Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Musiek
Wat is goeie musiek ... kenners gee hul mening
Goeie musiek is goeie musiek. Punt. Klaar. Dít is wat die sanglegende Amanda Strydom glo. So ook Die Heuwels Fantasties se Pierre Greeff. Maar wát is goeie musiek, vra Rozanne Els vir ses van Suid-Afrika se topmusikante.

Is dit so maklik soos om te sê dit hang af van elke mens omdat smaak verskil? Of is daar musiek wat net eenvoudig beter is as ander?

Dit is ’n amper moontlike vraag om te beantwoord. Strydom sê my vrae klink soos wiskundesomme.
Ek dink darem nie so nie. As Afrikaanse musikante is sy, Greeff, die lieflingrocker Francois van Coke, die rapper Jack Parow (Zander Tyler), die hiphopper Hemelbesem (Simon Witbooi) en die popsanger Suzanne Uys in die middel van die musiekbedryf. Hulle ken van.

’n Ruk terug sê Koos Kombuis in ’n Maroela Media-artikel dat Afrikaanse musiek in ’n krisis verkeer. 

Dis nie dat hy nie van Afrikaanse popmusiek hou nie – hy gebruik Snotkop as voorbeeld – maar dié soort musiek hou as’t ware die hele bedryf gevange.

So, is hy reg?

Wat maak van iets goeie musiek? En wanneer is dit bloot vrot – finish en klaar?

Goeie musiek is goeie musiek. Punt. Klaar.

’n Mens vertrou Strydom se antwoord. Sy weet waarvan sy praat. Bewyse? “Ek loop die pad.” “Pelgrimsgebed.”

Amanda Strydom: “Solank daar nog in Afrikaans gesing word, sien ek nie gevaar vir die bedryf nie.” Foto: Verskaf

“Musiek wat die toets van tyd deurstaan en steeds geluister word. ’n Goeie, sinvolle liriek in suiwer Afrikaans met ’n mooi melodie wat jou bybly, raak my en laat my weer en weer luister,” sê sy ook.

Uys sê iets wat ek lankal glo, maar nog nooit verwoord het nie: Goeie musiek is meer as net klank.

“Is dit musiek van die verlede? Die Voëlvry-beweging? Fokofpolisiekar? Hulle het gesê wat nodig is en gepraat met mense in die taal waarin hulle dit wou hoor, nodig gehad het om in te hoor.”

Uys praat met hartstog.

“Ek glo goeie musiek roer iets binne jou.”

Die argument van “ ’n mens kan mos nie sê nie, dis subjektief” steek ook kop uit, maar ek druk deur. Wat is dit vir jóú?
Musieksmaak is baie persoonlik, sê Greef.

“Amper soos ek love ’n stukkie avo, maar jy kan dit glad nie eet nie. Net so verstaan ek nie hoekom mense sal wil argumenteer oor of ’n stuk musiek goed of sleg is nie. Dit is mos maar wat dit vir jou is.”

Van Coke se antwoord begin diplomaties: “Wat vir my goed is, is nie noodwendig goed vir iemand anders nie.”

Goeie musiek? Dít is liedere wat met hom praat, sê Francois van Coke: Foto: Alet Pretorius

Maar dan:

“Ek hou van liedere wat met my praat. Eerlike songs wat emosie opwek. Dít is die belangrikste ding vir my.”

Hemelbesem is “ ’n lirieke ou” maar goeie musiek het ’n “lyn wat regdeur loop”.

Maar, “ ’n mens kan ook goed leer liefkry”. En dan?

Dan waardeer jy dit vir wat dit is.

Daar is ’n effense pouse voor sy volgende sin.

Hemelbesem, oftewel Simon Witbooi, sê Afrikaanse musikante moet ophou bang wees om nuwe goed te probeer of nuwe platforms aan te durf. Foto: Verskaf

“As ’n song praat. Dan, dan is dit ’n goeie song.”

En wat beteken die verkoopsyfers?

“Sê nou maar die musiek is breindood, maar dit verkoop dalk die meeste, daai mense doen definitief iets reg,” sê Van Coke.

Talle Afrikaanse musikante maak keel skoon oor die status quo van dié bedryf. Dit is nie op standaard nie, sê die een. Ons maak nie geld nie, sê die ander.

Waar lê die fout?

“Ek het al dikwels gehoor hoe mense kla oor die gehalte van kommersiële Afrikaanse musiek,” sê Strydom.

“As gedwonge rym ingespan word en twee sinne oor en oor herhaal word, is dit suiwer luiheid. Waar is die substansie?”

Dis die “doef-doef-f–kken-baby–f–kken–tjoklits” wat gemaak het dat gevoel en die kuns van die liriek skaars is, sê Parow.

“Die mense wat die meeste uitfreak, is die mense wat daai musiek maak.

“Daai kant van Afrikaanse musiek is besig om uit te sterf.”

Mense betaal nie meer vir albums nie, al minder beursies word vir vertonings oopgemaak.

Die “sokkie-bokkie”-kunstenaars het nie hiervoor voorbrand gemaak nie, sê Parow.

