Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Musiek
Wieniawski het spesiale plek in violis se hart
Veriko Tchumburidze

’n Concerto van Wieniawski was ’n uitgemaakte saak vir haar program toe die 23-jarige Turks-Georgiese violis Veriko Tchumburidze gevra is om haar Suid-Afrikaanse debuut saam met die Kaapstadse Filharmoniese Orkes (KFO) te maak.

Nadat sy die 15de Internasionale Wieniawski-vioolkompetisie in 2016 gewen het, loop sy oor van dankbaarheid vir die geleenthede wat vir haar te beurt geval het en laat nie ’n kans verbygaan om dié 19de-eeuse Poolse komponis met haar spel te gedenk nie. Soos in die KFO se somerfees in Kaapstad.

Nog ’n “nuweling” wat op 23 Februarie op die stadsaal se verhoog sal verskyn, is die Amerikaanse dirigent Brandon Keith Brown. Hy woon deesdae in Berlyn en tree gereeld saam met Duitse orkeste op.

Musiek vloei dik deur die Tchumburidze-are. Veriko se ma en suster is violiste, haar pa ’n hobospeler, en ’n tante is ’n mezzo-sopraan, almal professionele musici.

Tchumburidze was drie jaar oud toe sy haar ma gevra het om haar ook viool te leer speel. Vandat sy die eerste keer die viool opgetel het, het sy geweet sy wil die res van haar lewe musiek maak. Gelukkig het sy die nodige selfdissipline, vasbeslotenheid en talent ontvang om ’n sukses van haar loopbaan te maak, soos sy vroeg reeds met eerste pryse in jeugkompetisies in Turkye en Georgië bewys het. Sy was 20 toe sy die strawwe Wieniawski-kompetisie gewen het.

Tchumburidze se ouers is van Georgië, maar woon in Turkye, waar sy grootgeword het. Deesdae is München haar tuisstad en die Hochschule für Musik und Theater haar slypskool.

Sy het haar musiekstudie aan die Mersin-staatskonservatorium in Turkye begin en was een van die uitverkore jeugmusici wat deel van die projek vir jong musici op wêreldverhoë aan die Hochschule fu¨r Musik in Wene was.

Sedert die Wieniawski-oorwinning tree sy oral in Europa in solokonserte, saam met orkeste en in verskeie kamerkonserte op. Verlede jaar het sy haar buiging in Australië gemaak en nou sit sy die eerste keer voet in Afrika, waaroor sy baie opgewonde is. Sy sê haar nuuskierigheid oor lande, mense en musiek dryf haar.

Dié jong violis het ’n spesiale plek in haar hart vir die komponis en vioolvirtuoos Henryk Wieniawski.

“Sy musiek kom vir my natuurlik en wanneer ek dit speel, voel dit of ek hom persoonlik ken.”

Die Vioolconcerto nr. 2 in D mineur, op. 22, word as Wieniawski se beste werk bestempel. Dit bevat ryk melodieë en is hoogs idiomaties geskryf.

Die hoofelemente van die eerste deel is somber, rusteloos en uiteindelik liries waarvoor ’n verskeidenheid uitdagende tegnieke vereis word, soos chromatiese glissandi, dubbelgrepe, arpeggio’s, sesdes, oktawe en talle stryktegnieke.

Die stadige tweede deel volg sonder ’n breek en eindig met ’n rapsodiese cadenza en passievolle klimaks.

’n Stralende finale in sigeunerstyl bevestig waarom die concerto een van die gunstelinge van die Romantieke periode is.

Van die “ondenkbare” geleenthede wat uit die Wieniawski-sege gespruit het, is uitvoerings saam met die Melbourne-simfonieorkes, die Zürich-kamerorkes, optredes op die Radio France-fees in Montpellier, Beethoven se Pasefees en samewerking met musici soos Marc-Andre Hamelin, Tabea Zimmermann, Leif Ove Andsnes en Maxim Vengerov.

Tchumburidze is drie jaar ná die Wieniawski-prys steeds oorstelp oor die wêreld se teaters wat haar innooi.

Dié tweede konsert in die KFO se somerfees open met Mendelssohn se Meeresstille und glückliche Fahrt (Kalm see en voorspoedige vaart) en sluit ná die Wieniawski af met Sibelius se Simfonie nr. 1 in E mineur.

  • 23 Februarie om 20:00 in die Kaapstad-stadsaal. Bespreek by Computicket of Artscape Dial-A-Seat, 021 421 7695.
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.