Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Speletjies
Fees van speletjies in Kaap gehou
Een van die speletjies is Semblance deur die ontwikkelingsmaatskaapy Nyamakop van Cukia Kimani en Ben Myers.

Speletjies is een van die wêreld se grootste industrieë. Dit stof selfs rolprente en musiek uit en betrek mense wat hul artistieke ver­moëns op hierdie unieke manier uitleef.

Dis om dié rede dat die oudste gebou in die Kaap dié naweek deur die jongste tegnologie oorgeneem gaan word wanneer die eerste Playtopia-fees in die Kasteel die Goeie Hoop in Kaapstad gehou word.

Op die program is plaaslike en internasionale rekenaarspeletjies, interaktiewe en digitale kuns, praatjies, paneelbesprekings en musiek.

Anita Sarkeesian

Verskeie plaaslike en internasionale kunstenaars bring hul werk. Opwindende sprekers sluit in Anita Sarkeesian (feministiese ikoon en skepper van die Amerikaanse blog Feminist Frequency), Lauren Beukes (radikale skrywer van romans, strokies en skepper van speletjies), Cukia Kimani (medeskepper van die videospeletjie Semblance) en Wilhelm Nylund (ontwerper en uitvoerende hoof van Swede se Landfall Games en skepper van die videospeletjie Totally Accurate Battlegrounds).

Paneelbesprekings word tussen 10:00 en 18:00 gehou. Colin Payne (illustreerder en ontwerper van speletjies) bied van 09:00 tot 16:00 ’n inleidingspraatjie oor virtuele realiteit aan.

Die fees skop Vrydagaand af met ’n partytjie waar deelnemers en belangstellendes kan ontmoet.

’n Ten volle interaktiewe uitstalling van meer as 30 speletjies sal te sien wees en platejoggies sal musiek verskaf.

Evan Greenwood, eienaar en direkteur van Free Lives, wat videospeletjies ontwikkel, glo dat Playtopia ’n groot hupstoot aan plaas­like talent kan gee.

Volgens hom het Suid-Afrikaners unieke stories om te vertel en boonop soveel talent in ontwerp en tegnologie asook interessante sienings van dinge wat die wêreld kan interesseer.

Playtopia gaan Suid-Afrika op die wêreldkaart plaas wat hierdie soort feeste betref. Daar is duisende ondersteuners van speletjies en daar is baie talentvolle mense wat plaaslik speletjies ontwikkel.

Met die inspirasie wat die fees gaan bied, sal daar waarskynlik ná die naweek nog vele meer wees wat met hierdie speletjies vir volwassenes wil waag.

Free Lives, die maatskappy wat ook die speletjies Broforce, Genital Jousting en Gorn ontwikkel het, het Playtopia begin om die groeiende gemeenskap wat speletjies en digitale kuns skep, bymekaar te bring.

TJ Hughes

Die fees is grootliks geïnspireer deur die speletjiesfees A MAZE./Berlin. Die Free Lives-span in samewerking met Make Games South Africa en Africa Games Week het verskeie mense saamgetrek om die fees se konsep te ontwikkel. Dominique Gawlowski is die feesdirekteur van Grietfest en Playtopia. Hy word bygestaan deur onder andere Limpho Moeti (van Free Lives en die adjunk-feesdirekteur van Playtopia) en Ben Rausch (Super Friendship Arcade).

Een van die groot aantreklik­hede sal wees A MAZE/Berlin se Digital Gardens-uitstalling, ontwerp deur Thorsten S. Wiedemann (direkteur van A MAZE). Dis ’n versameling speletjies met flora, fauna, skoonheid en vrede as temas.

Nóg iets buitengewoons om na uit te sien is die eksperimentele kuns-met-kos-speletjie van TJ
Huges van Missourri. Dit word beskryf as ’n spel met geen doel of eindplan nie, behalwe dat kos op onkonvensionele maniere gebruik word om te vermaak.

Verder gaan daar ’n spesiale kamer wees waar top- plaaslike interaktiewe kunstenaars saam met ander sal speel.

Daar is onder meer Ralph Borland se robotte, die sensoriese kuns van Miranda Moss, projeksiekuns van Inka Kendzia, en die wonderwêreld van borduurwerk en kuns met gare en naald van Danielle Clough.

Kaartjies is beperk en moet vooraf bespreek word. Dit kos R320 vir die naweek, R150 vir Vrydag, R180 vir Saterdag en R120 vir Sondag.

Daar is ook ’n beperkte getal passe van R820 met baie byvoordele.

Besoek die webtuiste by www.playtopia.co.za.

Meer oor:  Speletjies
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.