’n opera verwerk wat op 8 Desember in dié gevierde operahuis open.

Nie net die musiek is deur ’n vrou geskep nie, al die sleutelrolle word deur vroue vertolk.

Neuwirth het die libretto saam met die dramaturg Catherine Filloux geskryf, die regisseur is die Brit Polly Graham en die kostuumontwerper is Rei Kawakoebo wat die mode-handelsnaam Comme des Garçons gevestig het.

Die vloeibaarheid tussen geslagte en selfs genres mag dalk die konserwatiewe gehoor, wat dieselfde repertorium oor en oor wil hoor, in hul sjampanje laat stik, meen Neuwirth. “Ek weet nie of die gehoor ontvanklik sal wees vir die gay reis van Orlando en my musiek nie.” Maar sy sê terselfdertyd sy wil “die oudmodiese, wonderlike operahuis ’n bietjie skud”.

“Die werk gaan nie net oor gender-vloeibaarheid nie, dit bevraagteken alle dualistiese stelsels soos vryheid van spraak, om die identiteit te kies waarvan jy hou en om nie as man of vrou in ’n boksie geplaas te word nie.

Orlando se kind word vertolk deur die Amerikaanse transgender-kabaretkunstenaar Justin Vivian Bond. Die res van die rolverdeling bestaan uit opgeleide operasangers.

Ander instrumente as dié in ’n simfonieorkes sal in die orkesbak wees, naamlik ’n elektriese kitaar en twee sintetiseerders, terwyl ’n jazz-band op en af van die verhoog sal beweeg. Rekwisiete, onder meer kokosneute, word ingespan om klankeffekte te skep.

Daarby moet die violiste hul snare ’n kwarttoon laer stel, waaroor hulle hewig ontsteld is.

Volgens Neuwirth het geleenthede vir vroue-komponiste oor die afgelope drie dekades toegeneem, maar die risiko en belegging in nuwe musiek het in belangrike teaters afgeneem.

In 2004 is Neuwirth se opdragwerk vir die Weense Staatsopera oor kindermishandeling deur ’n Nazi-dokter afgekeur.

Tekens van teenstand teen Orlando steek kop uit nadat ’n bekendstellingsvertoning afgestel is sodat die kunstenaars “meer tyd kan hê om die komplekse en uitdagende produksie baas te raak”. Karoline Gruber, die aanvanklike regisseur, is ook intussen vervang.

Die dirigent is Matthias Pintscher. Vyf vertonings is vir Orlando geskeduleer. – Bronne: music-opera.com, theguardian.com, wiener-staatsoper.at

Meer oor:  Musiek  |  Opera
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.