Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Vermaak
SA roep steeds luid om sy werke
Die digter, skrywer en teaterman Peter Snyders het pas sy 75ste verjaardag gevier. Prof. Wium van Zyl huldig hom.
Peter Snyders

“My gedigte is naak, want ek soek die oermens wat sonder pretensies en maskers ­voorkom.”

Dít was Peter Snyders se ­beskrywing van sy digterlike strewe in 1992. Die laaste jare was hy stil, maar hy het darem verlede jaar op versoek by die prysuitdeling van die Universiteit van Wes-Kaapland se ­departement Afrikaans en ­Nederlands kom voorlees. Dit kan op YouTube gesien word.

In my motivering die ­betrokke aand het ek die ­volgende aangestip: “Peter is ’n talent wat nooit werklik die waardering gekry het wat hy verdien nie.

“Hy het homself nogtans ­bewys as ’n skrywer met ’n fyn taalsintuig, maar ook ’n vlymskerp insig in die same­lewing – iemand wat hom nie laat flous het deur byvoorbeeld die opgeblasenheid van politici nie – ook nie diegene wat hul selfsug agter ’n rookskerm van bevrydingsretoriek versteek het nie.”

Hy was met groot lojaliteit gerig op sy direkte gemeenskap. Om verder aan te haal uit ’n uitspraak op die omslag van die bundel ’n Waarskynlike Mens (1992): “Ek soek die spontaneïteit wat die profundity in simplicity versteek. Ek soek die digterlike lelie in die gemors. Ek probeer die taal lewendig en genotvol weer te gee. Ek hoop om ’n liefde vir poësie en vir my taal te kweek in mense wat andersyds nie van poësie hou nie of wat my taal verdoem. Ek hoop dat na die genot en/of die skok, my gedigte ontleed sou word met ’n nuwe maatstok ­sodat hulle hul sê te volle kan sê.”

In die proses het hy homself ’n absolute meester getoon in die hantering van Kaaps as ­digterlike instrument en die waardigheid daarvan bevestig.

Sy “Ek is oek important” in sy bundel ’n Ordinary Mens (1982) is vir my die “Winternag” van Kaaps. In die emosie wat hier weergegee word, sit alles: sensitiwiteit, ’n ontdekking van eie waarde, ’n sati­riese laag wat die hele gevestigde samelewing soos ’n ­aardbewing tref. Dit is ’n teks waar alles noodsaaklik is, waar geen sillabe weggehaal kan word sonder dat dit die ­geheel skaad nie.

Die deel van ons samelewing waar Kaaps gepraat word, ken hy soos min ander skrywers.

Hy is ’n boorling van ­Wynberg en woon die grootste deel van sy lewe in Green­haven, Ath­lone. By die Hoërskool Athlone was die digter S.V. Petersen sy skoolhoof.

In ’n onderhoud wys hy op die groot indruk wat prof. Tony Links tydens sy studie by UWK op hom gemaak het.

’n Waarskynlike Mens dra hy op aan die pas oorlede uitgewer Charles Fryer met hierdie toevoeging: “Sonder jou leiding, hulp en geduld sou ’n Ordinary Mens en ’n Waarskynlike Mens nie ­gewees het soos hulle is nie.”

Snyders het saam met ­Etienne van Heerden, Daniel Hugo en Koos Kombuis gedebuteer in die bundel Brekfis met Vier (1981). Sy jongste bundel was Tekens van die Tye (1992). Hy was indertyd as skrywer, speler en regisseur besonder aktief by gemeenskapsteater ­betrokke. Slegs een van sy stukke is gepubliseer, Political Joke (1983), maar sy werk is wel in formele teaters soos die Baxter en die huidige Kunstekaap opgevoer. Hy het Afrikaans verteenwoordig met voorlesings op die beroemde Poetry International in Rotterdam en Winternachten in Den Haag.

Met ’n klein aantal verhale en sketse het hy hom as fyn prosaskrywer bewys.

Hy het ’n tyd lank ’n rubriek in Die Burger behartig. ’n Hoogtepunt vir my is sy verhaal “Doktor Orraait” wat in Jea­nette Ferreira se Kruis en Dwars (2001) opgeneem is. Dit is terselfdertyd ’n voorbeeld van sy skeptisisme teenoor politieke modes, die slimmighede van diegene wat hulself intellektuele waan, terwyl die ­gevaar daarvan om jou rug te probeer draai op jou identiteit met ’n glimlag uitgewys word.

Die verteller hekel, in Kaaps, die bruin intellektueel Doktor Orraait wat in sy verhewe ­intellektuele strewes alles gedoen het om politieke aansluiting by ander groepe te vind.

Wanneer plakkers sy huis oorneem, is sy enigste uitkoms ’n skollieleier wie se praktiese en logiese argumente die Doktor s’n belaglik laat lyk. ’n Mens wil Peter nie slegs ’n heer­like 75ste verjaardag toewens nie, maar ook nuwe inspirasie en publikasies. Ons land roep nog luidkeels om sy satire.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.