Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Musiek
Wag gerus vir hierdie Bach
Die lede van die nuwe OSM Barok-ensemble is van links Francois Henkins, Tilla Henkins, Lance Philip, Kobus Malan, Cézarre Strydom en Petrus Krige (voor).

Dit is moeilik om ’n titel soos Bach kan nie wag met ’n Barokkonsert te vereenselwig. Barokmusiek kom tog met ’n strikdas en ’n stywe atmosfeer, reken ’n mens.

“Hoegenaamd nie,” sê Petrus Krige, een van die stigters van die nuwe OSM Barok-ensemble wat vandeesweek in Bloemfontein optree.

“In die Baroktyd, min of meer tussen 1700 en 1750, was uitvoerings besonder informeel. Musiekliefhebbers het in rykes se huise bymekaargekom om musiek te maak wat redelik chaotiese geleenthede was.

“ ’n Klompie musici het gewoonlik rondom ’n klavesimbel gestaan en na mekaar gefront. Die gehoor het om dié informele opstelling gesit en gelê – ja, party het regtig gelê – terwyl kinders daar rondgehardloop het en partykeer sommer saamgesing het,” vertel Krige.

Om by die informele luim aan te sluit, sal al die lede van die OSM Barok-ensemble ’n stuiwer in die armbeurs gooi oor Johann Sebastian Bach, dié komponis van die Barok-era en uit wie se werke die hele program bestaan.

Hulle noem hom Sebastian, asof hy teenwoordig is, en korswel oor sy passie vir jong vroue en sy groot skeppingsdrang – hy het 20 kinders gehad. Vandaar die titel Bach kan nie wag.

Nog ’n verskynsel wat nie algemeen bekend is nie, is dat talle Barokkomposisies nie vir spesifieke instrumente geskryf is nie. Die musiek is op enige beskikbare instrumente uitgevoer, solank al die geskrewe note net geklink het. “Baie Barokmusiek kan op viool, of hobo, of fluit of blokfluit gespeel word,” sê Krige.

Hy het vir die konsert die Brandenburg-concerto’s nr. 2 en nr.4, die Dubbel-concerto vir hobo en viool, ’n orreltrio-sonate en arias uit kantates verwerk vir tenoor en orrel (Lance Philip), hobo en blokfluit (Kobus Malan), viool (Francois Henkins), tjello (Tilla Henkins), klavesimbel (Cézarre Strydom) en blokfluit (Krige).

Krige sê hy het in sy navorsing oor dié soort konsertaanbieding “fabelagtige skyfies” gevind wat die musiek deurentyd sal belig.

“Voordat ons begin speel, verskuif die toneel na Leipzig. Dis die jaar 1749, ’n jaar voor Bach se dood. In die loop van die program “besoek” ons ook sy geboortedorp, Eisenach, asook ander plekke waar hy gewoon en gewerk het.”

Meer sinspelings as net Bach se skeppingsdrang word na aanleiding van die titel Bach kan nie wag gemaak.

Om deel te wees van die interessante konsertstyl en uit te vind wat die oorsprong van die vreemde titel is, meld op 17 November om 19:30 in die portaal van die Odeion-teater op die Kovsiekampus aan. Kaartjies kos R50 by Computicket.

Meer oor:  Bloemfontein  |  Klassieke Musiek
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.