Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Vermaak
SA kuns skitter in Edinburg

Suid-Afrika skitter op die Edinburg-fees in Skotland met verskeie produksies wat op die hooffees te sien is.

Daarby word vyf toneelstukke opgevoer as deel van die derde “Suid-Afrikaanse seisoen” op die Festival Fringe.

Kunswerke van plaaslike kunstenaars is te sien, etlike skrywers is op die boekefees teenwoordig en ’n dansgroep van KwaZulu-Natal, Ngobamakhosi, is genooi om tradisionele Zoeloe-oorlogsdanse as deel van die koninklike taptoe uit te voer.

Op die hooffees is die Handspring Puppet Company se Ubu and the Truth Commission met onder andere Busi Zokufa en Dawid ­Minnaar een van die groot trekpleisters.

Die dansproduksie Inala, uit die pen van Ella Spira, is nog ’n produksie waarby Suid-Afrikaners betrokke is.

Mark Baldwin is verantwoordelik vir die choreografie terwyl Ladysmith Black Mambazo die musiek verskaf vir die dansers van Rambert en die Royal Ballet.

Brett Bailey se Exhibit B is ook op die hooffees te sien. Dié installasie, waarin akteurs in etnografiese tentoonstellings poseer, verken die vergrype van koloniale magte in Afrika.

Die Suid-Afrikaanse toneelproduksies op die Festival Fringe is The Zulu van Mbongeni Ngema, Silent Voice van Aubrey Sekhabi, Hayani van Atandwa Kani en Nat Ramabulana,
Race
van David Mamet en Sunday Morning van Nick Warren.

In die stad se kunssentrum word werke van 20 kunstenaars uit die Statebond uitgestal onder die titel Where Do I End and You Begin. Thembinkosi Goniwe van Johannesburg is een van die kurators van die uitstalling en die Suid-Afrikaanse kunstenaar Mary Sibande se werk word uitgestal.

Die skrywers wat aan die boekprogram deelneem, is Lauren Beukes, CA Davids, Niq Mhlongo, Damon Galgut, Zakes Mda, Elaine Proctor, Rosie Rowell, Mark Gevisser en Margie Orford.

Mpho Tutu sal praat oor The Book of Forgiving wat sy saam met haar pa, emeritus-aartsbiskop Desmond Tutu, geskryf het. –Rudolf Stehle en Mariana Malan


Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.