Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Musiek
Waar Boer en Boesman se musiek harmonieer
Prof. Paulus van der Merwe met ’n eiegemaakte mondboog. Foto’s: Teresa Smith

Een van die vroegste musiekinstrumente van Suider-Afrika, die mondboog, het pas sy debuut op die gewilde internet-webtuiste YouTube gemaak. Die Suid-Afrikaanse musikus prof. Paulus van der Merwe, tans verbonde aan die Hochshule in Hamburg, Duitsland, speel op sy eiegemaakte eensnaar-mondboog, afgewissel met ’n diatoniese harmonika, terwyl hy C. Louis Leipoldt se Hantam-liedjie “Op my ou ramkietjie” neurie.

Ook Egbert van Bart, bekende kultuurgees op Groot-Marico, het ’n eiegemaakte negesnaar-ramkie, wat hy heel beskrywend ystervarkie noem, op hierdie gewilde kunstenaar- en toeriste-enklawe, in die Bosveld van die Noordwes Provinsie, bekend gestel.

Van der Merwe het aan Die Kunste vertel: “Die ramkietjie-liedjie het gekom nadat Egbert vir my Eugène Marais se Dwaalstories laat lees het. ‘Klein Riet Alleen in die Roerkuil’ het met my gesels . . . Ek spesialiseer in hobo, en die riet van die hobo is ook vol komplikasies en dwaalstories. Egbert lees toe eendag ‘Klein Riet Alleen’ se storie vir vriende voor, en ek maak die klankbaan met mondboog en mondfluitjie daarvoor. Die mondfluitjie het maar daar rond gelê, en ek het skielik die geskiedenis van my land en my wêreld sien saamkom waar Boesmans en Boere se musiek kan saamspeel . . . Dit was Leipoldt se Hantam-gedig wat vir my laat dink het aan die mondboog met net een snaar. En skielik het dit so goed gepas!

“Ons speel nou al jare lank mondboog en ramkie in die Marico. Dis van die wonderlikste instrumente om mense te laat saamspeel. Van kinders tot oer-oumas! Eenvoudig X en wonderlik! Egbert, wat ook klavier speel, het sy eie weergawe van die ramkie, een met nege snare, gemaak. Hy noem dit die ystervarkie. En Grant Smith, Maricojaan wat eintlik in Afrika-tromme, soos die Wes-Afrikaanse djembe, en Oosterse ghongs spesialiseer, het twee tradisionele segaba-strykinstrumente gemaak. Die segaba is myns insiens ’n voorganger van die ramkie én snaar-instrumente in die algemeen. Ander name vir die segaba is: segankuru, serankure of sebinjolo . . .” vertel Paulus.

Luidens Afrikaanse Etimologieë van S.P.E. Boshoff en G.S. Nienaber, SA Akademie vir Wetenskap en Kuns, 1967, word die herkoms van die naam ramkie (vir ’n inheemse musiekinstrument bestaande onder meer uit ’n boog en ’n snaar) ontleen aan ’n Koi-dialek: die Namas (Khoi-Khoin) het die instrument ramgi-b genoem. Portugese soos Vasco da Gama het dit rabequinha (rabeca = viool; pequeno = klein) genoem, ’n klein soort viool dus.

Egbert van Bart met sy ystervarkie, ’n eiegemaakte ramkie (ramgi-b), met nege snare.
Grant Smith met sy segaba, waarskynlik ’n voorganger van die ramkie.

Op my ou ramkietjie

(C. Louis Leipoldt)

Op my ou ramkietjie

Met nog net een snaar

Speel ek in die maanskyn,

Deurmekaar.

Ek sing van Adam

En Eva se val,

Van die ou Paradys.

“Halfpad mal!”

So sê die mense

Wat my hoor speel

As die skemer my wang soen

Soos ferweel.

As die maan my aanhoor,

En die sterre knik,

Dan speel ek kordaat voort,

In my skik.

Wat gee ek om mense

Wat sê ek’s mal,

As die varings my aanhoor

By die wal?

Wat om my vrinde -

Wat nooit nie verstaan -

As die sterre my toeknik,

En die maan?

Op my ou ramkietjie

Met nog net een snaar,

Speel ek in die maanskyn,

Deurmekaar.

Leipoldt het die gedig die eerste keer in 1923 in sy digbundel Uit Drie Wêrelddele laat verskyn. Dit handel oor ’n onbekende, vermoedelik inheemse, musikant van die Hantam, die wêreld noord van Clanwilliam, Wuppertal en die Sederberg, tot by Calvinia X die kontrei wat Leipoldt so innig lief gehad het.

Dr. Jan Bouws, eertydse direkteur van die Instituut vir Volksmusiek en dosent in musiekwetenskap aan die Universiteit Stellenbosch, het die woorde later getoonset, en in 1937 is “Op my ou ramkietjie” as volksliedjie in die FAK Sangbundel opgeneem. Die immergroen liedjie word vandag nog deur talle Afrikaanse uitvoerende kunstenaars gespeel en gesing.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.