Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Musiek
Zolani-jeugkoor se pad na sukses

Op die wêreldkaart is Ashton, ’n klein dorpie in die Wes-Kaap, skaars ’n spikkel. ’n Koor van die woonbuurt Zolani het nou gesorg daar van hulle en hul dorp kennis geneem word.

Die koor het by die afgelope Wêreld Koorspele in Pretoria opgetree en ’n goue sertifikaat gewen in die afdeling vir a capella folk. Hulle was ook vanjaar die wenner van die jeugkoor-afdeling van vanjaar se Suidoosterfees se koorkompetisie en in die tweede plek van al die kore wat deelgeneem het.

As alles volgens plan verloop gaan die koor in 2020 na die koorspele in België.

Die Zolani-jeugkoor met dirigent Odwa Mvunge (regs agter) by die Wêreld Koorspele.

Odwa Mvunge, afrigter en dirigent, is baie trots en dankbaar.

Hy sê dat Mokale Koapeng, een van die beoordelaars, die Zolani-jeugkoor genooi het om verlede Vrydag in sy kerk saam met die Aeolians Choir van die Universiteit Oakwood in Amerika te sing. Dié koor is die nr.1-koor met hul spirituele liedere en was ook een van die wenners in die koorspele in 2012.

“Die optrede in die kerk was baie emosioneel en die ander koor het ons staande toegejuig.”

Die prestasies van die koor sedert sy ontstaan in 2102 is hartroerend. Die koorlede kom uit ’n baie arm gemeenskap en baie van die ouers het net ’n deel van die jaar werk. Daar is nie kulturele stimulering in die skool of in die gemeenskap nie.

Mvunge het die koor gestig om ’n musiekkultuur daar te vestig nadat hy sy musiekstudies aan die Nelson Mandela-Universiteit voltooi het.

“Ons het met vyf kinders begin en nou bestaan die koor uit 25 lede tussen 12 en 18 jaar oud. Hulle het geen musiekopleiding nie, maar ’n natuurlike aanleg. Ons wou van die begin af Ashton se naam uitdra na buite ons gemeenskap. So wys die koor vir ander as jy ’n liefde vir iets het en hard werk, is alles moontlik.”

Die goue sertifikaat wat aan die koor toegeken is.

Hy vertel so terloops dat hulle in ’n hut in sy ouma se agterplaas repeteer. Hulle het niks luuks nie, niks kom maklik nie en baie opofferinge word gevra.

Hulle het in 2013 die eerste keer (en toe nog drie keer daarna) die jeugkoorafdeling by die kunstefees in Montagu gewen. In 2016 het hulle die afdeling vir gemeenskapskore by die Tuinroetefees in George gewen. In dieselfde jaar het hulle ook in Montagu die jeugkunstefees met 95% gewen.

Die besoek aan die Wêreld Koorfees in Tshwane het harde werk gevra en die koor het baie hulp van individue en maatskappye in die omgewing gekry. Hy vertel van mense wat hulle gehelp het om ’n CD te maak vir fondsinsameling, vriende uit Nederland, die Rotariërs wat gehelp het en selfs ’n wynmaker wat bygedra het.

“Die koste was groot. Ons het met twee minibussies gery en kon nie die opening bywoon nie, want ons kon net ’n beperkte paar dae bly. Ons het laatnag daar aangekom en die volgende oggend opgetree. Dit was uitputtend, maar ons was hart en siel in alles.

“God het vir ons ’n deur oopgemaak by die Koorspele. Maar meer nog – Hy het gesorg dat daar in elkeen van ons ’n saadjie van hoop geplant is.”

*Enigiemand wat belang stel om die Zolani-jeugkoor te help om hul droom te verwesenlik om in 2020 na die Wêreld Koorspele in België te gaan, kan Mvunge by 081 555 3789 bel.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.