Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Musiek
Willim Welsyn kraai koning op iTunes
WAT met Willim Welsyn is vandeesweek in die topposisie op iTunes in Suid-Afrika se ranglys van podcasts in die afdeling vir uitvoerende kunste. Foto: Nasief Manie

Van sy motorhuis in Bellville tot heel bo op ’n iTunes-ranglys.

Die musikant Willim Welsyn het vandeesweek podcasts van onder meer die gesaghebbende BBC Radio en Radio America uitgestof vir die no.1-posisie op iTunes in Suid-Afrika se ranglys vir webuitsendings in die afdeling vir uitvoerende kunste.

WAT met Willim Welsyn, wat hy in sy motorhuis in dié Kaapse voorstad opneem, pryk sedert Woensdag in die topposisie.

Nie ’n maklike taak nie – hy het al voorheen bekendes soos Michael Bublé en Jamie Oliver uitgestof, maar dit is die eerste keer wat hy die topplek behaal het.

Voorheen was sy beste rang nommer drie in die kategorie vir uitvoerende kunste en vierde in die kunstekategorie.

Welsyn, wat voorheen by die Suid-Afrikaanse uitgawe van Rolling Stone gewerk het, doen ook grafiese ontwerp en filmwerk.

Dié prestasie blyk ook die eerste vir ’n Afrikaanse podcast op iTunes te wees, sê Welsyn.

“Al die ander programme op die ranglys is almal internasionale podcasts.”

In WAT met Willim Welsyn nooi Welsyn gaste na sy motorhuis in Bellville vir “koffie en ’n informele onderhoud”.

Bekendes soos die musikante Anton Goosen en Albert Frost, asook die grapjas Schalk Bezuidenhout, het al saam gekuier. Die uurlange podcast is gratis en word elke Donderdag opgelaai.

iTunes se ranglys word onder meer bepaal deur hoeveel keer die podcast afgelaai is, hoeveel luisteraars konsekwent elke week terugkeer en hoe gereeld dit gepubliseer word.

Die akteur Albert Maritz gesels met Willim Welsyn. Foto: Verskaf

Onder Welsyn se 51 podcasts tel sy onderhoude met Goosen, Koos Kombuis, Hunter Kennedy en Martelize Brink onder die gewildstes, sê hy.

Volgens Welsyn is dié medium besig om plaaslik traksie te kry – veral nadat die radioaanbieder Gareth Cliff die aanlyn radiostasie CliffCentral van stapel gestuur het.

“Daar is beslis meer mense wat luister. My luisteraars neem weekliks toe.

“Die mense wat na my show luister, is mense wat honger is vir vars en toeganklike inhoud oor die kunste en musiek,” sê Welsyn.

“Daar is ’n groot tekort aan diepte-onderhoude wat eerlik is en nie gesensor is nie.”

Dan is daar natuurlik ook Suid-Afrikaners in die buiteland wat huis toe verlang.

“Ek kry gereeld briewe van Afrikaanse expats wat oorsee luister, veral uit Engeland, Australië en Nieu-Seeland.”

Meer oor:  Itunes
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.