Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Speletjies
Vermaak vir Gautengse kleingoed die vakansie
Magonjatjie is een van die kinderproduksies wat in die skoolvakansie op die planke sal wees.

’n Hele rits kinderproduksies word in die skoolvakansie soggens om 10:00 in die Pierneef-teater in Pretoria aangebied:

Repelsteeltjie word deur WeeKIDZ van 28 tot 30 Junie aangebied en die kaartjies kos R60 tot R70.

Hansie en Grietjie deur Jo Christal Produksies kom van 5 tot 7 Julie aan die beurt en kos R55 tot R65.

Zoemba die Renoster word op 10 Julie opgevoer (R55 tot R65) en Magonjatjie en die see word van 11 tot 16 Julie teen dieselfde prys aangebied.

Gouelokkies is van 12 tot 14 Julie op die planke teen R60 tot R70.

Zoemba die Renoster is nog ’n produksie in die skoolvakansie.

Dit is gemik op kinders van twee jaar oud tot middel-laerskool.

Bel 012 329 0709 of stuur ’n e-pos aan info@pierneefteater.co.za om te bespreek.

Annie Jr. gegrond op die gewilde Broadway-musiekspel word van Saterdag af in die People’s Theatre in die Joburg-teater in Braamfontein, Johannesburg, aangebied. Annie Jr. is ’n verkorte weergawe van die oorspronklike musiekspel wat deur kinders opgevoer word.

Dit duur tot Dinsdag.

Annie is gegrond op die strokiesprent Little Orphan Annie deur Harold Gray. Die musiekblyspel se musiek is deur Charles Strouse, die lirieke deur Martin Charnin en die boek deur Thomas Meehan.

Anna Davel in In die land van Kammalielie.

Dit speel af in New York in die 1930’s gedurende die Groot Depressie. Annie woon in ’n weeshuis en loop deur onder Miss Hannigan. Annie is op soek na haar familie, maar dan neem haar lewe ’n ander wending wanneer sy gekies word om Kersfees by die miljardêr Oliver Warbucks deur te bring. Miss Hannigan het ander idees en sy wil Annie se soektog na haar ouers belemmer. Treffers sluit in “It’s the Hard Knock Life”, “Easy Street”, “I Don’t Need Anything But You”, “Tomorrow” en “N.Y.C.”.

Kaartjies kos R142 en vertonings is om 10:30 en 14:30. Bespreek by Webtickets.

Daar is ook ’n paar kinderproduksies in die Atterbury-teater in Pretoria:

Babelela en Rooikappie word op 28 en 29 Junie hier opgevoer. Die vertonings is van 11:00 tot 12:00. Stuur ’n e-pos aan yolandi@enteractive.co.za of bel 082 572 2408 om te bespreek.

Met The Jungle Book bied ACT Studios hul derde jaarlikse produksie van 3 tot 8 Julie aan.

Die stuk is gegrond op die gelyknamige boek deur Rudyard Kipling en verwerk deur Kathryn Schultz Miller. Dit vertel van Mowgli, ’n jong, energieke en nuuskierige seun wat deur wolwe grootgemaak word en skelm apies, vriendelike aasvoëls en sy dodelike vyand, die tier, Shere Khan, van aangesig tot aangesig ontmoet.

Dit alles terwyl hy probeer om die gaping tussen sy diere- en mensefamilie te oorbrug.

Kaartjie kos R90 tot 150. Bespreek by Computicket.

In die laaste week van die vakansie begin O.A.K. Jeugteater se produksie van Beauty and the Beast.

Die meeste van die jong spelers is van oraloor in Gauteng, maar sommige kom selfs van so ver as eMalahleni (Witbank).

Belle is ’n jong vrou wat dit geniet om boeke te lees, maar baie van die dorp se inwoners vind haar gedrag ietwat vreemd. Die selfvoldane Gaston beoog om haar sy bruid te maak.

Die storie se spanningslyn word verhoog wanneer Maurice, Belle se pa, op een van sy reise gevange geneem word deur die Ondier wanneer hy probeer om ’n roos vir sy lieflingsdogter te pluk.

Dit duur van 11 tot 21 Julie. Kaartjies kos R130 tot R50. Bespreek by Computicket.

Anna Davel en Nastassja Jooste tree op 30 Junie op in die konsert In die land van Kammalielie.

’n Yslike storm het die land van Kammalielie getref. Was dit dalk Bambino, die reus van Bitterbos, se allemintige nies wat als begin het? Feetjies en kabouters is wild en wakker weggewaai; een van hulle tot binne-in menseland. En nou bly die vraag of Klara en Kieliekabouter weer by mekaar sal uitkom.

Dit duur van 11:00 tot 12:00 en Kaartjies kos R80. Bespreek by Computicket.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.