Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Musiek
Watershed hou private konsert vir Federer, Nadal
Die tennisster Roger Federer saam met drie van Watershed se lede: Gideon Botes, Craig Hinds en Howie Combrink. Foto: Instagram

Die Suid-Afrikaanse rockgroep Watershed sê hulle was uit die veld geslaan toe hulle ’n versoek ontvang om ’n private konsert vir die tennislegendes Roger Federer en Rafael Nadal in Kaapstad aan te bied.

Craig Hinds, die groep se voorsanger, sê hulle het net ’n dag voor Federer en Nadal se Match in Africa-liefdadigheidswedstryd op 7 Februarie in die Kaapstad-stadion ’n oproep ontvang met die versoek om ná die kragmeting vir die twee spelers musiek te maak.

“Dit was ’n groot verrassing en geheel en al onverwags,” sê Hinds.

“Hulle (Federer en Nadal) het via die luukse hotel-villa Ellerman House gevra dat ’n cool en bekende plaaslike groep ná die wedstryd op ’n private geselligheid vir familie en vriende optree. Ons het nie te veel vrae gevra nie – ons het net ja gesê en dat ons daar sal wees!”

Hinds sê hy en twee van die groep se ander vier lede – Howie Combrink en Gideon Botes – het ’n “buiteliggaamlike ervaring” tydens die vertoning gehad, veral omdat al die lede van die groep groot tennis-aanhangers is.

“Ná ons akoestiese vertoning in Ellerman House se wynkelder, het Rafa ons gegroet en na sy villa teruggekeer. Roger het toe besluit hy soek nog musiek by sy villa, wat ’n uitsig oor die see het. Ons het toe ons kitare gegryp en nog ’n akoestiese vertoning vir Roger, sy vrou, Mirka, en sy bestuurspan gelewer.

“Federer het ná die vertoning gesê hy weet van ons liedjie ‘Indigo Girl’, wat ’n groot treffer rondom 2002-’03 in Switserland en Europa was.

“Ons Springbok-kaptein, Siya Kolisi, was ook daar, wat werklik spesiaal was, asook (die Tsjeggiese tennisspeler) Tomas Berdych.”

Hinds sê hulle het ongelooflike mense ontmoet en beskryf die tennissterre as “ware here”.

“Dit was in geheel ’n baie spesiale oomblik in ons loopbaan – en beslis een wat ons nooit sal vergeet nie!”

Netwerk24 het vroeër berig dat Federer die enkelspelwedstryd teen Nadal in Kaapstad met 6-4, 3-6, 6-3 gewen het. Federer en Bill Gates het ook 6-3 teen Nadal en Trevor Noah in ’n spesiale dubbelspelwedstryd koning gekraai.

Die Roger Federer-stigting het met die vertoonwedstryde meer as R45 miljoen vir die onderrig van kinders in Afrika ingesamel.

Die wedstryd is deur 51 954 mense bygewoon, wat ’n nuwe wêreldrekord vir die getal toeskouers by ’n tenniswedstryd is.

Meer oor:  Musiek  |  Tennis  |  Sport  |  Roger Federer  |  Match In Africa  |  Rafael Nadal
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.