Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Musiek
Wêreldwye lof vir Clegg: Asimbonang’ uJohnny . . .

’n Geliefde, inspirerende en heldhaftige stem het stil geword.

So het pres. Cyril Ramaphosa Woensdag hulde gebring aan die musikant Johnny Clegg (66) nadat hy Dinsdagmiddag sy stryd teen pankreaskanker verloor het.

Hy het in sy huis in Johannesburg gesterf.

Ramaphosa beskryf Clegg in ’n verklaring as ’n “uitsonderlike landgenoot en ’n ikoon van maatskaplike samehorigheid en nierassigheid”.

Johnny Clegg in die vroeë dae van Juluka.Foto: Getty Images

Beauty Dlulane, voorsitter van die parlement se portefeuljekomitee oor sport en ontspanning, sê die musiekbedryf is armer gelaat sonder Clegg.

“Nie baie mense sou die standpunt inneem wat Johnny gedoen het ten tyde van die hoogtepunt van rasseverdeling in die land nie. Hy het geïdentifiseer met die stryd om die bevryding van swart mense en met die waardes van ’n vrye samelewing.”

Die ANC beskryf Clegg as die “stem van oorgang in Suid-Afrika”.

“Hy was een van die dapper musikante wat die apartheidsregime met kuns gekonfronteer het.

“Mnr. Clegg het sy musiek gebruik om mense van verskillende rasse te verenig.”

Die Universiteit van die Witwatersrand (Wits) sê in ’n verklaring dat Clegg, ’n alumnus van en voormalige dosent aan Wits, se lewe en werk die multikulturalisme en maatskaplike integrasie uitgeleef het wat in die Grondwet voorgestel word.

Die Nelson Mandela-stigting sê in ’n verklaring Clegg was ’n uitsonderlike Suid-Afrikaner en dat oudpres. Nelson Mandela hom sou beskryf het as ’n ware landgenoot.

Verskeie oorsese publikasies het Woensdag geskryf oor die geskiedkundige oomblik toe Mandela Clegg in 1997 op ’n verhoog in Duitsland verras het.

‘Tot siens, Pa’

Johnny Clegg se seun, Jesse, ook ’n musikant, het sy pa op sosiale media vir sy inspirasie bedank.

“Dankie vir die betowerende geskenke wat jy ons gegee het en dat jy ’n spesiale plek in jou lewe geskep het vir jou familie. 

“Jy het my geïnspireer as ’n musikant en as ’n man en jy het my die gereedskap gegee om ’n sinryke lewe te leef,” skryf Jesse. 

Jesse skryf dat hy sy pa gaan mis en dat hy sukkel om ’n wêreld in te dink sonder hom. 

“Maar ek voel gerusgestel om te weet dat jou wysheid en deernis in ons almal leef. Hamba kahle, pa, rus in vrede.”

  • Karen Zoid skryf in ’n huldeblyk dat Clegg ’n leidende gees was.  “Vir my was hy ’n nederige musikant, ’n vriend wat my by my huis besoek het.”  Sy skryf dat Clegg ’n vreeslose avonturier was tot die einde. 

    “Om dapper te wees moet jy aanvaar dat jy altyd ’n bietjie bang gaan wees. Dankie dat jy dit bewys het deur hoe jy jou lewe oor en oor geleef het.”

Clegg was besig om sy proteslied “Asimbonanga” van 1987 te sing toe Mandela al dansende die verhoog opgestap het.

Van die lirieke sluit in: “Asimbonang’ uMandela thina”, wat beteken “Ons sien Mandela nie.”

Dit bevat ook ’n lys name van vermoorde ANC-lede.

Mandela het Clegg toe gevra om die liedjie te herhaal sodat almal saam kan dans.

“Dit was die hoogtepunt vir my. Dit was net ’n volmaakte en ongelooflike geskenk van die heelal,” was Clegg se reaksie destyds, berig The Guardian.

Clegg se musiek, ’n vermenging van maskandi en mbaqanga met Westerse musiek, asook sy lewendige verhoogpersoonlikheid, het wyd aandag getrek.

Hy het Engels en Zoeloe ook gemaklik as lirieke langs mekaar gebruik en talle plaaslike treffers gehad.

Saam met Sipho Mchunu, sy vennoot in die groep Juluka, het hy Afrika-klanke en -danse die wêreld ingedra.

Dit is later voortgesit in die groep Savuka nadat Mchunu die groep verlaat het.

Clegg, daar bekend as die Wit Zoeloe, is veral gewild in Frankryk, waar hy in 1991 vereer is met die Chevalier des Arts et des Lettres (ridder in die orde van kuns en letterkunde).

Hy is ook in 2015 vereer as ’n Officer of the Order of the British Empire (OBE).

Nigel Casey, Britse hoë kommissaris in Suid-Afrika, het op Twitter sy medelye met Clegg se familie en vriende uitgespreek. “Vaarwel, Johnny Clegg OBE. ’n Vooraanstaande Suid-Afrikaner en ’n wonderlike siel.”

Clegg (regs) deel die verhoog saam met sy seun, Jesse.
Meer oor:  Johnny Clegg  |  Medelye  |  Sterfgeval  |  Celebs
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.