Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Musiek
Woodstock se boodskap weerklink ná 50 jaar steeds
Massas mense op 17 Augustus 1969 op die Woodstock-fees.Foto: BOSTON GLOBE

50 jaar gelede in Augustus 1969 het die musiekwêreld drie dae lank iets beleef wat vandag steeds as die grootste musiekfees nóg op die ganse planeet bekend staan. Lise Beyers vertel hoe sy dié invloedryke gebeurtenis danksy ’n musiekvideo beleef het.

Woodstock het al verskeie kere voor my oë afgespeel. Hoewel ek maar net drie jaar oud was toe die musiekfees op ’n heel ander vasteland plaasgevind het, het dit uiteindelik diep spore in my menswees getrap.

My eerste kennismaking met Woodstock was so 11 jaar ná die epiese gebeurtenis toe ek 13 jaar oud was. Ek en my vriende in die Paarl het skelm die Bergriviergrens oorgesteek die verbode “Rug” in, na die Olive Garden-kafee. Dit was die enigste plek destyds waar jy ’n videomasjien en video’s kon huur. Videospelers was in daardie dae net vir die rykes beskore.

Woodstock was een van die min video’s wat die kafee te huur gehad het. Hoe Woodstock in hul versameling beland het, bly tot vandag toe vir my ’n raaisel. Maar ons het hom keer op keer uitgeneem en heel Saterdagnag, soms tot met sonsopkoms, daarna gekyk terwyl ons skelm vaaljapie van die plaaslike koöp gedrink en bidis gerook het.

Ek en my vriende was keer op keer in vervoering – wat voor ons oë afgespeel het, was van ’n ander wêreld, ’n ander planeet, ’n ander heelal.

Die verkeersknope op ’n pad na die Woodstock-fees.Foto: GETTY IMAGES

Dis nou presies 50 jaar ná Woodstock wat op 15, 16 en 17 Augustus 1969 gehou is, en so 40 jaar nadat ek Woodstock leer ken het. Dit laat my oud voel.

Ondanks die grootte van die fees was Woodstock ’n vreedsame viering, ’n ervaring wat aangevuur is deur rock ‘n’ roll, vrye liefde en natuurlik ’n oorvloed dwelms. Ook was dit ’n protes teen ’n onstuimige wêreld, die Viëtnam-oorlog, die Koue Oorlog en ’n Amerika wat steeds in die kloue van segregasie vasgevang was. Jong mense was keelvol vir hierdie konserwatisme – ’n rebellie was aan die broei en Woodstock was die uitlaatklep.

In 1969 het vier jong mans – John Roberts, Joel Rosenman, Artie Kornfeld en Michael Lang – ’n sakegeleentheid in die groeiende musiekbedryf gesoek. Hulle besluit toe om ’n musiekfees te hou, en Woodstock Ventures is begin om hul droom te verwesenlik.

Creedence Clearwater Revival was die eerste musiekgroep wat ’n kontrak geteken het om op Woodstock te speel. Hierna het talle groot name gevolg. Maar die grootste uitdaging vir die vier hippies was om ’n geskikte terrein vir die fees te vind.

Hulle het hulle egter vasgeloop teen die “kleindorpse mentaliteit” van die inwoners wat gekant was teen die vooruitsig van duisende hippies wat op hul dorpies toesak. Een so ’n dorpie, Wallkill in die staat New York, het selfs wetgewing uitgevaardig om dit te keer. Hulle het onder meer ’n verbod op mobiele toilette geplaas.

Die soektog het ’n geruime tyd geen vrugte afgewerp het maar skaars ’n maand voor die beplande fees het die melkboer Max Yasgur ’n deel van sy plaas in die White Lake-omgewing in Bethel, New York, aan hulle verhuur.

Die vier jong mans het oor die groen heuwels gestaar en besluit dit is die perfekte terrein.

Meer as 100 000 kaartjies is vooraf verkoop en dae voor die fees het minstens 50 000 mense reeds op die plaas uitgekamp. Dinge het handuit geruk toe nog derduisende mense na die gebied stroom, soveel so dat Woodstock uiteindelik tot ’n gratis fees verklaar is. Daar was dus geen manier om te bepaal presies hoeveel mense dit bygewoon het nie, maar dit word op tussen 500 000 en 1 miljoen geraam.

Meer as 100 000 kaartjies is vooraf verkoop en dae voor die fees het minstens 50 000 mense reeds op die plaas uitgekamp. Dinge het handuit geruk toe nog derduisende mense na die gebied stroom, soveel so dat Woodstock uiteindelik tot ’n gratis fees verklaar is.

Daar was dus geen manier om te bepaal presies hoeveel mense dit bygewoon het nie, maar dit word op tussen 500 000 en 1 miljoen geraam.

Verkeersknope na die gebied was so erg dat die verkeer dae lank stilgestaan het. Sommige feesgangers het bloot hul voertuie in die pad gelos en na die feesterrein gestap. Ander het tou opgegooi en sommer om hul voertuie begin partytjie hou terwyl die klanke van Woodstock in die verte gedreun het.

Op 15 Augustus 1969 begin die konsert amptelik met Richie Havens. Name soos The Who, The Band, Janis Joplin, Johnny Winter, Creedence Clearwater Revival, Jefferson Airplane, Ten Years After, Joan Baez, Santana, Joe Cocker en Crosby, Stills, Nash & Young volg.

Die fees word met Jimi Hendrix se epiese weergawe van “The Star Spangled Banner” afgesluit – ’n ware klap in die gesig van die konserwatiewe bedeling.

Na regte moes Woodstock in ’n chaos ontaard en ’n totale mislukking gewees het. Daar was nie naastenby voldoende veiligheid (slegs 12 wetstoepassers), mediese hulp of selfs kos nie. Om nie te praat van toiletgeriewe nie. Stormreën het Woodstock in ’n stadium in ’n modderbad omskep.

Na regte moes Woodstock in ’n chaos ontaard en ’n totale mislukking gewees het. Daar was nie naastenby voldoende veiligheid (slegs 12 wetstoepassers), mediese hulp of selfs kos nie. Om nie te praat van toiletgeriewe nie. Stormreën het Woodstock in ’n stadium in ’n modderbad omskep.

Konsertgangers moes inspring om babas te vang en diegene te help wat per ongeluk ’n oordosis dwelms ingekry het. Daar was twee dwelmverwante sterftes.

Maar die bykans onmoontlike het gebeur – daar was geen voorvalle van geweld nie. Dit sê dalk iets vir seks, dwelms en rock ‘n’ roll.

Die skare was deurgaans in die “make love, not war”-mantra van die teen-establishment-kultuur van die 1960’s verenig. Dit kon oral gehoor en gesien word. Nege maande later is honderde Woodstock-babas gebore.

Feesgangers het weggestap van Woodstock met verhale wat tot vandag toe vertel word. Daar was nog nie weer so iets nie – ’n massiewe fees waarop ’n hele generasie gebou is.

Vir die meeste van ons, ook vir my en my vriende, is Woodstock ’n legende, een waarna ons gesmag het om deel van te kon wees.

Dit het ons oë in ons eie tyd van verdrukking en konserwatisme wyd oopgemaak vir wat kán wees, en het ons breër laat dink oor die mensdom en die wêreld – alles te danke aan drie dae van musiek en vreugde.

Miskien was Woodstock ’n fees wat bewys het dat vrede en liefde moontlik is en dat musiek die mag het om uiteenlopende mense saam te bind.

Meer oor:  Musiek  |  Woodstock
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.