Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Musiek
VS se jeugblasers hou gratis konsert
Koperblasers fokus op die musiek.
George Foster
Danré Strydom

“Blaasinstrumente is nie maklik om te leer speel nie,” val die klarinetspeler Danré Strydom met die deur in die huis op ’n navraag oor die Vrystaatse Jeugblaasensemble (VSJBE) se konsert Sondag.

“Maar jong spelers kry moed om met hul musieklesse voort te gaan wanneer hulle in ’n orkes speel. Hulle besef dan dat daar meer aan die instrument is as om les te kry en alleen by die huis te oefen.”

Dié kinders, asook gevorderde skoliere, studente en ’n paar volwassenes gaan in die konsert in die Odeion-teater wys hoe plesierig dit vir hulle is om in ’n groep musiek te maak. En as hulle dit geniet, geniet die gehoor dit ook.

Strydom en George Foster, onderskeidelik die houtblaas- en koperblaasdosent aan die Odeion Skool vir Musiek (OSM), het die orkes in 2015 onder die vaandel van die Vrystaatse Simfonieorkes (VSO) en die OSM op die been gebring. Dit is sedertdien uitgebrei met jong spelers wat Sondag hul eerste kans kry om in ’n teaterkonsert op te tree.

Die jongstes speel ’n paar korale, ’n klompedans en Odeion Hand Jive, wat Strydom spesiaal vir die geleentheid gekomponeer het.

Daarna sal die meer ervare musici die program voortsit met standaardwerke wat gereeld op Amerikaanse verhoë gehoor word, soos Pirates of the Caribbean, Irish Tune, Shepherds Hey, Lord of the Rings, The Locomotive Chase en Spiritual Rhapsody.

Strydom sê sy en Foster het op skool in blaasensembles gespeel, daarom weet hulle hoe inspirerend dit is en dat jy in daardie omgewing jou instrument die beste leer ken.

“ ’n Hele nuwe wêreld gaan vir jou oop as jy deel word van ’n orkes,” sê sy.

Met dit in gedagte het hulle twee gemeenskapsprojekte op die been gebring. Strydom lei die Young Virtuosi en Foster die Heidedalprojek.

Die meesterlike (en vrygewige) Duitse koperblaasensemble Harmonic Brass München het instrumente vir die projekte geskenk en die Royal Schools of Music het as ’n borg ingetree. Dosente aan die OSM onderrig die leerlinge.

Die VSJBE oefen elke Dinsdag van 17:00 tot 19:00 maar voor ’n konsert, soos vandeesweek, sit hulle ekstra ure in.

  • Strydom dirigeer die werke waarvan die jongste spelers deel is en Foster neem by haar oor vir die res van die konsert. Die VSJBE kan op 24 April om 16:00 in die Odeion op die UV-kampus gehoor word. Die konsert duur sowat ’n uur en toegang is gratis.

Meer oor:  Bloemfontein
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.