Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Musiek
Wes-Kaapse musici seëvier in jeugkompetisie
Jordan Brooks, ’n violis en die konsertmeester van die Kaapstad Filharmoniese Jeugorkes (KFJO) en leerling aan die Westerford High School in Nuweland, Kaapstad, het met die gesogte eerste prys van R30 000 en die goue medalje weggestap. Hy wen ook die strykkategorie, plus twee verdere pryse, waarvan een die R4 000 vir die beste uitvoering van ’n concerto in die eindronde is.

Drie jong Wes-Kaapse musici het oor die naweek geseëvier in die Nasionale Jeugmusiekkompetisie (NJMK). Die kompetisie het op Saterdag 12 Oktober ’n hoogtepunt bereik met ’n galakonsert by die Hugo Lambrechts-Ouditorium in Parow, Kaapstad.

Die ses finaliste het in ’n volgepakte ouditorium teen mekaar meegeding onder begeleiding van die Kaapstad Filharmoniese Orkes (KFO), gedirigeer deur Brandon Phillips.

Die 16-jarige Jordan Brooks, ’n violis en die konsertmeester van die Kaapstad Filharmoniese Jeugorkes (KFJO) en leerling aan die Westerford High School in Nuweland, Kaapstad, het met die gesogte eerste prys van R30 000 en die goue medalje weggestap. Hy wen ook die strykkategorie, plus twee verdere pryse, waarvan een die R4 000 vir die beste uitvoering van ’n concerto in die eindronde is.

Die silwermedalje en R12 500 prys is toegeken aan die 17-jarige pianis Gerhard Joubert van Stellenbosch, ’n gr. 12-leerling aan die Hoërskool Jan van Riebeeck in Kaapstad. Hy is ook die klavierkategoriewenner en loop weg met die Pauline Nossel-prys van R4 000 vir die beste uitvoering van ’n klassieke werk deur ’n pianis. Hy wen ook die uitnodigingsprys van die Namibië Nasionale Simfonieorkes (NNSO) om volgende jaar by hulle Concertofees in Windhoek op te tree.

Brooks en Joubert het al twee ’n verdere R2 500 ontvang vir die beste uitvoering van ’n Suid-Afrikaanse werk in enige ronde van die kompetisie.

Gerhard Joubert van Stellenbosch (regs) wen die silwermedalje. Hy is ’n gr. 12-leerling aan die Hoërskool Jan van Riebeeck in Kaapstad en is ook die klavierkategoriewenner. Daniel Brodie, van Oos-Londen en ’n student aan die Universiteit Stellenbosch, wen die bronsmedalje. By hulle staan Brooks, die wenner van die eerste prys.

Die pianis Daniel Brodie, 19, van Oos-Londen en student aan die Universiteit van Stellenbosch wen die bronsmedalje en R6 500 se prysgeld. Hy en Leo Huan, 16, ’n pianis van Pretoria, is albei aangewys as die naaswenners in hul kategorieë.

Die wenner van die R5 000-prys vir die houtblaaskategorie en ’n silwermedaljewenner, die faggotspeler Liam Slabbert, 16, van Brackenfell is ’n leerling aan die Hoërskool Durbanville. Hy het ook die R4 000-Leon Hartshorne-prys vir die beste houtblaasinstrumentalis ingepalm.

Die NJMK vier vanjaar 35 jaar van musiek-uitmuntendheid. Altesaam 17 mededingers het van 8 tot 12 Oktober teen mekaar meegeding. Elkeen moes ’n wye repertorium van werke uit verskillende styltydperke uitvoer en is beoordeel deur nege vooraanstaande musiekkenners.

“Dit was van die begin af duidelik dat dié opkomende sterre die gehalte van die kompetisie gaan verhoog,” sê Michael Maas, stigter van die kompetisie en voorsitter van die Nasionale Jeugmusiekkompetisie. “Elke deelnemer het in eie reg presteer.”

Die ander kategorienaaswenners is Pendo Masote, 15, van Johannesburg (strykwerk) en Lisa van Wyk, 19, van Bellville (houtblaas).

Vaughan McLea, 17, ’n tjellis van Bergbron, Roodepoort, en leerling aan Helpmekaar Kollege in Braamfontein, Johannesburg, het die R4 000-Polina Burdukova-prys vir die beste uitvoering deur ’n stryker van ’n werk van ’n Russiese komponis weggestap.

Hy het voorts die R3 000-Unisa-skadujurie-prys as die mees belowende semifinalis wat nie ’n finalis was nie, gewen. Hy en Pieter Joubert, 17, van Bloemfontein het al twee die R2 000-Michael Masoteprys as die mees belowende kandidate in die strykwerkkategorie gekry.

Die ander Michael Masote-pryswenners was David Cyster, 19 (houtblaas), Keon Müller, 15 (houtblaas), en Simon Wu, 19 (klavier).

* Die Nasionale Jeugmusiekkompetisie word ondersteun deur die Kaapstad-metro, die Oppenheimer Gedenktrust, die Rupert Musiekstigting, Joan St Leger Lindbergh Charitable Trust, Nussbaumstigting, Nasionale Loterykommissie, Overstrand Kunste en die Ackerman Opvoedingstrust.

Meer oor:  Wenners
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.