Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Musiek
Yola se country-soul bring redding
YolaFoto: Alysse Gafkjen

Yola se musiek is net die doepa waarmee ’n grootmens sy nederlae kan besing en besweer.Danie Marais het na haar debuut geluister.

Yola – Walk Through Fire (* * * *)

As daar nou twee musiekstyle is wat net mooi fatalisties weet hoe om die allerbeste van allerlei verlore sake te maak, is dit country-rock en soul. En om groot te word beteken om vrede te maak daarmee dat die lewe ’n wedstryd is wat jy gaan verloor.

En as daar nou ’n plaat is wat wys hoe stylvol en triomfantelik ’n grootmens op die maat van country-soul nederlae kan besing en besweer, is dit Yola se fenomenale vollengtedebuut, Walk Through Fire, waarop Aretha Franklin en Dolly Parton soos susters ontmoet – iewers tussen Dusty Springfield se Dusty in Memphis en Gladys Knight se weergawe van Kris Kristofferson se “Help Me Make it Through the Night”.

Die 35-jarige Yola (Carter) klink nie verniet so gelouter op haar eerste langspeler nie. Sy het arm en vaderloos grootgeword in Portishead, ’n klein kusdorpie buite Bristol in Brittanje. Daar was sy geruime tyd deel van die Bristol-groep Phantom Limb wat sy by terugskoue beskryf het as “a white boys club – like True Blood, except guitars”. Sy het uiteindelik haar weg na ’n poging tot ’n musiekloopbaan in Londen gevind, maar was ’n tyd lank dakloos voordat sy, onder andere, saam met die veelsydige komponis Nitin Sawhney gewerk het en as agtergrondsangeres vir Massive Attack gekies is.

Haar droom van ’n eie plaat is egter eers bewaarheid toe Dan Auerbach, die sanger-kitaarspeler van The Black Keys, mateloos beïndruk is deur ’n video van haar wat in ’n kroeg in Nashville optree. Dit het uiteindelik daartoe gelei dat Yola ’n hele album saam met Auerbach geskryf en onder sy musiekregie in die einste Nashville opgeneem het. Die eindproduk is ’n plaat wat klink na ’n mylpaal uit die 1960’s of 1970’s en daarmee ’n uitstekende verskoning om van voor af verlief te raak op die koperblasers en strykers van ’n vroeër, stadiger era toe die Muscle Shoals-ateljee in Alabama die plek was om southern soul te gaan opneem en Phil Spector pop oordadig georkestreer het.

Yola se lirieke bied geen geïnspireerde nuwe insigte oor begeerte, liefdesteleurstellings of die menslike stryd om ekonomiese oorlewing nie, maar sy weet net hoe om soul in country te blaas en soul dan weer met country-rock te kruie.

Yola se lirieke bied geen geïnspireerde nuwe insigte oor begeerte, liefdesteleurstellings of die menslike stryd om ekonomiese oorlewing nie, maar sy weet net hoe om soul in country te blaas en soul dan weer met country-rock te kruie.

“Oh, love all night, work all day / Ain’t nothin’ wrong with a-livin’ day to day / Ain’t nothin’ wrong with a-livin’ pay to pay” lui die refrein van “Love All Night (Work All Day)”, maar met haar soepel stem maak Yola van daardie geykte frases vlammende belydenisse. In die uitstaande “Faraway Look” sing sy so meesleurend “That faraway look in your eyes / It’s getting harder to disguise” dat jy treur oor al wat verlore verbintenis is terwyl jy tevergeefs probeer om die liedjie hard genoeg te speel.

Yola wys jou meer is soms eenvoudig regtig meer en selfs wanneer te dit te veel is, is dit nog nie heeltemal genoeg nie, maar dis ook oukei. Vir grootmense wat vrede gemaak het met hul lot, maar tog die gyselaar van groot, tydlose emosies bly, is Yola se groot country-soul die redding – ’n kans om alles onder die stort of op pad werk toe uit te sing.

?

Top-snitte:

“Faraway Look”

“Shady Grove”

“It Ain’t Easier”

“Walk Through Fire”

“Love All Night (Work All Day)”

Meer oor:  Debuut  |  Musiek  |  Yola  |  Country-Soul  |  Byklanke
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.