Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Teater
3 susters gestrand in lewe en vertreksaal
Lizz Meiring, Margit Meyer-Rödenbeck en Nicole Holm in 3 Susters. Foto: Robert Hamblin

Dié 3 Susters sit op ’n lughawe en wag vir ’n vertraagde vlug na Thailand.

Dat hulle sit en wag, is waar die ooreenkoms met die Russiese dramaturg Anton Tsjechof se gelyknamige toneelstuk eindig, sê Nicole Holm.

Holm, Lizz Meiring en Margit Meyer-Rödenbeck is drie sibbe in die komiese produksie uit die pen van Louis Pretorius van Die boekklub-faam. Dit debuteer eersdaags op die Innibos Laeveld Nasionale Kunstefees in Mbombela en is later op verskeie feeste te sien.

Terwyl die susters die tyd verwyl met kaarte, boeke, cappuccino’s en vlymskerp tonge, word lewenskeuses uitmekaar getrek en ou koeie opgegrawe. So hier sit hulle nou. Sal hulle ooit daar kom? Het hulle nog lus vir die reis?

“Lus en nie lus nie is ’n deurlopende, vloeibare element in die storie,” sê Holm. “My karakter Bianca, wat nog nooit getroud was nie, het van die begin af hierdie behoefte.”

Dit is Christine (Meiring) se 50ste verjaardag en die tweeling, Anel (Meyer-Rödenbeck) en Bianca reël as verrassing dat hulle saam na Thailand reis.

“Dit is my absolute eerste keer wat ek saam met Lizz en Margit werk, hoewel ek Margit baie goed ken. Sy het my ook oor die stuk gebel.

“Dit is ook die eerste keer wat ek met Tara Notcutt (die regisseur) werk. Dis lekker om met soveel mense die eerste keer saam te werk in ’n bedryf wat so klein is.”

Holm het egter al dikwels saam met Pretorius gewerk, en het in sy reekse soos Boland Moorde en Die boekklub verskyn.

“Ek was baie opgewonde toe ek hoor hy skryf die teks. Hy is ’n meester met dialoog en karakters. Dit is sy forté om driedimensionele volronde karakters te skep. En dat ek en Margit ’n tweeling speel …”

Holm se karakter werk in ’n blommewinkel en Meyer-Rödenbeck is al meer as een keer geskei en lei ’n taamlik chaotiese lewe. Christine is ’n ma van twee en ’n laerskoolonderwyser. En eintlik is sy bang vir vlieg en is sy hoog op kalmeerpille. Sy droom heimlik van ’n Griekse god wat haar verlei langs die strand.

“Vir ’n akteur is dit ontsettend opwindend om so ’n mandjie van gegewens te hê,” sê Holm. “Dit is ’n digte web wat gespin word.”

* Innibos: In die Laerskool Laeveld op 27 Junie om 15:00, op 28 Junie om 09:00, op 29 Junie om 19:00 en op 30 Junie om 14:00. Kaartjies kos R142. Bespreek by Computicket.

*Vrystaat Kunstefees, Bloemfontein: In die Wynand Mouton-teater op 10 Julie om 10:00; 11 Julie om 20:00,

12 Julie om 13:30 en 14 Julie om 13:30. Bespreek by Computicket.

*Kalfiefees, Onrus: In die Sandbaaisaal op 11 Augustus om 10:00. Kaartjies by Computicket.

*Aardklopfees, Potchefstroom: Datums nog nie bevestig nie.

*Atterbury-teater in Februarie 2019.

*Die Boer, Durbanville in Mei 2019.

Meer oor:  Lizz Meiring  |  Mbombela  |  Hermanus  |  Bloemfontein  |  Teater  |  Kunstefeeste
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.