Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Teater
‘SAMSA-MASJIEN’
‘Elke opvoering bied iets nuuts’
Lekker om regte speelvak te hê – Kamper
Gerben Kamper is tans in Samsa-masjien as Gregor Samsa te sien. Mariana Malan vind meer uit oor die uitdagings van hierdie rol.
Die akteur Gerben Kamper wat tans in die toneelproduksie Samsa-masjien in die Baxter in Rondebosch op die verhoog is. Foto: Jaco Marais

Op die verhoog lyk dit of die ­karakter Gregor Samsa die ­akteur Gerben Kamper ingesluk het.

Hoe, wonder ’n mens, kry iemand dit reg om so totaal in ’n rol opgeneem te word.

“Alles begin by die teks,” sê Kamper. “Dit is eenvoudig ’n ­ver­stommende teks. Die taal is ­poë­ties en die vervorming wat saam met die karakter se dementia ­toeneem, gee ’n heel ander ­dimensie aan wat gesê word.”

’n Mens wat die stuk nie gesien het nie, sal moeilik verstaan watter kragtoer die akteurs lewer met hierdie teks van Willem Anker.

Hulle sal ook nie kan begryp hoe die regisseur Jaco Bouwer dit reggekry het om alles so perfek te laat saamwerk nie.

Kamper meen dit is omdat ­Bouwer baie wyd dink en dinge goed kan konseptualiseer.

“Toe Jaco my bel om te vra of ek in die rol belang stel, het ek onvoorwaardelik en dadelik ja gesê.

“Ek dink nie daar is ’n akteur in ons land wat nié saam met hom wil werk nie. Maar ek het nie werklik geweet waarvoor ek my inlaat nie.”

Afgesien van die teks, is dit ’n rol wat fisiek uitput. En dan is daar ’n naaktoneel.

Die hele omvorming van ­woorde na klank wat dan ­oorneem, sleur jou mee. Ek dink ons as akteurs moet ook toelaat dat dinge oor ons spoel.
Gerben Kamper

“Ek doen nou op 65 iets wat ek liewer op 24 moes gedoen het. Dis moeilik om jouself so totaal bloot te stel.

“As dit nie was vir Antoinette [Kellermann] se ondersteuning nie, sou dit nog moeiliker gewees het. Ons ken mekaar al lank. En alles in die stuk het ondersteun wat ons doen.”

Volgens Kamper ontdek hy met elke opvoering iets nuuts in sy ­karakter.

“Dis amper ’n vyfdimensionele karakter. ’n Mens kan net nie ­ophou delf nie.”

Weens gevorderde dimensie, ­glo Samsa dat hy besig is om in ’n insek te verander. Juis weens sy gesondheid woon hy en sy vrou by sy dogter en haar man.

“Die stuk begin eintlik waar Samsa op sy oudste is. Maar in sy kop word hy al hoe jonger.

“Dis geweldig uitdagend om hom nie net as gogga voor te stel nie, maar met die menslike ­element daarby.

“Gehore is in die algemeen ­totaal verstom oor wat hulle op die verhoog sien. Van die terugvoering wat ons kry, is dat mense sê hulle het nie heeltemal verstaan wat aangegaan het nie, maar was gefassineer deur alles.

“Die hele omvorming van ­woorde na klank wat dan ­oorneem, sleur jou mee. Ek dink ons as akteurs moet ook toelaat dat dinge oor ons spoel. Ons ­benader soms ’n teks te analities.”

Weens die besonder groot en ­besonderse stel is dit nie ’n stuk wat maklik sal reis nie.

“Ons het dit ses keer by verlede jaar se KKNK opgevoer. Ek sou darem baie graag wou hê die mense in die noorde en die Vrystaat moet dit ook sien. Maar dis net te lekker om ’n regte speelvak te hê.”

Vir Kamper is hierdie rol die hoogtepunt van sy loopbaan. En as ’n mens na sy CV loer, is dit geen geringe stelling nie.

“Ek is net oneindig dankbaar dat ek nog die breinvermoë en die liggaamskrag het om dit te doen.”

Samsa-masjien is veelbekroon by die KKNK en spog ook met verskeie Fiësta-benoemings.

“Benoemings en pryse maak ’n mens nederig. Dit is wonderlik om vir werk wat jy doen, ­erkenning te kry.”

  Samsa-masjien is in die Baxter se Flipside-teater tot 31 Januarie. ­Bespreek by Computicket.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.