Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Musiek
Yende het visum vir reis – nie vir werk nie

Die Suid-Afrikaanse operaster Pretty Yende het ’n geldige visum wat haar toelaat om uit Italië na Frankryk te reis en vir tot 90 dae daar te woon – maar die visum laat haar nie toe om ook daar te werk nie.

Die foto van haar tydelike Italiaanse verblyfpermit wat Yende Woensdag op sosiale media gedeel het. Foto: Facebook

Só sê die Italiaanse konsulaat in Kaapstad nadat Yende Maandag weens ’n ongeldige visum op die Charles de Gaulle-lughawe in Parys deur doeanepolisie voorgekeer en in ’n aanhoudingsel gestop is. Sy is ’n paar uur later vrygelaat nadat ’n nuwe visum aan haar uitgereik is.

Yende het gesê sy was die slagoffer van polisiegeweld en “verregaande rassediskriminasie” omdat haar regte deur die doeanepolisie geskend is ondanks die feit dat sy in besit is van ’n tydelike verblyfpermit en sy op die uitreiking van ’n Italiaanse verblyfpermit wag. Sy het Woensdag ’n foto van die tydelike verblyfpermit op Facebook en Instagram gedeel.

Mariagrazia Duminuco, hoof van visum- en konsulêre sake by die Italiaanse konsulaat in Kaapstad, sê die verblyfpermit in Yende se besit laat haar inderdaad toe om Frankryk wettig in te gaan, maar dit laat haar nie toe om ook daar te werk nie. Yende het van Milaan na Parys gereis om die hoofrol in Bellini se La sonnambula (Die slaapwandelaar) in die Théâtre des Champs-Elysées in die Franse hoofstad te vertolk.

“Ons nasionale visum – me. Yende se werkvisum – laat haar toe om vir vakansiedoeleindes na Frankryk of ander Schengen-lande te reis, maar nie om (daar) te werk nie.

“As sy in Frankryk of ’n ander EU- of Schengen-land wil werk, selfs vir ’n kort tydjie, moet sy vir ’n spesifieke nasionale tipe-D-visum aansoek doen wat van toepassing op haar beroep as liriese sanger is.”

Pretty Yende tydens ’n optrede in Sint Petersburg, Rusland, in Mei vanjaar. Foto: Getty Images

Duminuco sê wat die saak nog verder bemoeilik, is dat EU-lande weens die Covid-19-pandemie tydelike maatreëls ingestel het wat ook tot Yende as Suid-Afrikaner en dus buitelandse reisiger in Europa se aanhouding kon lei. Duminuco kan egter nie vir seker sê of dít die rede vir die voorval is nie.

“Me. Yende kan wel aandring dat die Franse owerheid vir haar ’n amptelike dokument gee waarin hulle die rede vir haar aanhouding verklaar.

“Ons is regtig jammer oor wat met me. Yende gebeur het. Dit was ’n groot eer om haar by die ambassadeurswoning te ontmoet.”

Yende is in 2019 by die ambassadeurswoning in Kaapstad deur Emanuele Pollio, die Italiaanse konsul-generaal, tot ridder geslaan.

Die Franse ambassade in Suid-Afrika sê hy kan nie kommentaar lewer op die foto van die verblyfpermit wat Yende gedeel het nie omdat hy slegs kennis dra van visums vir buitelanders wat van buite na binne die Schengen-gebied reis – nie visums vir buitelanders wat reeds in die Schengen-gebied is en daar grense vir reis- of werkdoeleindes oorsteek nie.

Yende en Gianluca Macheda, haar bestuurder, het nog nie op Netwerk24 se navrae gereageer nie.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.