Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Vermaak
1956-2014
Reinet Nagtegaal só onthou
Dra by op talle gebiede
Reinet Nagtegaal Foto: Joyrene Kramer

Die bekroonde skrywer Reinet Nagtegaal (58) is Maandag oorlede.

Sy het tuis in Melkbosstrand aan kanker gesterf.

Haar man, Dirk, onthou haar vir haar “ongelooflike wysheid en kennis, die ­manier wat sy kon praat met ’n breë spektrum van mense, van die armste tot die rykstes”. “Enigiemand wat haar ervaar het, sou weet sy was in hul lewe.”

In reaksie op die nuus van haar dood het Amanda Stry­dom op Facebook onder meer die volgende geskryf: “Jackie laat weet dat sy vol vrede was en omring deur liefde. Ek het ’n ontsaglike bewondering vir jou gehad, liewe Reinet.”

Die digter Joan Hambidge onthou haar as “ ’n gul mens en ’n lewensgenieter”.

Sy beskryf Nagtegaal as ­iemand wat “ellendes kon troef met humor”.

Die skrywer Ilza Roggeband sê Nagtegaal was “een van die merkwaardigste” vroue wat sy geken het.

“Sy het altyd geglimlag met die mooie, mooie kuiltjies, sy het altyd stories gehad om te vertel, sy was ’n goeie luisteraar, ’n uitnemende gasvrou, sy het ’n ruim hart gehad en was baie vrygewig, haar lag aansteeklik, sy was ondersteunend, opreg en het ’n gawe gehad om almal in haar geselskap spesiaal te laat voel. Die wêreld is ’n baie ­armer plek sonder haar.”

Die digter Louis Ester­huizen onthou Nagtegaal vir “haar ongelooflike kreatiwiteit en medemenslikheid, die wyse waarop sy mense ondersteun en aangemoedig het”. “Sy was blymoedig en het baie van haarself gegee. Haar dood is ’n tragiese verlies.”

Nagtegaal had grade in ­drama, letterkunde en die regte en was saam met haar man die stigter en uitvoerende hoof van die regshulpdiens Lipco Law for All.

Benewens skrywer, was sy ook bekend as uitgewer ­(Joho!- en Genugtig!-uitgewers), regspraktisyn, kok en vir haar liefde vir die teater.

Niel le Roux, oudhoof van die Suidoosterfees, sê Dirk Nagtegaal het die indertydse Nagtegaal-tekspryse ter ere van sy vrou, sy dogter, Jackie, en liefde vir die teater ingestel. Onder die wenners van die prys tel Rachelle Greeff, Pieter Fourie, Charles J. Fourie en Tom Gouws.

Nagtegaal is vir haar ­debuut, Voorvaders Kan Vlieg, sê Dolores, as die debuutwenner in die nasionale romanwedstryd van Sanlam, Insig, RSG en Kwela bekroon. Dit is ook vir die verhoog verwerk.

Ten tyde van haar dood het sy die Damhuis-restaurant in ­Melk­bosstrand bestuur.

Sy laat haar man, Dirk, hul seun, Jan-Jan, en haar dogter, Jackie, haar skoondogter Vera, twee kleinkinders, Anna Finn en Dirk, haar susters, Elna en Mariane, en haar broer, Henk, asook haar ma, Jackie Crouse, agter.

  ’n Diens word Vrydag om 12:00 in Temenos in McGregor ­gehou.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.