Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Teater
Die vele kante van Christo Davids
Ons ken hom as die minsame Errol in 7de Laan, maar daar is ’n hele paar ander rolle wat Christo Davids ook vertolk. Terésa Coetzee vertel meer.

Deesdae reageer Christo Davids (32) net soveel op die naam Errol Pieterse as sy eie naam, want oral waar hy kom, groet mense hom as Errol, die karakter wat hy in die SABC2-sepie 7de Laan speel. (Errol was eens ’n straatkind, maar deesdae is hy ’n eerbare joernalis en ’n baie gewilde karakter in die sepie.)

Hy gee glad nie om as mense hom op straat herken en geselsies kom maak nie, sê hy.

Maar dis nie net 7de Laan wat dié akteur besig hou nie. Binnekort gaan Christo ook weer die verhoog betree as Tjokkie, die rol wat hy in P.G. du Plessis se drama Siener in die suburbs op Aardklop vertolk.

Hy is ’n besige man en van sy naam kan jy beslis maar notisie neem, want hierdie talentvolle akteur het die plaaslike toneelwêreld al behoorlik op horings geneem.

Benewens sy rol in 7de Laan, is die lys van ander TV-produksies en flieks lank: Hagenheim streng privaat, Meeulanders, Forgiveness en A Boy Called Twist.

Die rol is ’n baie groot uitdaging en my oupa het altyd gesê dis soos om Hamlet te speel vir die Afrikaanse teater

Hy skryf ook graag self dramas en een van die vele tekste uit sy pen is Bullets Over ­Bishop Lavis.

Dit handel oor onskuldige kinders wat in bendegeweld sterf. In 2005 is sy stuk The Final Whistle op die Windhoekfees aangewys as die beste teks. Kinnes vannie ­Twilight is in 2006 op die ­Logan-fees in Bloemfontein en die George- fees as beste nuwe teks aangewys.

Kinderjare

Wanneer Christo aan sy kinderjare dink, kom die beelde van die Kaapse dorpie Heidelberg, waar hy grootgeword het, onmiddellik by hom op.

Sy oupa Goliath Davids is ’n deurwinterde akteur en veral bekend om sy rol as Selling ­Komoetie in Fiela se kind.

Die regisseur Lloyd Davids en ­Peter-John Davids, wat baie betrokke was by jeugteater as beoordelaar, is sy ooms.

Al sy broers, Lee-Roy, Wesley, Marlin en Goliath, is akteurs.

“Amper ons hele familie speel toneel en is lief vir die teater, hetsy dit radio of gemeenskapsteater is.

“My pa was ’n konstruksie-skrynwerker en my ma ’n onderwyseres, maar vandat ek kan onthou het ons konsert gehou en vir mekaar gedigte opgesê in ons huis.

“Ons was ’n gelukkige gesin en ek was die tweede oudste van ses kinders.

“Dit was baie lekker om in so ’n groot huisgesin groot te word,” sê hy.

Hy het Siener in die suburbs goed geken nog lank voordat dit so twee jaar gelede oor sy pad gekom het.

“My oupa het gesorg dat ek as kind aan elke denkbare toneelstuk en storie blootgestel word toe ek ’n kind was,” sê Christo.

Toe Alexa Strachan hom gebel het om te hoor of hy die rol van Tjokkie sal speel, het hy die geleentheid aangegryp.

“Die rol is ’n baie groot uitdaging en my oupa het altyd gesê dis soos om Hamlet te speel vir die Afrikaanse teater.

“Tjokkie is ’n stil, ingewikkelde ou en vir my was die heel grootste uitdaging om sy stilte te verstaan.

Hy praat net as hy moet praat en dit was nie maklik om sy stilte te speel en te beheer nie.

“Gelukkig is Heinrich Reisenhofer ’n fantastiese regisseur en hy het presies geweet hoe om hierdie menslike en maatskaplike kwessies in Siener te hanteer,” sê Christo.

Hy vertel ook dat Henry ­Mylne sy mentor was in die stuk.

Terwyl hy vir die rol voorberei het, het hy met iemand gaan gesels wat self heldersiende is om agter te kom hoe Tjokkie se kop nou eintlik werk.

“Ek weet steeds nie heeltemal wat Tjokkie makeer nie, maar ek weet hy het ’n knou weg. Hy is in ’n situasie waarin hy nie wil wees nie,” sê Christo.

Benewens dat hy voltyds akteur is, het Christo ook ’n LLB-graad wat hy in 2008 aan die Universiteit van Wes-Kaapland verwerf het.

“My oupa Goliath het altyd gesê as ’n man ’n lawyer is, is jy ’n actor ook!

“Ek is glad nie spyt dat ek die law agter my naam kan skryf nie, en ek het my universiteitsjare gelove. Dis daar waar ek van my beste vriende ontmoet het.

“Maar ­drama sal altyd my passie bly,” sê hy.

Christo is in April 2013 met sy vrou Cindy getroud en die twee woon deesdae saam in Johannesburg.

“Cindy is my sielsgenoot. Ons hou albei verskriklik baie van lees, maar ons kuier ook naweke graag met ons vriende en ons gaan baie uit.

“My vrou het altyd ’n ietsie wat ons moet gaan doen en ons hou ewe veel van uiteet. Ons is mal oor eggs benedict op ’n Saterdagoggend . . .”

  • Siener in die suburbs is die volgende tye in die kykNET-ouditorium op die Aardklop-kunstefees te sien: 6 Oktober om 19:30, 7 Oktober om 09:00, 8 Oktober om 19:30, 9 Oktober om 09:00 en 10 Oktober om 16:30. Tydsduur: 120 minute (15 minute pouse ingesluit) Toegang: R130. Bespreek by Computicket.
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.