Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Musiek
Vuurwarm Saarkie toer land plat

Wanneer hulle op die verhoog spring by Aardklop het Saarkie al sowat 60 optredes vanjaar agter die rug. Nog meer as 30 wag vir die res van die jaar.

Jy sal dit nie agterkom nie. Hulle is jonk en vol energie en leef vir hul musiek.

Swig hulle nie onder die swaar toerprogram nie?

Erika Pretorius, Adèle Fouché en Lila Botha van Saarkie.Foto: GIRL WITH HAT

“Nee,” sê Adèle Fouché, hoofsanger, liedjieskrywer, kitaar- en mondfluitjiespeler. “Musiek maak is die droom wat ons leef. Dalk antwoord ek jou oor 20 jaar anders, maar vir nou is dit al wat ons wil doen.”

Saarkie is sonder twyfel tans Suid-Afrika se gunsteling-vrouerockers. Hulle het pas die musiekvideo vir hul enkelsnit “Vir altyd” van hul jongste album, Queen van die toorbos, uitgereik.

Die groep bestaan al meer as ’n dekade en hierdie is die vierde album ná Luister, Identiteit en Reisiger.

Fouché meen die klank op die jongste album is beter en rustiger as voorheen.

Daar was aanvanklik vyf lede in die groep, maar nou is dit die twee kernlede Fouché en die tromspeler Lila Botha, asook die baskitaarspeler Erika Pretorius wat verlede jaar by hulle aangesluit het.

“Ek en Lila het van die begin af geweet wat ons visie en droom is. Studies en ander prioriteite het gemaak dat die ander lede moes gaan. As ’n mens wil toer, moet jy dit regtig wil doen.

“Groot gehore is lekker omdat ’n mens die energie kan aanvoel, maar ons speel vir enige aantal mense. Of dit ’n piepklein gehoor of ’n reuseskare is, jy moet bereid wees om jou beste te gee.”

Saarkie het begin met klein konserte en bekender liedjies van ander kunstenaars. Hulle het hul eie liedjies ingewerk en gou het die woord versprei – Saarkie is vuurwarm.

“Ons hoef nie meer mense te smeek om in hul plekke te speel nie,” sê Fouché met ’n laggie.

Sy vertel dat dit veral Karen Zoid was wat haar geïnspireer het. Dit was vir haar wonderlik om toe later met Zoid ’n verhoog te kon deel.

Saarkie tree die naweek by Aardklop op. Om verskeie redes het hierdie fees vir hulle ’n spesiale plek in die hart.

“Die eerste jaar wat ons by Aardklop opgetree het, is ons aangewys as beste nuwelinge op die fees. Dit het ons laat glo ons is op die regte pad.”

En pad het werklik vir hulle padlangs geword. Kyk ’n mens na die toerprogram wat hulle al vanjaar agter die rug het, gly Suid-Afrikaanse dorpe se name soos ’n wedvlugduif by jou verby.

Van Kaapstad, na Bloemfontein, Smithfield, Kokstad, Upington, Vanderbijlpark, Pretoria, Greytown, Leeudoringstad, noem maar op.

Van die middel van Desember vanjaar onderneem hulle ’n Kaapse toer wat van Swellendam tot in Kampsbaai strek, met vele dorpe tussenin.

Saarkie het al die verhoog gedeel met onder andere Klopjag, Van Coke Kartel, The Parlotones, The Black Cat Bones, Southern Gypsy Queens, Piet Botha, Steve Hofmeyr, Kurt Darren en Die Heuwels Fantasties.

Saarkie tree môre en Saterdag by Aardklop op. Op Woensdag 11 Oktober is hulle in Bloemfontein.

Vir meer besonderhede oor waar hulle optree, besoek www.saarkie.com.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.