Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Musiek
Vusi Mahlasela kry eregraad in musiek

Die Universiteit van KwaZulu-Natal (UKZN) het vandag ’n eredoktorsgraad in musiek aan die musikant Vusi Mahlasela toegeken. Hy het dit ontvang vir sy bydrae tot die Suid-Afrikaanse musiek en verbetering van die gemeenskap in die algemeen.

Vusi Mahlasela het vroeër vandag sy eredoktorsgraad ontvang by die gradeplegtigheid van die Universiteit van KwaZulu-Natal.

Hy is ’n kitaarspeler, sanger, komponis, verwerker en orkesleier wie se liedjies dikwels as inspirasie gedien het in die era van apartheid.

In sy aanvaardingstoespraak het Mahlasela gesê musiek inspireer, help menings vorm en help met die implementering daarvan.

“Musiek se invloed strek ver en wyd, dit dra vinnig en ekonomies oor en is ekonomies binne die bereik van mense. Dit vermaak en is opvoedkundig en bereik almal wat nie betrokke is by ander kunsvorme soos drama, literatuur of beeldende kuns nie,” het hy gesê.

Hy het ’n beroep gedoen op alle Suid-Afrikaners, insluitend die regering en akademici om in die kunste te belê.

“Musiek maak die liggaam opgewonde, dit voed die siel, laat die brein ontwikkel, maak siekes gesond, hou gesinne en gemeenskappe bymekaar en bring hoop. Dis daar wanneer mense begrawe word en bring rustigheid. Hoe is dit egter moontlik vir musiek om dit alles te doen wanneer kunstenaars van honger en uitbuiting sterf en dan net by hul dood onthou word deur die mense wat veronderstel was om vir hulle te sorg?”

Mahlasela het sy graad ontvang by die universiteit se lentegradeplegtigheid op die Westville-kampus waar 1 972 studente (57% van hulle vroue) hul grade ontvang het.

Die eerste jare van sy loopbaan was hy onder die apartheidsregering. Hy was tien jaar oud toe hy in 1976 gesien het hoe leerlinge geskiet word by die oproer wat toe begin het. As gevolg van wat hy beleef het, het sy musiek polities gelaai ontwikkel met elemente van die struggle, vryheid en geregtigheid.

Hy het by politieke byeenkomste en kultuurgeleenthede opgetree en hy is ook in hegtenis geneem vir sy uitsprake. Selfs in aanhouding het hy aanhou komponeer, soms in afgesonderde aanhouding op toiletpapier.

In die 1990’s het sy loopbaan opgebloei en in 1992 het hy sy eerste album gemaak met die titelsnit “When You Come Back”. Hy het dit later in 2010 gesing by die afskop van die Wêreldbeker-sokkertoernooi in die Orlando-stadion. Dit was ’n lied vir al sy vriende wat Suid-Afrika verlaat het. Hy het twee jaar later by Nelson Mandela se inhuldiging as president opgetree.

Internasionale ondersteuning het ook gegroei. In 2002 het hy opgetree in Lee Hirsch se dokumentêr oor die rol van musiek in die struggle. In 2005 het hy ses liedjies vir die klankbaan van die rolprent Tsotsi gekomponeer. Hy het ook by die viering van Mandela se 90ste verjaardag in Hyde Park, London in 2008 opgetree.

Vusi Mahlasela het vroeër vandag sy eredoktorsgraad ontvang by die gradeplegtigheid van die Universiteit van KwaZulu-Natal.

In sy loopbaan het hy al die verhoog gedeel met bekende musikante soos die Dave Matthews Band, Josh Groban, Sting, Paul Simon, Ladysmith Black Mambazo, Hugh Masekela, Angelique Kidjo en Amos Lee.

Daar is verskeie temas in sy musiek, onder meer vergifnis, respek vir alle mense en hoop. Hy het die veldtog teen skaliegasontwikkeling in die Karoo ondersteun en ook ’n stigting begin vir die bewaring van musiek uit Afrika.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.