Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Musiek
Wil emosie in sy musiek vasvang
Joshua na die Reën se tweede album is onlangs uitgereik.

Johannesburg. – Die bekroonde sanger Joshua na die Reën fokus op die emosionele kant van die mens met sy tweede album, Die wêreld binne my, wat pas uitgereik is.

“Daar is ’n geestelike en fisieke kant aan die mens, maar mense moet ook fokus op hul emosio­nele kant, hoe jy voel en hoe jy dinge beleef.”

Dit is dus mense se binnewêreld waarop hy fokus en hy streef self daagliks na ’n positiewe ingesteldheid.

“Ek weet dis nie altyd so maklik nie, maar ek glo ’n mens moet probeer om hoop te hê. Dit is ook vir my ’n daaglikse struikelblok, maar ’n mens moet kies om gelukkig te wees. Dis nie so maklik nie, maar ’n mens moet groei in daai rigting. As ek terugkyk op die afgelope 10 jaar, kan ek sien watter groei daar was. Ek hanteer situasies nou anders.”

Joshua, oftewel Jacques de Villiers, is getroud met Danél. Hul eersteling, Anán, is in November gebore.

Die nuwe album bestaan uit 16 snitte, waarvan 13 splinternuut is. Dit bevat drie bonussnitte wat liedjies soos “Vir altyd” en “Voshaarnooi” – die temaliedjies van die rolprente Vir altyd en Ballade vir ’n enkeling – insluit.

Hy is reeds talle kere vereer: ’n Ghoema-toekenning vir nuweling van die jaar en beste kontemporêre manlike kunstenaar, ’n Huisgenoot Tempo-prys vir beste nuweling asook ’n Woordfeesprys vir beste solokunstenaar.

Die titelsnit, “Die wêreld binne my”, is reeds op radiostasies se speellyste.

Hy is gaande oor die klavier en het ’n graad in jazz-klavier, maar op dié album span hy ook ander instrumente in soos kitaar, elektriese kitaar, baskitaar en viool. Die Tuks Camerata-koor tree ook saam met hom op.

“As kind het ek met ’n klein keyboard begin. Dit was my eerste instrument. Ek het ook begin belangstel in strykinstrumente, hoewel ek nie enige kan bespeel nie.”

Behalwe vir die opneem van sy musiek in rolprente, is sy lied “Lig op die horison” ’n ruk gelede as kykNET se temalied gebruik.

“Dit gee ’n mens vir seker ’n ander gehoor.

“Die liedjie ‘Voshaarnooi’ het beslis die generasie voor my se aandag getrek omdat dit ’n nostalgiese treffer is. ‘Lig op die horison’ het ook ver gestrek. Mense op die platteland sal vra dat ek kykNET se liedjie moet sing. Dit is vir my regtig lekker om emosie in musiek vas te vang.”

. Die snitte op Die wêreld binne my is op iTunes beskikbaar. Besoek jndr.co.za om die album te bestel.

Meer oor:  Musiek
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.