Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Musiek
Wêreld kan nou Vrystaat se beste klassieke musiek beleef

Die eerste Vrystaat Klank en Klassik (VKK), wat vroeër vanjaar ook weens die pandemie nie uit die wegspringblokke kon kom nie, gaan weer probeer om sy buiging te maak – dié keer in ’n nuwe aanlyn formaat.

Anneke Lamont Foto: Argief

Die VKK is volgens ’n mediaverklaring deur die Vrystaat Kunstefees geskep om spesifiek vir uitvoerende klassieke musici en liefhebbers van dié kunsvorm hul eie platform te gee.

Elretha Britz, die VKK se kurator, sê aan Netwerk24 die fees volg eintlik in die voetspore van die destydse Odeion Musik Fest, wat 15 jaar lank deur die Rupert-stigting befonds is en jaarliks vir twee weke lank in die Odeion-teater in Bloemfontein aangebied is.

“Dié fees van kamermusiek is goed bygewoon deur ’n toegewyde gehoor, maar dit het doodgeloop toe Derek Ochse, die vervaardiger en dryfkrag daaragter, in 2015 oorlede is.

“Ons glo dit is noodsaaklik om die getroue ondersteuners van klassieke musiek weer ’n fees van suiwer klassieke musiek te bied en wil die leemte weer met regstreekse konserte vul,” sê sy.

Magdalene Minnaar Foto: Annene van Eeden

Ricardo Peach, feesdirekteur van die Vrystaat Kunstefees, sê die VKK se aanlyn formaat gee hulle ook ’n kans om vir die wêreld te wys wat in die Vrystaat steek.

“Ons is baie gelukkig om weer finansiering van die Rupert-stigting te kry en weer ’n klassiekemusiekfees aan te bied,” sê hy aan Netwerk24.

“Ons doen dit aanlyn, want ons het ’n geleentheid om die Vrystaat, Vrystaat-landskappe en unieke Vrystaat-stories op ’n visuele manier te vertel, wat ons dan aan mense kan uitsaai.

“Dit gee ons ook ’n goeie geleentheid om vir die wêreld te wys wat in die Vrystaat aangaan, en help ons om gehore te bou sodat ons dalk volgende jaar, wanneer alles weer oukei is, ’n fisieke VKK te kan aanbied.”

Die aanlyn VKK bestaan uit vyf konserte wat een ná die ander van 1 tot 5 Oktober uitgesaai gaan word. Elke konsert sal vir twee weke lank aanlyn beskikbaar wees. Gehore sal op vasgestelde tye kans kry om direk op Facebook met van die feeskunstenaars te gesels.

Die feesprogram sluit die volgende in:

  • Anneke Lamont gaan die 250ste herdenking van Beethoven se geboortejaar met sy monumentale Diabelli-variasies vier.
  • Magdalene Minnaar (sopraan) en Maryke Johnson (klavier) gaan in Broadway to Baroque by Bach begin en met uittreksels uit Evita, The Producers en Les Misérables eindig.
  • Die Odeion-strykkwartet gaan benewens werke van Von Webern en Mendelssohn ook werke deur die Suid-Afrikaanse komponiste Mokale Koapeng, Nadia Burgess en Allan Stephenson uitvoer.
  • ’n Verkleinde Vrystaatse Simfonieorkes gaan onder meer ’n Bach-concerto vir twee viole, “Winter” uit Vivaldi se Vier seisoene en ’n klarinetconcerto deur Mozart aanbied. Die soliste is Samson Diamond en Sharon de Kock (albei violiste) en Danré Strydom (klarinet). Die dirigent is Alexander Fokkens.
  • Die fees sluit af met ’n gratis verskeidenheidskonsert deur die beste studente aan die Universiteit van die Vrystaat se Odeion Skool vir Musiek (OSM), asook die OSM Camerata onder leiding van Elsabé Raath.

Al dié aanbiedings gaan met ’n ekstra toevoeging open wat nie vroeër vanjaar op die VKK se program was nie.

“Die konserte word ingelei deur akteurs wat kort verbeeldingstories deur van Bloemfontein se bekendste skrywers vertolk,” lui ’n mediaverklaring.

“Die stories is deur die musiek geïnspireer en die visuele opnames is in treffende Vrystaatse landskappe gemaak.”

Dié skrywers sluit Jaco Jacobs, Ilne Fourie, Nàomi Morgan en Zee Bashew in. Die akteurs is Gerben Kamper, Jefferson J Dirks-Korkee, Nosana Sondiyazi en Hillétjie Möller Bashew.

Die Odeion-strykkwartet bestaan uit (van links) Anmari van der Westhuizen (tjello), Samson Diamond (eerste viool), Jeanne-Louise Moolman (altviool) en Sharon de Kock (tweede viool). Foto: Argief

Daarby gaan Léon Snyman, OSM-tegnologiedosent, ’n gratis klankkunslesing lewer wat hy aanlyn op die International Conference on Music and Sounds van die London Centre for International Research en die International Planetarium Society in Edmonton, Kanada, gelewer het. Dié lesing kan vanaf 1 Oktober op www.vrystaatkunstefees.co.za gekyk word.

  • Kaartjies vir die eerste Vrystaat Klank en Klassik kos R40 per konsert of R100 vir ’n feespakket van vier konserte (die OSM-konsert is gratis). Bespreek by Webtickets, Pick n Pay of www.vrystaatkunstefees.co.za.
  • Elretha Britz is 'n gereelde medewerker van Netwerk24 en Volksblad.
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.