Jack Parow, oftewel Zander Tyler: “Hoekom sal ek Afrikaanse musiek nét vir Afrikaanse mense maak?” Foto: Allister Christie

Die geld is nou in borge.

“Ongelukkig, nou nie om ’n d–s te wees nie, maar Jannie wat ook al . . . Coke gaan hom nie endorse nie en dis die ding.”

In plaas van kop verloor, sê Parow, “maak ’n plan”.

Blootstelling aan vernuwing, aan nuwe en anderste klank, ’n breër musiektoneel – dit is wat luisteraars bemagtig en die musiekbedryf laat blom, meen hy.

“Die Afrikaanse popmark is baie groot. Ek het eintlik net gesê ‘f–k dit’, en my eie mark geskep.

“En dan as mense soos ek of Fokofpolisiekar uitkom is ons satan, want mense ken dit nie.”

Maar hy het hulle oorgewen. Dit het net ’n bietjie gewoond raak geverg.

In kort, hoe Parow sy gevoel oor die meerderheid van Afrikaanse popmusiek beskryf:

“Al daai soort k–k wat ek haat, dit is vir my die f–kken horribleste musiek in die wêreld.

“Ek kan dit nie f–kken handle nie.”

Suzanne Uys is ’n popsanger wat besluit het om dinge op haar manier te doen. Foto: Jana Heyns

Uys vertel dat ’n platemaatskappy eens vir haar gesê het om soveel as moontlik liedjies te skryf – ongeag of dit sleg is of nie.

“Dis ’n kommersiële worsmasjien,” beskryf sy dit. En ja, dit het beslis ’n invloed op die gehalte en standaard van plaaslike musiek. Maar sy weet ’n musikant moet kommersieel dink.

“Dit bly my brood en botter. Dit is steeds ’n bedryf en ’n werk. So ’n mens moet aanpas. Die ideaal is om te kyk waar die mark is en dan te kyk waar jy wil wees en ’n middeweg probeer vind.”

Dit ís die bedryf se verantwoordelikheid om te vernuwe, sê Greeff.

“Probeer ander dinge, probeer ander kombinasies. Ons het dit definitief nodig en die talent is daar.”

Die vraag moet dan seker ook gevra word: Wat is ’n goeie musikant?

Hulle gebruik ander woorde, maar die boodskap is duidelik. Wees eerlik. Wees eg. Bly skeppend. Moenie jou luisteraar onderskat nie. Toets jou én hul grense.

“Kunstenaars wat in my kop met my praat,” sê Van Coke.

Hemelbesem: “As ’n musikant jou kan beweeg. Hy maak jou kwaad, hy maak jou gelukkig, hy maak jou bly, of hartseer of iets, dan het hy sy job gedoen.”

Wat is nodig vir Afrikaanse musiek om te groei, verder te ontwikkel, vorentoe te beweeg?

Die woorde kom in ’n ry van Strydom: Substansie. Goeie liriekskrywers. Respek vir die taal. Oorspronklikheid. Trots. Toewyding. Finansiële steun.
Van Hemelbesem die boodskap dat vrees agterweë gelaat moet word. Dat platforms nie bang moet wees om nuwe goed op die planke te sit en te probeer en foute te maak en dan weer en weer te probeer nie.

Alles moet tog êrens begin, of hoe?

Want waar is Afrikaanse reggae? R&B in Afrikaans? Soul? Afrikaanse jazz?

Pierre Greeff meen daar is ’n plekkie vir almal in die Afrikaanse musiekbedryf se sonkolletjie. Foto: David Branson

“Ons is bang vir die goed. Nou, die mense wat dit kan doen, hulle draai hul rug op dit en doen dit maar in Engels en verdwyn in die groot orkaan van Engels wat daarbuite is, never to be seen or heard from again.

“Dít is sad. Dis so tough.

“Ons musiekbedryf beskou Afrikaans nie as ’n taal nie, hulle beskou dit as ’n genre.

“Jy gaan in ’n musiekwinkel in en my hiphop-albums is langs Bobby van Jaarsveld.”

Mense moet doen wat hulle moet doen, sê Parow. Maar as jy jou uitgee vir ’n toffie dan gaan jy gekou word.

“Jy moet weet mense gaan nie 50 jaar van nou nog daarna luister nie.

“Ek werk myself f–cked up om seker te maak dit is die beste. Ek probeer my beste om dit op internasionale standaard te kry. Jy moet probeer om bo ander mense uit te styg.

“Ek wil nie net inpas nie.”

Parow is driftig oor Afrikaans se plek op die internasionale musiektoneel.

“Jy moet groter drome hê . . . As ek net Afrikaanse musiek vir Afrikaanse mense gemaak het, wat is die punt?

“Ek is trots op Afrikaans. My hele ding, Fokof se ding ook, ons is lief vir Afrikaans, maar ons wil die res van Suid-Afrika ook daarvoor lief maak. En die res van die wêreld. Nie net ’n klein groepie van Afrikaanse mense happy hou nie,” sê hy.

En ál hoe jy dit gaan doen, sê hy met hartstog is om jouself uit te daag, beter te wees, aan die gehalte te werk.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier