Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Teater
‘JANI’ DEBUTEER OP AARDKLOP
Eenmanstuk oor Jani Allan se lewe
Prinsloo is ‘perfekte verteller’
Sandra Prinsloo.
Jani Allan.

Jani Allan gaan haar lewensverhaal op die verhoog in Potchefstroom vertel. Sy gaan weliswaar deur die mond van Sandra Prinsloo praat, met teks wat uit haar outobiografie, Jani Confidential A Memoir, kom.

Die verwerker is Saartjie Botha. Sy vertel dat sy op soek was na materiaal om vir Prinsloo ’n nuwe eenpersoonstuk te skep. Sy het Allan se boek op die lughawe raakgeloop en begin lees.

Lees ook: Jani Allan: ‘Te maer, te ou​d, en dalk te slim’

“Ek kon nie ophou nie,” het sy gesê. “Die inhoud is intelligent, sy is ’n ongelooflike goeie skrywer en dit bevat al die elemente wat eenvoudig vra om ’n toneelstuk te word.”

Botha het gister, net voor die aankondiging van die Clover Aardklop se feesprogram, meer oor die werk vertel.

In die boek bied Allan ’n ironiese terugblik op haar lewe en loopbaan. Aanvanklik was sy ’n gerekende joernalis wat vir niks gestuit het nie. Dinge het egter vir haar begin skeefloop en sy het vriende en kollegas se verraad beleef.

Sy het na Amerika uitgewyk waar sy op 63 as kelnerin moes werk. Wat die inhoud nog interessanter maak, is dat Allan nie wegskram van haar eie aandeel aan haar ontspoorde loopbaan nie.

“Sy het standpunt ingeneem teen onder meer seksisme en het vir niks en niemand gestuit nie. Ek sien haar as ’n baie genuanseerde, verwonde maar baie sterk vrou,” het Botha gesê.

“Ons sien die stuk as ’n bewegende portret. Mediamateriaal en filmkomponente sal ingewerk word. Dit is nie ’n chronologiese gegewe van haar lewe nie.”

Botha beskou Prinsloo as die perfekte persoon om die verhaal te vertel.

Lees ook: Jani Confidential: Briljant​e joernaal van ontheemding

“Dit is altyd moeilik om ’n lewende en regte persoon te vertolk, en Sandra sal hierdie femme fatale kan vertolk.”

Christiaan Olwagen is die regisseur.

Jani is een van vyf debuut-toneelstukke op Aardklop. Die ander is:

 Aartappels en Ammo met Chris Vorster as skrywer, regisseur en akteur in ’n stuk oor die Suid-Afrikaanse weergawe van die Amerikaanse Doomsday Preppers wat hulle toerus vir die dag wanneer die groot ramp die wêreld gaan tref

 Hemelruim met Tinarie van Wyk Loots enPaul du Toit wys hoe keuses en toeval mense se lewens kan beïnvloed. Dis ’n vertaling van Nick Payne se stuk Constellations.Nico Scheepers het die stuk vertaal en behartig die regie.

 Klein Jakkalsies is ’n komedie oor “ongenooide klein jakkalsies” in die huwelikslewe. In die rolverdeling is Diaan Lawrenson en Jody Abrahams. Die teks en regie is deur Leon Kruger.

 Franci SwanepoelenAnnelisa Weiland is te sien in die stuk MA! wat die komplekse verhouding tussen ma en en dogter belig. Gert van Niekerk is die regisseur.

Daar is twee klassieke toneelstukke op die program wat al voorheen by ander feeste opgevoer is. Dit is Moeder Moed en Haar Kinders en Siener in die Suburbs.

 Die Clover Aardklopfees word van 6 tot 10 Oktober gehou. Besoek ​www.cloveraardklop.co.za vir meer inligiting oor die program.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.