Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Musiek
Wild groet met allemintige Kaapstad Opera-program
Matthew Wild sluit sy loopbaan van ses jaar by Kaapstad Opera af met die nuwe seisoen wat pas aangekondig is. Foto: Jaco Marais

Werke van die komponiste Monteverdi, Engelbert Humperdinck, Benjamin Britten, Puccini en ’n Suid-Afrikaanse opdragwerk gekomponeer deur Sibusiso Njeza met libretto deur Asanda Chuma Sopotela. Die terugkeer van talle operasterre na Kaapstad, omdat Europese operahuise nog op slot is. Klein rolverdelings in groot venues om sosiale afstand te verseker en ’n opwindende vennootskap met ses voorste Suid-Afrikaanse visuele kunstenaars danksy die Norval-kunsstigting.

Dit kenmerk Kaapstad Opera se program vanjaar.

Dit is die sesde en laaste seisoen saamgestel deur Matthew Wild, die artistieke direkteur, wat later vanjaar die leisels oorgee aan die Brit Michael Hunt. Hunt begin ook vanjaar ’n ronde streektoere, waarvan die eerste ’n produksie van La bohème is.

• ’n Opname vir kykNET van Monteverdi se Vespro della Beata Vergine (Vespers of the Blessed Virgin) volg in April vanjaar in die St George’s-katedraal in Kaapstad.

Die soprane Elsabé Richter en Brittany Smith, die mezzosopraan Siphokazi Molteno, die tenore Makudupanyane Senaoana, Jason Atherton en Nkululeko Mqobongo en die bariton William Berger, asook die bekroonde Kaapstad Opera-koor, die Tygerberg-kinderkoor en Camerata Tinta Barocca onder leiding van Erik Dippenaar is deel van dié besonderse uitvoering.

Volgens Wild beoog hulle ’n regstreekse opvoering met ’n gehoor so gou as die Covid-19-maatreëls dit toelaat.

• Van 3 tot 10 April in die Operahuis van Kunstekaap is dit tyd vir Humperdinck se donker sprokie, Hänsel und Gretel. Dit is ontwerp deur die kunstenaar-fotograaf Roger Ballen en die regisseur is Alessandro Talevi. Ané Pretorius is te sien as Hänsel en Brittany Smith as Gretel.

• Die eenbedryf-operas Njeza se Amagokra saam met Britten se Curlew River is op 4 en 5 Junie in die Novalis Ubuntu-instituut op die planke. Curlew River fokus op ’n vrou wat rou oor die dood van haar kind en Amagokra (Helde) belig die geweld jeens vroue in Suid-Afrika. Jong sangers van Kaapstad Opera en die Universiteit van Kaapstad (UK) se operaskool tree hierin op. ’n Selfportret van die kunstenaar Buhlebezwe Siwani, met rooi klei wat soos bloed oor haar gesig stroom, dien as die plakkaatkuns vir die tweeluik. Die regisseur is Christine Crouse.

Kate Gottgens se skildery I Could Kill You, 2013, olie op doek, 65x45 cm, is gebruik as die plakkaatontwerp van The Turn of the Screw.

• Bizet se The Pearl Fishers met die bekroonde operasterre Vuvu Mpofu en Lukhanyo Moyake is op 15, 17 en 19 Junie in die Kunstekaap. Dit word deels in konsertstyl aangebied. Dit is ’n verhaal van ’n hegte vriendskap wat ontspoor as twee vriende op dieselfde vrou verlief raak. Die Kaapstadse Filharmoniese Orkes is onder leiding van die Britse dirigent Jan Latham-Koenig. Die kunstenaar Shakil Solanki het grootskaalse, stemmingsvolle projeksies geskep vir die produksie.

• Gepas met die koms van die lente debuteer Hunt as artistieke direkteur van Kaapstad Opera met Puccini se La Rondine (Die swaeltjie) van 8 tot 11 September in die Baxter-teater in Rondebosch. Hunt plaas die opera, wat laas in 2007 in Kaapstad gesien is met Pretty Yende en Golda Schultz, onder die spoggerige hoë lui van Parys se mode-en-ontwerpkringe. Jong sangers van die UK se operaskool en die jong kunstenaarsprogram van Kaapstad Opera is in die rolverdeling. Die kunstenaar Caitlin Truman-Baker het die plakkaatkuns gedoen.

• Verskeie operasterre is op die program vir 26 Junie se Duet-gala in die Kunstekaap met opera-uittreksels uit onder meer Verdi, Rossini en Donizetti.

• In September en Oktober is Kaapstad Opera op toer met Puccini se La bohème. Die projek word gefinansier deur die Judith Neilson Head-trust. Hunt beplan om elke jaar met twee operas in die land te toer en só nuwe gehore vir opera te wen en om nuwe plaaslike talent bekend te stel.

• Die operajaar en Wild se termyn van ses jaar by Kaapstad Opera word afgesluit met Britten se grieselrige spookstorie The Turn of the Screw, wat handel oor die verlies aan onskuld. Dit word opgevoer op 20, 25 en 27 November in die Kunstekaap. Wild werk hier saam met die Suid-Afrikaanse ontwerper Andrew Moerdyk, wat sy opleiding by die Tisch School of the Arts in New York ontvang het.

  • Besprekings open op 8 Maart by Computicket. Hou Kaapstad Opera se webblad www.capetownopera.co.za dop vir inligting. Covid-19-maatreëls word gevolg. Sitplekke is beperk.

– Saamgestel deur Laetitia Pople

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.